Warren Buffett en Apple: Is dit IBM van voor af?
Warren Buffett en Apple: Is dit IBM van voor af?

Warren Buffett en Apple: Is dit IBM van voor af?

Hanlie Stadler - Warren Buffett maak nie baie foute nie, maar dit lyk asof tegnologie maar net nie sy ding is nie.

Die 32%-daling in Apple se aandeelprys sedert Oktober 2018 het Berkshire Hathaway volgens CNBC nagenoeg $2,8 miljard gekos.

Berkshire het in 2016 sy eerste hap aan Apple gevat toe hy $1 miljard in die maatskappy belê het. Toe was Apple se aandeelprys minder as $100 werd – Woensdag het dit op $157,92 gesluit.

Die maatskappy het teen September verlede jaar 252 miljoen Apple-aandele besit, ’n belang van nagenoeg 5%, volgens Bloomberg.

Die “verlies” van $2,8 miljard is net teoreties aangesien dit onbekend is teen watter prys Berkshire al die aandele bekom het en omdat die maatskappy nog nie die aandele verkoop het nie.

Buffett (88) is die uitvoerende voorsitter van die beleggingsbeheerfirma wat onder meer belange in Coca-Cola (9,4%), American Express (17%) en Kraft Heinz (26,7%) besit, asook beherende belange in BNSF Railway, Lubrizol en honderde ander filiale, volgens Investopedia.

Buffett het tegnologie-aandele dekades lank vermy omdat dié legendariese belegger van Omaha, Nebraska, gesê het hy wil nie belê in iets wat hy nie verstaan nie.

Hy het ook al gesê dis te moeilik om aan die begin van ’n tegnologiefirma se bestaan te bepaal of die maatskappy ’n mededingende voordeel het wat hom sal laat groei, berig Investopedia.

Buffett is ’n waardebelegger wat vroeg in maatskappye wil belê wanneer hul aandeelprys relatief laag is, en dan hou hy daarvan om lank belê te bly.

Buffett se eerste eksperiment met tegnologie-aandele was ’n enorme mislukking. Hy het in 2011 meer as $19,7 miljard in IBM belê. Berkshire het sy belang in IBM in 2017 en 2018 verkoop.

Berkshire het sy 64 miljoen aandele in IBM teen gemiddeld $170 per aandeel gekoop en volgens Berkshire-jaarverslae tussen $153 en $174 per aandeel daarvoor gekry toe hy dit verkoop het.

Rupert Hargreaves, beleggingsontleder van GuruFocus, raam dat Berkshire ’n kapitaalverlies op die aandele gely het, maar tog ’n positiewe totale opbrengs van nagenoeg 5% behaal het danksy die stewige dividende wat IBM betaal het. IBM is nou nagenoeg $144 per aandeel werd.

Apple is om die verkeerde redes in die nuus nadat Tim Cook, sy uitvoerende hoof, in ’n buitengewone brief aan beleggers geskryf het iPhone-verkope taan. Die maatskappy se verwagting vir sy inkomste in die Kersfees-kwartaal – die eerste van Apple se boekjaar – is nou 5% laer as in dieselfde kwartaal van 2017.

Buffett is die derde rykste mens ter wêreld met ’n geraamde netto batewaarde van $83,3 miljard. Hy het in 2018 nagenoeg $2,41 miljard “armer” geword, volgens Bloomberg se lys van die 500 rykste mense.

Jeff Bezos, stigter van Amazon, is die rykste mens ter wêreld met ’n fortuin wat Donderdag op $128 miljard gestaan het, en Bill Gates, stigter van Microsoft, is tweede met $90,4 miljard. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!