Wat beteken nuwe olieveld vir SA?
Aldi Schoeman – Die gas en olie wat in die Brulpadda-veld aan die Suid-Kaapse kus ontdek is, sou die hele land vir vier jaar lank van petrol en diesel kon voorsien, sê Niall Kramer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Olie-en-gas-alliansie.
Aan wie dit verkoop gaan word, teen watter prys en wanneer dit gaan gebeur, is egter alles nog vrae sonder duidelike antwoorde.
Total self sê dit kan nog sowat vyf jaar duur voordat hulle met produksie begin – as hul verdere prospektering wys dit is ekonomies lewensvatbaar om wel te ontgin.
Intussen, sê Kramer, kan Suid-Afrika die tyd gebruik om gereed te maak. Twee moontlike kopers is PetroSA en gaskragstasies.
Volgens Kramer raak die 1 tcf (triljoen kubieke voet) wat PetroSA by Mosselbaai ontgin nou op en word net 45% van wat PetroSA se lisensie toelaat daar ontgin. Hulle is dus ’n potensiële koper van die beraamde 5 tcf tot 6 tcf wat in die Brulpadda-veld ontgin kan word.
Die tweede moontlike koper is bestaande en nuwe kragstasies. Kramer sê bestaande kragstasies soos die Gourikwa, wat diesel gebruik om in spitstye krag op te wek en die impak van beurtkrag te verminder, kan omgeskakel word om eerder gas te gebruik.
Die jongste weergawe van die geïntegreerde hulpbronplan (IRP 2018) wys dat sowat 16% van Suid-Afrika se krag teen 2030 uit gas opgewek moet word. Kramer sê gas kan gebruik word wanneer son en wind weens weersomstandighede nie beskikbaar is nie.
“Ons moet nou die tyd gebruik om te sorg dat die regte beleid, vaardighede en infrastruktuur ingestel word,” sê Kramer.
“Wanneer ’n groot bron gevind word, gebeur dit dikwels dat die voordeel daarvan nie op ’n gelyke wyse na al die mense versprei word nie. Ons moet dit vermy,” sê hy.
· Wat beleid betref, moet Noorweë eerder nagestreef word as Venezuela. Noorweë het in die 1960’s ’n klein ekonomie gehad wat op visserye gebou is. ’n Groot olieveld is egter ontdek en ’n behoorlike plan uitgedink om dit op ’n regverdige wyse te ontgin. ’n Gedeelte van die opbrengs daarvan finansier nou nog hul maatskaplike toelaes. In teenstelling ly mense in Venezuela honger.
· Wat vaardighede betref, het Suid-Afrika meer ingenieurs en gevorderde tegniese vaardighede nodig. Volgens Kramer moet ons nie bang wees om mense met dié vaardighede van die buiteland te kry sodat hulle Suid-Afrikaners kan oplei nie. Meer tegnici en ambagsmanne is nodig. Dié vaardighede kan betyds plaaslik gevestig word “as ons fokus”.
· Wat infrastruktuur betref, moet onder meer gaskragstasies beplan word, asook pypleidings en geriewe by hawens.
Kramer sê die groot rede waarom hierdie vonds so opwindend is, is dat dit maatskappye met lisensies in omliggende water kan aanspoor om ook te begin ontgin. Hy sê daar is al meer as 300 keer in vlak water aan die Suid-Afrikaanse kus geboor, met gemengde sukses. Dit is die eerste keer dat in die diepsee geboor word – dié keer met groot sukses.
Volgens inligting op die Petroleumagentskap van Suid-Afrika se webblad, het Exxon Mobil en Silver Wave Energy lisensies om in omliggende water te ontgin.
Bly realisties
Dave Wright, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Energievereniging, sê dit is belangrik om realisties te bly. “Total staan nou maar eers aan die begin van die proses.”
Total het 2D- seismiese data ingesamel en op grond daarvan suksesvol geboor. Nou wil hy 3D-data insamel en weer ’n keer boor “om ’n beter idee te kry van die vorm en aard van die reservoir, en eers as hulle besluit dit is ekonomies lewensvatbaar, begin ontwikkeling”.
Wanneer ’n groot bron gevind word, gebeur dit dikwels dat die voordeel daarvan nie op ’n gelyke wyse na al die mense versprei word nie. Ons moet dit vermy.
Niall Kramer
Wright sê die produk – wat gas of olie kan wees – sal nie noodwendig plaaslik verkoop word nie. Dit kan ook internasionaal verkoop word. Suid-Afrikaanse kopers sal dit ook nie teen ’n afslagprys kry nie, maar sal mededingende pryse moet betaal, sê hy.
“Vervoer sal wel goedkoper wees, wat dit goedkoper kan maak as om in te voer.”
Wright sê gas is ’n belangrike deel van ons land se toekomstige energiemengsel omdat gaskragstasies buigsaam is.
Windkrag- en sonkragenergie is onbetroubaar omdat die wind nie altyd waai nie en die son nie altyd skyn nie. Wanneer dié skoon opsies nie beskikbaar is nie, kan gaskragstasies vinniger aangeskakel word as steenkool- en kernkragstasies, wat nie kan help as die weer nie saamspeel nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie