Was Saftu-staking ’n sukses? Menings verskil
Hanlie Stadler - ’n “Historiese keerpunt” of “ondoeltreffend”. Dis twee van die uiteenlopende sienings oor Woensdag se landwye staking deur die vakverbond South African Federation of Trade Unions (Saftu).
Die National Employers’ Association of South Africa (Neasa) sê uiteindelik is net 23% van klein en mediumgrootte ondernemings (KMO’s) deur die staking geraak en net 7,8% moes hul deure heeltemal sluit.
Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, beskryf die staking as “ondoeltreffend”.
Neasa verteenwoordig nagenoeg 350 ondernemings, die meeste van hulle KMO’s.
Die finale uitslag van Neasa se peiling is dat 66% van werkgewers glad nie deur die staking geraak is nie. (Gisteroggend, terwyl die betogings nog voortgeduur het, was die voorlopige persentasie 65%.)
“Die opkoms van gister se protesoptrede toon weer dat vakverbonde sal moet wegbreek van hul sosialistiese en ekonomiese vyandige beleid as hulle relevant wil bly,” sê Papenfus in ’n verklaring.
By die 23% van ondernemings waar werkers wel afwesig was, was gemiddeld die helfte van werkers afwesig. By net 7,8% van ondernemings was ál die werkers afwesig.
Papenfus sê almal was nie weens die staking afwesig nie – afwesigheid is tans hoër weens die voortslepende staking van busbestuurders landwyd. Dié staking loop waarskynlik vandag ten einde.
Papenfus sê die “onderweldigende opkoms” vir die betogings teen die nasionale minimum loon bewys vir hom dat Suid-Afrikaners “vertroue en belangstelling in vakverbonde verloor het omdat hulle besef hul lot kan nie deur retoriek, onrealistiese eise en ekonomies vyandige beleid bepaal word nie.”
Papenfus sê hoër opvoedingsvlakke onder jong mense kan bydra tot hul “vermoë en begeerte om vir hulself te onderhandel”.
Papenfus wys daarop dat vakverbonde “onder enorme druk is om hul lede te behou, wat nog te sê dit uit te brei”.
Dis ’n waarskuwing dat stakings in die vervolg gereelder of gewelddadiger sou kon word indien die stryd tussen Saftu, Cosatu en Fedusa feller word.
Die oorlogpraatjies deur Saftu, wat die vakverbonde Cosatu en Fedusa daarvan beskuldig dat hulle in Nedlac “uitverkoop” het deur die nasionale minimum loon te aanvaar, duur egter voort.
HISTORIESE KEERPUNT
In ’n verklaring beskryf Saftu self die staking as ’n “historiese keerpunt” en hy kap die vakverbonde wat hulle daarvan gedistansieer het.
“Die betogers het ’n donderende waarskuwingskoot aan die regering, werkgewers en liefling-vakbonde se leiers gelewer dat die mense van Suid-Afrika woedend gekant is teen die voorgestelde minimum loon van R20 per uur, wat armoede verskans, apartheid se loongaping aanvaarbaar maak en duisende werkers sal vashou in ’n daaglikse stryd om te oorleef, hul gesinne te voer en vir hul kinders se opvoeding te betaal.”
Saftu wil hê die loon, sowel as voorgestelde wysigings aan arbeidswette, moet heronderhandel word noudat Saftu ook tot Nedlac behoort. Saftu bestaan nou maar ’n jaar, terwyl die onderhandelinge al meer as twee jaar duur.
Saftu kap Cosatu, Fedusa en Nactu omdat hulle “agter werkers se rug onderhandel het en saam met die regering en sakesektor geteken het”.
Cosatu het ter elfder uur die nasionale minimum loon ondersteun, nadat pres. Cyril Ramaphosa, toe nog adjunkpresident, ingetree het.
Saftu dreig hy sal deelneem aan hofsake teen dele van die nuwe wette, wat onder meer geheime stemmings oor of werkers wil staak, sal moontlik maak.
Saftu steun ’n minimum loon van R12 500 – die bedrag wat as minimum loon vir mynwerkers bepleit is ten tyde van die Marikana-oproer in 2012.
Cosatu hou op Werkersdag, 1 Mei, optogte landwyd, ook teen die minimum loon. Cosatu beskou die minimum loon nog nie as ’n bestaansloon nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie