• Tuisblad
  • Sport
  • Warburton lei Leeus; CJ kry kans in tweede toets

Warburton lei Leeus; CJ kry kans in tweede toets

Afrigter Warren Gatland het drie veranderinge aangebring in sy beginspan wat die reeks lewendig moet hou.
Sam Warburton sal môre die Britse en Ierse Leeus in die tweede toets teen die All Blacks in Wellington aanvoer.

Rugby365.com berig Warburton vervang Peter O'Mahony in 'n beginspan wat drie veranderinge toon van die een wat met 30-15 in die eerste toets geklop is.

Maro Itoje vervang George Kruis op slot, terwyl Johnny Sexton op losskakel gekies is en Owen Farrell na binnesenter skuif in die plek van Ben Te'o.

O'Mahony, kaptein in die eerste toets, is heeltemal uit die groep van 23 vir môre se kragmeting gelaat, met CJ Stander wat 'n plek op die plaasvervangerbank losgeslaan het.

Die slot Courtney Lawes is ook as reserwe ingesluit ná 'n uitstekende vertoning Dinsdag teen die Hurricanes in 'n wedstryd wat met 31-31 gelykop geëindig het.

In die derde verandering op die bank neem die buiteagterspeler Jack Nowell by Leigh Halfpenny oor.

Volgens Warren Gatland, die Leeus se breier, moes hy 'n paar moeilike besluite neem in 'n poging om sake in die reeks gelyk te maak.

“Ons het Maro se impak in die eerste toets gesien en hy bring skerpheid en 'n fisieke teenwoordigheid na die tafel, so ook Sam Warburton in terme van die druk wat hy op teenstanders uitoefen,” sê Gatland.

“Dit is 'n taai een vir Peter O'Mahony wat briljante werk vir ons gedoen het. Ons moes na die plaasvervangerbank kyk en voel CJ Stander se vermoë as baldraer en verdediger was die regte keuse vir die bank.”

Gatland sê die kombinasie van Sexton en Farrell gee die Leeus 'n hupstoot op die aanval.

“Albei het sover goed vertoon en dit gee ons aanvallende opsies in die kanaal rondom nr. 10 en nr. 12.

“Ons het geleenthede in die eerste toets geskep en daar was 'n paar wat ons nie afgerond het nie.”



Britse Leeus: 15 Liam Williams, 14 Anthony Watson, 13 Jonathan Davies, 12 Owen Farrell, 11 Elliot Daly, 10 Johnny Sexton, 9 Conor Murray, 8 Taulupe Faletau, 7 Sean O'Brien, 6 Sam Warburton (kapt), 5 Alun Wyn Jones, 4 Maro Itoje, 3 Tadhg Furlong, 2 Jamie George, 1 Mako Vunipola.

Reserwes: Ken Owens, Jack McGrath, Kyle Sinckler, Courtney Lawes, CJ Stander, Rhys Webb, Ben Te'o, Jack Nowell.



All Blacks: 15 Israel Dagg; 14 Waisake Naholo, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane; 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith; 8 Kieran Read (kapt), 7 Sam Cane, 6 Jerome Kaino, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick; 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody.

Reserwes: Nathan Harris, Wyatt Crockett, Charlie Faumuina, Scott Barrett, Ardie Savea, TJ Perenara, Aaron Cruden, Ngani Laumape.



NORTH, HENSHAW UIT TOER

George North en Robbie Henshaw gaan die res van die Britse en Ierse Leeus se Nieu-Seelandse toer misloop.

Albei is beseer in Dinsdag se gelyk­opstryd van 31-elk teen die Hurricanes in Wellington. North het 'n dyspier geskeur nadat hy 'n drie gedruk het en Henshaw het 'n borsspier beseer. Hulle is terug Europa toe gestuur om van hul beserings te herstel.

North was een van die Leeus se groot uitblinkers toe hulle in 2013 vir Australië in 'n reeks verslaan het, maar hy het sedertdien 'n paar keer harsingskudding opgedoen en ook nie weer sy spelpeil na behore herwin nie.

Henshaw was net 20 minute op die veld vir die wedstryd teen die Hurricanes. Hy het in elk geval gesukkel om die toetsspan te haal.

Met net twee toetse oor op die toer is dit onwaarskynlik dat Gatland versterkings sal inroep, tensy daar nog beserings in môre se tweede toets is.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer