Wat broei by Edgars-groep?
Wat broei by Edgars-groep?

Wat broei by Edgars-groep?

Dit is die tweede keer sedert 2016 dat Edcon moet herkapitaliseer.
Nellie Brand-Jonker – Het die sukkelende Edcon-groep wat vir Edgars en Jet besit 'n belangrike sperdatum vir sy skuld gemis?

Die groep, wat onder meer Edgars besit, het uitstel gehad tot einde Januarie van banke en ander krediteure om die grootste deel van sy skuld terug te betaal.

Dit is nie duidelik of dit wel gebeur het nie, maar vakbonde wag gespanne op nuus oor ’n reddingsplan.

Netwerk24 het verlede Maandag berig Edcon swyg oor die besonderhede van gesprekke met “belangegroepe” oor ’n reddingsplan om sy deure oop te hou. Hy het by navraag bloot gesê hy “vorder”.

Edcon het die kommentaar gelewer nadat die klerewerkersvakbond Sactwu Maandag in ’n verklaring hernude kommer uitgespreek het oor werkverliese as die maatskappy se finansieringskrisis “nie binne die volgende dag opgelos word nie”.

Sactwu wou niks verklap oor waarom hy dié spesifieke datum noem nie.

Hoeveel skuld is ter sprake?

Herkapitalisering gebeur wanneer ’n maatskappy sy kapitaalstruktuur verander.

Dit is die tweede keer sedert 2016 dat Edcon moet herkapitaliseer. In 2016 het banke en skuldbriefhouers aandele in hom gekry in ruil vir die geld wat aan hulle geskuld word. Dié stap het sy skuld dramaties verminder.

Einde Maart 2016 het hy R25 miljard se skuld gehad. ’n Jaar later, ná die herkapitalisering, het sy skuld R3,8 miljard beloop. Teen einde Maart verlede jaar het dit weer tot R6,2 miljard gespring.

Luidens sy jongste resultate, wat in September uitgereik is, moes die grootste deel van dié skuld einde September 2018 terugbetaal word.

’n Termynlening van R2,2 miljard wat einde September terugbetaal moes word, is tot 31 Januarie uitgestel met die potensiële verlenging daarvan tot einde Maart.

Nog ’n wentelkredietgerief van R1,8 miljard wat einde September moes verval, is ook verleng tot einde Januarie met die moontlikheid om dit outomaties te verleng tot einde Maart onder sekere voorwaardes.

Die Sunday Times het in Desember berig die winkelgroep is op die punt om gelikwideer te word en het winkelsentrums gevra om hul huurgeld te verlaag in ruil vir ’n belang in Edcon.

Net voor Kersfees het Edcon sy laaste amptelike kommunikasie aan beleggers gerig op die oorsese markte waar sy skuldbriewe genoteer is.

Daarin het Grant Pattison, uitvoerende hoof, gesê: “Die herstrukturering en die herkapitalisering van Edcon het sy volgende hindernis omseil. Die direksie het die struktuur goedgekeur van die voorgestelde plan om hom te herkapitaliseer.

“In reaksie daarop het sy leners die uitstel wat gegee is, verleng sodat hy tyd het om die plan in werking te stel.”

Of dié uitstel verband hou met die 31 Januarie-sperdatum is onseker omdat Edcon nog nie kommentaar gelewer het op 'n vraag in die verband nie.

Die Sunday Times het op 20 Januarie berig ’n “nie-bindende ooreenkoms is met ongeïdentifiseerde beleggers bereik om Edcon te herkapitaliseer en te voorkom dat hy sommige van sy ondernemings moet verkoop”. Volgens die koerant is ooreengekom op basiese voorwaardes en was Edcon in die proses om die besonderhede af te handel.

Op 23 Januarie het Bloomberg berig volgens bronne is Edcon in gesprekke om tot R3 miljard se finansiering te kry. Die bronne het gesê die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) kan moontlik sowat R1,8 miljard daarvan verskaf.

Eiendomsmaatskappye by wie Edcon winkelruimte huur, sou deur hul huurgeld te verlaag R700 miljoen bydra en banke sowat R500 miljoen.

Sekgoela Sekgoela, woordvoerder van die OBK, het hierop gesê ’n voorstel is van Edcon gekry en ’n besluit sal geneem word nadat dit deur sy beleggingsproses is.

Die bohaai deur vakbonde die afgelope week is dalk ’n poging om druk op die OBK uit te oefen sodat hy vinniger ’n besluit neem.

Die OBK bestuur die geld van die staatspensioenfonds (GEPF) en Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

Sactwu, wat werkers verteenwoordig in die klerefabrieke by wie Edcon klere koop, en Saccawu, wat van die werkers in winkels verteenwoordig, het einde Januarie ’n voorlegging aan die WVF se direksie gedoen om finansiering vir Edcon te probeer verkry.

Sactwu sê dit was op dié voorlegging, waar Edcon ook was, duidelik dat finansiering “uiters dringend” gekry moet word.

Einde Januarie het Bloomberg berig Edcon “maak vordering” om R3 miljard te kry om hom aan die gang te hou. “Die goedkeuringsproses vorder vinnig,” het Pattison gesê. Daar is “geen rede om te glo dit is nie op koers nie”.

Dit was twee weke gelede.

Sactwu het ’n beroep op die WVF en die OBK gedoen om die finansiering vir die reddingsplan te versnel.

Verlede week het die vakbond Nehawu ook gesê hy is uiters bekommerd oor die moontlikheid dat Edcon sy deure kan sluit. Volgens Nehawu het die WVF reeds ’n belegging in Edcon goedgekeur, maar die proses word deur die OBK vertraag.

Syd Vianello, ’n onafhanklike kleinhandelontleder, het voorheen aan Bloomberg gesê Edcon loop al geruime tyd op die rand van die afgrond.

“Die bestaande aandeelhouers is daar nie omdat hulle daar wil wees nie en die banke is huiwerig om meer kontant te gee weens Edcon se geskiedenis.”

Hoekom moet hy gered word?

Sowat 40 000 mense werk vir die maatskappy, hy het ’n verskaffingsketting wat 750 maatskappye insluit en vloerruimte wat ’n tiende van winkelsentrums in die land beslaan – die meeste vir ’n enkele maatskappy, berig Bloomberg.

As Edcon vou, gaan die werkloosheidskrisis in die land vererger en eiendomsmaatskappye se inkomste uit verhuring gaan val.

Moody’s het reeds vandeesweek, toe hy Hyprop, wat Canal Walk in Kaapstad besit, se skuld tot niebeleggingsgraad afgegradeer het, verwys na die omvang van Edcon in sy portefeulje.

Ontleders het aan Bloomberg gesê dit skep ’n “gevaarlike presedent” dat ’n winkelgroep gered moet word wie se probleme spruit uit ’n transaksie met ’n private-ekwiteitskoper.

Edcon sukkel met ’n reuseskuldlas sedert die Amerikaanse beleggingsmaatskappy Bain Capital in 2007 ander aandeelhouers uitgekoop het. Die transaksie is met skuld gefinansier.

“Dit is nodig om na te dink of so ’n redding ’n presedent gaan skep wat roekelose skuldvlakke gaan aanmoedig onder private en genoteerde kleinhandelaars wat om markaandeel meeding,” sê Daniel King, ’n ontleder by Avior Capital.

’n Huurgeld-vakansie is ongekend in Suid-Afrika, maar word in Brittanje in sakereddings gebruik.

King meen Edcon se mededingers kan die ooreenkoms beskou as teenmededingend, veral as die eiendomsgroepe ’n belang in Edcon kry.

Wynand Smit, ’n eiendomsontleder van Anchor Stockbrokers, meen as Edcon gehelp word, gaan dit vrae laat ontstaan oor ander sukkelende maatskappye.

Sactwu het vandeesweek gesê daar word gevrees Edcon kan gelikwideer word as hy nie vinnig die finansiering goedgekeur kry nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!