Warm? Hoe klink Iran se 74 u00b0C?
Warm? Hoe klink Iran se 74 u00b0C?

Warm? Hoe klink Iran se 74 °C?

Elvira Hattingh
Soms, wanneer jy elfuur die aand nog sit en sweet afvee en jou bed jou effe verkool laat voel, is dit moeilik om te glo Namibië tel nie onder die wêreld se warmste plekke nie.

Daar is net 'n sifdraad tussen Oshakati en die hel vandag, laat weet 'n grapjas.

Dis nag en dis 22 °C, sê Google, terwyl die waaier warm lug lusteloos rondstoot. Heen-en-weer, links en regs. Dit blits en donder in Windhoek, maar die reën . . . waar bly die reën?

Ons het egter blykbaar nog baie om voor dankbaar te wees. Ons kon byvoorbeeld in Iran gewoon het. In dié land se Dasht-e Loot-woestyn is die hoogste temperatuur van 70,7 °C tussen 2003 en 2009 gemeet.

Dis so warm dat niemand in hierdie skroeiende woestyn kan woon nie en dus is dié temperature met behulp van satelliete gemeet. Weten­skaplikes sê hierdie gebied het die warmste temperature op die grond in die wêreld.

Dan is daar ook Iran se stad Bandar-e Mahshahr waarvan die hitte-indeks die tweede hoogste op rekord is. Om die hitte-indeks uit te werk, word die lugtemperatuur en relatiewe humiditeit gekombineer. Só het die kwik in Julie 2015 in die stad op 74 °C te staan gekom.

In 1913 is 'n temperatuur van 56,7 °C in Amerika se Dooievallei in Kalifornië gemeet. Tans bereik temperature in die gebied gemiddeld 47 °C. Op plekke in Tunisië, Mali, Israel, Soedan, Ethiopië en Libië het die kwik ook al digby 60 °C gedraai.

Ons eie 38 °C of 40 °C of selfs 42 °C klink vir my nou heelwat beter. Al jaag die hittegolwe die nagmerries in my slaap rond.

Daar is ook 'n anderkant van die skaal. Die laagste temperatuur wat ooit op aarde gemeet is, was op die gevriesde bergrant van oostelike Antarktika naby die Suidpool.

Wetenskaplikes het deur die analise van data wat in 2013 deur satelliete ingesamel is, gevind dat temperature tot minus 93 °C gedaal het. Nuwe data het intussen bewys dat onder die regte omstandighede, dié temperature tot minus 100 °C kan daal – wat skynbaar die koudste is wat dit op die aarde kán raak.

Die slotsom is dat ons woestynland se temperature eintlik baie gematig is, al skroei die son jou soms tot daar niks oorbly nie. Al byt die winterkoue ook by tye.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!