Warriors neem wapenrusting op vir felste stryd
Sokker
Tielman van Lill – Namibië se Tafel Lager Brave Warriors sal vanaand in Kameroen by die Limbe-stadion in groep D teen Guinee vir hul eerste kragmeting van die Afrika-Nasieskampioenskap (CHAN) op die veld stap.
Kommer oor die veiligheidsituasie in die oorloggeteisterde gebied is gewis nog nie ten volle besweer nie, nadat ’n bomaanval twee dae voor laas Saterdag se openingswedstryd skade aangerig en verskeie voertuie vernietig het.
Te midde van streng sekuriteitsmaatreëls word die risiko vir Namibië se wedstryd vanaand (20:00 in Kameroen, 19:00 Namibiese tyd) nie as hoog gereken nie. Die ontmoeting word drie ure tevore voorafgegaan deur Zambië teen Tanzanië.
Die Warriors se waarnemende afrigter van die afgelope jaar, Bobby Samaria, sal hoop om in die voetspore van sy voorganger Ricardo Mannetti te volg, wat drie jaar gelede met die land se debuutverskyning by die CHAN-toernooi tot die kwarteindronde gevorder het.
Die nasie is inderdaad in afwagting om te sien watter spelers vanaand na vore tree om die verskil te maak, net soos wat manne soos Charles Hambira, Panduleni Nekundi en Absalom Iimbondi in 2018 in Marokko op die deurslaggewende oomblikke met waardevolle doele reggekry het.
Samaria en die spankaptein, Dynamo Fredericks, was gister aan die woord by ’n nuuskonferensie in die stad Limbe.
Hoewel Namibiese klubs vir die afgelope 18 maande geen aktiewe premierligasokker gespeel het nie, voel Samaria sy spelers is gemotiveerd om Afrika se bestes te pak.
“Ons het 18 maande laas professionele sokker in die land gespeel. Tog het ons suksesvol daarin geslaag om vir die Afrika-Nasieskampioenskap te kwalifiseer.
“Ons is hier om teen lande te kompeteer wat in die bevoorregte posisie was om wel ’n plaaslike liga te hê. Maak nie saak wat na ons kant toe gegooi word nie, ons is altyd gereed om vir ’n geveg op te daag.
“Daar is geen twyfel in my gemoed dat ons Namibië tot die beste van ons vermoëns gaan verteenwoordig nie. Ons het einde Desember met die tweede fase van ons voorbereidings begin. Elf van die oefengroep, insluitend ’n beampte van ons afrigtingspan, is positief getoets vir Covid-19. Die elf van die oefengroep is onmiddellik vir tien dae in afsondering geplaas.
“Ná die isolasietydperk is die groep weer getoets en genadiglik was almal negatief. Intussen het ons onverpoos ons voorbereiding hervat om nie momentum te verloor nie.
“Die afwesigheid van die spelers vir bykans twee weke het wel ons planne beïnvloed. Ons sal nou fokus op vier oefensessies om tegniese aspekte onder die knie te kry.
“Vir enige span is die eerste wedstryd in ’n kompetisie van kardinale belang om goed weg te spring. Die mense moet kom kyk en dan besluit hoeveel ons van Guinee weet.
“Ons mikpunt is om die wedstryd te wen. Daar is geen afrigter in die wêreld wat nie met die instapslag sy merk met ’n oorwinning wil maak nie.
“Feitlik al die spelers is fiks vir die wedstryd teen Guinee. Net een speler wat beseer was, sal nie vir Guinee oorweeg word nie.”
Kaptein Fredericks sê die spelers is geestelik reg ingestel om hul teenstanders in Limbe te klop.
“Dit is vir ons ’n voorreg en eer om hier in Kameroen vir CHAN te wees. Ons het laas in 2019 teen Guinee in die Afcon-kompetisie gespeel. Hul hele span was en is steeds professionele spelers. Hulle het ’n sterk span.
“Ofskoon ons hulle as teenstanders respekteer, sal daar op die veld geen genade betoon word nie.
“Ons is hier om ons talent ten toon te stel en die kompetisie in te palm. Die Warriors is nie in Kameroen om bloot deel te neem nie. Die span is hier om deeglike rekenskap van onsself te gee.
“Die spelers sal hul beste teen Guinee lewer en ons is oorgehaal om die botsing te wen,” het Fredericks verduidelik.
Al die Namibiese spelers asook tegniese personeel is gister aan twee Covid-19-toetse onderwerp en almal se uitslae was negatief.
Namibië se volgende uitstappie is Saterdag teen Tanzanië by dieselfde venue.
In die openingswedstryd het Kameroen Saterdag vir Zimbabwe met 1-0 in die openingswedstryd verslaan. Ander uitslae sover is: Mali klop Burkina Faso 1-0; Libië en Niger speel met 0-0 gelykop; Demokratiese Republiek die Kongo met met 1-0 teen Kongo 1-0.
Die groepe is:
Groep A: Kameroen, Mali, Burkina Faso, Zimbabwe.
Groep B: Libië, DRK, Kongo, Niger.
Groep C: Marokko, Rwanda, Uganda, Togo.
Groep D: Guinee, Namibië, Tanzanië, Zambië.
Die Brave Warriors-groep van 28 in Kameroen is: Edward Maova, Ratanda Mbazuvara, Kamaijanda Ndisiro, Charles Hambira, Jonas Mateus, Emilio Martin, Vitapi Ngaruka, Ivan Kamberipa, Pat-Nevin Uanivi, Aprocious Petrus, Gregory Aukumeb, Johannes Mutanga, Erasmus Ikeinge, Alfeus Handura, Dynamo Fredericks, Absalom Iimbondi, Immanuel Heita, Ambrocius Amseb, Wendell Rudath, Gustav Isaak, Llewelyn Stanley,Wesley Katjiteo, Brandon Neibeb, Marcell Papama, Panduleni Nekundi, Isaskar Gurirab, Deryl Goagoseb, Elmo Kambindu.
Volgens die toernooi se organiseerders mag 25 persent van die stadions se sitplekke te midde van Covid-19-beperkings gevul word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie