Warriors doen laaste slypwerk

Ondanks nuwe Covid-regulasies in die RSA sal die Konfederasie van Suider-Afrikaanse Sokkerverenigings (Cosafa) se beplande toernooi voortgaan.
NAMPA
Die Brave Warriors het gisteroggend na Port Elizabeth vertrek waar die Namibiese sokkerspan ter voorbereiding op die komende 2021 Cosafa-toernooi gaan kamp opslaan.

Bobby Samaria (hoofafrigter) en die 35 spelers het sewe dae grasie om hul finale verstellings te doen voor die toernooi op 6 Julie afskop.

Die spanbestuurder, Tim Isaacs, sê die Warriors sal Saterdag ’n vriendskaplike wedstryd teen Lesotho speel.

“Ons sal voortgaan met voorbereiding in Port Elizabeth en dit sluit ’n uitstappie teen Lesotho in. Ná dié botsing sal die afrigter sy finale groep van 25 spelers uitkies wat in die toernooi sal speel,” het Isaacs gesê.

Ten spyte van president Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondag dat Suid-Afrika opnuut aan vlak 4-inperkings onderwerp word, het Cosafa intussen bevestig die kompetisie sal soos beplan gespeel word.

Volgens ’n verklaring van Cosafa wat gister vrygestel was, mag professionele sport voortgaan indien die nodige voorsorgmaatreëls toegepas word. Die verklaring sê ook daar is geen reisbeperking tussen provinsies en die Internasionale Lughawe Oliver Tambo nie.

“Cosafa het reeds streng Covid-19-protokol begin toepas om al die rolspelers en spelers se veiligheid te verseker. Al die wedstryde sal sonder toeskouers agter geslote deure gespeel word,” sê die verklaring.

Die Brave Warriors is in groep C saam met Zimbabwe (huidige titelhouer), Senegal (nommer een in Afrika) en Mosambiek geplaas.

Die toergroep:

Doelwagters: Loydt Kazapua, Virgil Vries, Edward Maova, Kamaijanda Ndisiro.

Verdedigers: Teberius Lombardt, Kennedy Amutenya, Larry Horaeb, Ananias Gebhardt, Immanuel Heita, Riaan Hanamub, Ivan Kamberipa, Emilio Martin, Amazing Kandjii, Aprocius Petrus, Charles Hambira.

Middelveldspelers: Deon Hotto, Dynamo Fredericks, Ambrosious Amseb, Wendel Rudath, Quinton van Staden, Gustav Isaak, Llewellyn Stanley, Absalom Iimbondi, Marcel Papama, Prins Tjiueza, Willy Stephanus, Alfeus Handura, Wesley Katjiteo.

Voorspelers: McCartney Nawaseb, Sadney Urikhob, Elmo Kambindu, Isaskar Gurirab, Joslin Kamatuka, Junior Theophilus, Salomon Omseb.

– Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer