Warner teken loopbaanbeste aan
Warner teken loopbaanbeste aan

Warner teken loopbaanbeste aan

Krieket
Andrew Poolman
David Warner het gister ’n loopbaanbeste 179 lopies aangeteken en was ook die dominante lid van Australië se hoogste eendagkrieket-vennootskap tot op hede.

Warner het saam met Travis Head (128) Australië tot 369/7 in sy toegelate 50 boulbeurte gehelp.

Die vennootskap, 284 lopies, was die tweede hoogste aanvangsvennootskap in die geskiedenis van wêreldkrieket. Warner se telling was die derde hoogste deur ’n Australiër in eendagkrieket.

Hy is op nul en 130 laat val. Dié kanse hy het ten volle benut deur 19 viere en vyf sesse in sy 128 balle by die Adelaide Oval te moker.

Warner was ook betrokke by Australië se vorige hoogste vennootskap toe hy en Steve Smith 260 lopies vir die tweede paaltjie teen Afghanistan in die 2015-Wêreldbeker aangeteken het.

Warner se sesde honderdtal van die seisoen het van net 78 balle gekom.

Hy was binne bereik van ’n dubbele honderdtal, maar het met krampe begin sukkel.

Hy is uiteindelik uit toe hy ’n aflewering van Junaid Khan direk na die veldwerker op punt geslaan het. Smith het in dieselfde beurt sy paaltjie verloor.

Head, wat tevrede was om tweede viool te speel, het drie sesse in sy beurt geslaan.

Pakistan se antwoord (312 almal uit), gelei deur Babar Azam (100) en Sharjeel Khan (79), was net genoeg vir ’n nederlaag met 57 lopies. Australië het in die proses die reeks met 4-1 beklink.

Die ongelukkige Hasan Ali was net die tweede Pakistanse bouler in die geskiedenis wat 100 lopies in ’n internasionale eendagwedstryd afgestaan het. – Reuters

Hoogste aanvangsvennootskappe in eendagkrieket

Sanath Jayasuriya en Upul Tharanga – 286 lopies in 2006 vir Sri Lanka teen Engeland in Leeds.

Travis Head en David Warner – 284 lopies in 2017 vir Australië teen Pakistan in Adelaide.

Tillekaratne Dilshan en Upul Tharanga – 282 lopies in 2011 vir Sri Lanka teen Zimbabwe in Pallekele.

Brendon McCullum en James Marshall – 274 lopies in 2008 vir Nieu-Seeland teen Ierland in Aberdeen.

Saurav Ganguly en Sachin Tendulkar – 258 lopies in 2001 vir Indië teen Kenia in die Paarl.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer