Warriors verloor bekerwedloop

Sokker
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die Young Warriors, Namibië se nasionale o.20-span, wat aan die 2017 o.20 Cosafa-bekerkampioenskap in Kitwe, Zambië, deelgeneem het, is ná Dinsdag se gelykopstryd teen Zimbabwe op pad huis toe.

Vir beide Namibië en Zimbabwe was dit maak of breek om te wen om tot die semifinaal te kan vorder, maar ongelukkig het dié doellose stryd nie in die guns van die Warriors getel nie. Die botsing wat in gietende reën gespeel is, is deur Zimbabwe met 87 persent balbesit in die eerste helfte oorheers wat ‘n uitstekende getuigskrif van die Namibiërs se verdediging is. Beide spanne het tot en met rustyd twee kanse gehad om die doelnet te tref, maar kon nie die geleentheid in punte omskep nie.

In die tweede helfte het afrigter Gerald Gunther se manne meer besit gekry en herhaaldelik aangeval. Om meer slaankrag op die aanval te kry, het Gunhter vir Enzo Mungendje in die plek van Petrus Kamati in die 60ste minuut opgestuur. Veertien minute later het die breier uit desperaatheid vir Romario Hawiseb met Rivaldo Festus vervang wat Namibië se solo-doel teen Lesotho behaal het.

Maar met slegs 16 minute amptelike speeltyd oor kon die Warriors nie daarin slaag om Zimbabwe te uitoorlê nie en moes tevrede wees om derde in Groep C te eindig. Lesotho wat eerste in Groep C geëindig het, sal vandag teen Uganda se Hippos, wat Groep A gewen het, in die eerste semifinaal by die Nkana-stadion in Kitwe aandurf.

Suid-Afrika (Amajita) wat Groep B ingepalm het, sal teen Egipte in die ander semifinaal by dieselfde stadion te staan kom. Die Egiptenare het as die beste naaswenners na vore getree toe hulle tweede in Groep B klaargemaak het.

In Groep C het Angola met vyf punte oorheers terwyl Zimbabwe tweede (ook vyf punte) geplaas is. Namibië is met vier punte derde en Angola laaste met een punt.

Hoop vir die toekoms

Dit is voor die hand liggend dat Gunther teleurgesteld in sy span se eksodus is, maar voorsien verbetering in die toekoms.

“Al die botsings was kliphard gewees met die meer ervare lande wat ons nie ‘n duim spasie gegun het nie. Indien ons in die ander wedstryde met dieselfde intensiteit soos vandag gespeel het, kon ons eerste in Groep C geëindig het. Die spelers het vandag soos ware vegters gespeel, maar in sokker moet jy konstant kan vertoon en dit is waar ons sal moet verbeter. Ons het hard gewerk en gaan voortgaan om in die toekoms te verbeter,” het die breier Dinsdag ná die kragmeting gesê.

Die kanse is goed dat Amajita hul semifinaal teen Egipte kan wen. Indien die Suid-Afrikaners soos Maandag speel toe hulle van agter moes inhaal om die einste Egipte met 2-1 te wen, kan hulle sekerlik Saterdag in die eindstryd opstap. Die Pharos het in die eerste helfte hul doel aangeteken terwyl kaptein Thendo Mukumela se span eers in die 60ste en 71ste minuut die doelkas kon opspoor.

Die verdedigende kampioen, Zambië, is reeds Maandag uitgeskakel nadat hy sy enigste oorwinning van 2-0 in Groep A teen Swaziland kon behaal het om derde met vier punte in sy groep te eindig. Uganda, wat op uitnodiging deelneem, is eerste met vyf punte (doelverskil +2), Malawi tweede met vyf (doelverskil +1) en die Swazi's laaste met een punt.

In Namibië se ander twee groepwedstryde het hy teen Angola met 1-0 gewen en 2-1 teen Lesotho verloor.

Groep A: Uganda 5 (+2), Malawi 5 (+1), Zambië 4 (0), Swaziland 1 (-3). Groep B: Suid-Afrika 9 (+4), Egipte 6 (+2), Mosambiek 3 (0), Mauritius 0 (-6). Groep C: Lesotho 5 (+1), Zimbabwe 5 (+1), Namibië 4 (0), Angola 1 (-2). - Bykomende inligting Nampa/nfa.org.na

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!