Wanvoeding: Talle kinders tu00e9 kort, tu00e9 maer
Wanvoeding: Talle kinders tu00e9 kort, tu00e9 maer

Wanvoeding: Talle kinders té kort, té maer

Namibië is hoog op die lys van kinders wat swak fisieke groei toon, en tweede in SADC met kinders wat te maer is.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Naas Botswana is Namibië die land in Suider-Afrika met die meeste kinders wat té maer vir hul lengte is.

Sowat 7,1% van Namibiese kinders is te maer, terwyl die syfer op 7,3% in Botswana staan.

Malawi het in dié opsig die beste syfer van 0,6%.

Volgens 'n verslag oor die toestand van voedsel-, voedingsveiligheid en -kwesbaarheid in Suider–Afrika deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se kwesbaarheidsassessering en -ontledingsprogram (RVAA), is Namibië ook hoog op die lys van kinders wat gebrekkige groei toon.

Die verslag is vroeër vandeesmaand uitgereik.

Tot 22,7% van Namibiese kinders is te kort vir hul ouderdom, terwyl die syfer op 21,4% in Suid-Afrika, 28,99% in Botswana en 14% in Mauritius is. Mosambiek se syfer is so hoog as 42,3%.

Dit is alles toe te skryf aan voedseltekorte of wanvoeding. Alhoewel armoede en 'n gebrek aan voedselsekuriteit voorheen reeds wydverspreid in Suider-Afrika voorgekom het, ervaar tot 5,5% méér mense vanjaar 'n gebrek aan voedselsekuriteit.

Dit kom neer op altesaam sowat 47,6 miljoen mense in tien lidlande, wat ook 34,3% méér as die vyfjaargemiddeld is – aldus die verslag.



TEIKEN

Volgens die verslag sal SADC nie die wêreldwye teiken behaal om teen 2030 'n 50% vermindering te hê in die aantal kinders wat gebrekkige groei toon nie – met die uitsondering van Zimbabwe, wat goed op dreef is.

“Tot 19 miljoen kinders in die SADC-streek toon gebrekkige groei, terwyl een uit elke drie kinders reeds te kort vir hul ouderdom is,” lui die verslag.

Verder word gesê SADC huisves sowat 'n derde van al die kinders in Afrika wat te kort vir hul ouderdom is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) meen elkeen van die 16 lidlande meet hoog of baie hoog op 'n maatstaf vir gebrekkige groei onder kinders.

“Die koste van wanvoeding in Afrika is gelyk daaraan om jaarliks tussen 8% tot 11 % van die bruto binnelandse produk (BBP) te verloor, terwyl belegging in voeding 'n gemiddelde opbrengs van US$16 bied vir elke US$1 wat betaal word,” lui die verslag.



VOEDINGSTEKORTE

In SADC is die voorkoms van ystertekorte in vroue van voortplantingsouderdom tussen 22% en 51%.

Die syfer is 20% en hoër in alle lidlande, wat daartoe bydra dat generasie ná generasie aan wanvoeding ly.

'n Syfer bó 20% is 'n openbare gesondheidsgevaar, volgens die WHO.

Graangebaseerde diëte word meestal oraloor die streek geëet, wat diversiteit in voedselinname verminder en ook die kans op tekorte in mikro-voedingstowwe kan lei.

Terselfdertyd is vetsug 'n groeiende probleem onder jong volwassenes en kinders.

“Dit is nie langer net 'n probleem vir ryk mense nie, maar kom nou onder armer mense voor wat groter toegang tot 'goedkoop kalorieë' in die vorm van vetterige kos of kos met baie suiker het.

“Alhoewel die voorkoms van vetsug steeds as laag in Namibië, Angola en Tanzanië beskou word, is die syfers besig om vinnig onder kinders in dié drie lande te styg. ”

Botswana, die Comore-eilande, Mauritius, Seychelle en Suid-Afrika val onder die groep lande met 'n medium voorkoms van vetsug.



WANVOEDING

Volgens die verslag het Covid-19 veral die situasie vir voedselsekuriteit in Suider-Afrika versleg.

Vroeë resultate van navorsing wat in die Ooste en Suider-Afrika gedoen is, dui daarop dat Afrikane veral tussen 2019 en 2020 hul diëte verander het na goedkoper, minder voedingsryke kos, terwyl daar ook meer ongesonde kosse geëet word en kinders 'n kleiner verskeidenheid tot hul beskikking het.

Gebrekkige groei veroorsaak onomkeerbare fisieke en kognitiewe skade, wat eindelik die ontwikkelingspotensiaal van 'n bevolking raak.

Suider-Afrika is wêreldwyd die gebied wat ekonomies gewys die ergste onder die Covid-19-pandemie deurgeloop het met 'n ekonomiese inkrimping van 7% in 2020.

“Die pandemie sal alle vooruitgang uitwis wat gemaak is in terme van die vermindering van armoede die afgelope twee dekades.”

Namibië is boaan die lys met 51,8% van kinders wat geen vrugte of groente in hul daaglikse diëte kry nie, gevolg deur Comore-eilande op 51,5% en Lesotho op 50%.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!