Warriors reg vir Chipolopolo
Warriors reg vir Chipolopolo

Warriors reg vir Chipolopolo

Die vriendskaplike wedstryd vorm deel van afrigter Bobby Samaria se latere beplanning.
NAMPA
Die Tafel Lager Brave Warriors is reeds hard aan die slyp vir hul vriendskaplike wedstryd Saterdag as deel van die Hage Geingob-beker teen Zambië se nasionale span, Chipolopolo (die Koperkoeëls), in die Sam Nujoma-stadion in Katutura.

Bobby Samaria, hoofafrigter van Namibië, het 'n oefengroep van 24 spelers gekies wat sedert gister by die stadion begin oefen het. Behalwe vir Hendrik Somaeb was al die spelers volgens Nampa by die afgelope oefeninge teenwoordig.

Benson Shilongo, wat tans in Egipte sokker speel, het ook by die oefengroep aangesluit. Die Egiptenare bied op die oomblik die o.23-Afrika-Nasiesbeker aan en dus neem hul na­sionale liga waarin Shilongo se klub ook betrokke is, 'n blaaskans.

Samaria sê hy het voorkeur gegee aan plaaslike spelers vir die eenmalige botsing teen Zambië. Hy sal glo later vandeesmaand die buitelandse spelers vir die kwalifiserende botsings vir die Afrika-Nasiesbeker (Afcon) betrek.

Weens die Namibiese Premierliga wat nog nie vir die nuwe seisoen afgeskop het nie, sê Samaria van die plaas­like spelers se fiksheid kan 'n goeie hupstoot met die kragmeting teen Chipolopolo kry.

Die afrigter het ook twee tydelike tegniese raadgewers by sy afrigting­span betrek, naamlik Sparks Gotlieb om met die doelwagters te werk, asook me. Donatha Ngunovandu as mediese beampte.

“Zambië sal hul topspan bring wat vir die 2020 Chan-kampioenskap in Kameroen gekwalifiseer het.

“Dit is belangrik dat ons die Warriors as 'n eenheid bymekaar hou, want dan kan ons sien of ons die regte spelers vir die toernooi het.

“In die gees van die kompetisie het ek besluit om Sparks en Donatha vir die Hage Geingob-beker te gebruik. Die twee is bekwame Namibiërs en hul ervaring voeg waarde tot die Warriors in die gees van inklusiwiteit, wat ons president ook aanmoedig,” het Samaria verduidelik.

Die oefengroep:

Doelwagters: Edward Maova, Ratanda Mbazuvara, Calvin Spiegel, Charles Uirab.

Verdedigers: Vitapi Ngaruka, Emilio Martin, lvan Kamberipa, Pat-Nevin Uanivi, Aprocius Petrus, Gregory Auchumeb, Larry Horaeb en Tjiuna Tja Tjatinda.

Middelveldspelers: Dynamo Fredericks, Immanuel Heita, Wendell Rudath, Obrey Amseb, Gustav Isaack, Llewelyn Stanley, Marcel Papama, Absalom Iimbondi.

Voorspelers: Benson Shilongo, Elmo Kambindu, Panduleni Nekundi, Isaskar Gurirab, Mapenzi Muwanei. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer