Wat dink Pa?
Wat dink Pa?

Wat dink Pa?

Errol Hurter
Mariana Viljoen - 13 Junie. So ‘n week voor die tyd vang die weemoed my al. Op amper 60 wil ek steeds soms die telefoon optel en vra “Wat dink Pa?”
Veral hierdie jaar wat ek weer in Windhoek terug is. Windhoek, waarvoor ons almal in die agt jaar wat ons van Mei 1967 tot Julie 1975 gebly het, so lief geraak het. Deurtrek van kanker en ligte breinskade na ‘n val wat hy nie eens kon onthou nie, was hy in sy laaste dae terug in Windhoek.
My pa was eintlik ‘n moeilike – dalk eerder onredelike – man by tye. Maar as iemand in die moeilikheid was, sou hy help as dit binne sy vermoë was. Toe hy dood is, het ek tussen sy papiere afgekom op tjeks wat hy uitgeskryf het om mense wat in die moeilikheid beland het, uit te help. Dis nou afgesien van al die boetes vir spoedoortredings. Nogal ‘n paar die oggend en die middag van dieselfde dag op dieselfde plek. Onder andere iemand wat die kerkkantoor genader het toe sy agter geraak het met die paaiement op haar motor. Hulle wou of kon haar nie help nie, maar hy het.
En hy het altyd ‘n verskoning vir die “underdog” gehad. Toe Herchelle Gibbs van krieketfaam in die omkoopskandaal betrokke was, het hy gesê ons moet ons indink en verstaan hoe groot die versoeking was. En later toe die kleinkinders soms skeef getrap het, het oupa geskerm en uitgehelp terwyl dit eintlik teen sy grein moes gegaan het.
Ek onthou nog so goed dat ek een Saterdagmiddag swembad toe wou gaan. Nie oor swem nie, maar oor wie daar sou wees. En destyds was Pionierspark ver van die swembad af – dis waar Maerua Mall nou is. Toe ek hoor die betrokke ouens kan nie daar wees nie, wou ek natuurlik nie gaan nie. Tevergeefs! Ek is twee-uur afgelaai en vyfuur kom haal.
Die ander kant van die munt was die kere wat die eerste rugbyspan van WHS in Walvis gespeel het. Pa het wraggies dinge so uitgewerk dat ons daardie naweek ook in Walvis was om die wedstryd by te woon. En dan het hy kougom saam met die manne wat nie mag rook nie, gekou. Of sowaar tot by Aris gery het waar die weermagtrein gestop het. Net omdat hy geweet het sy st. 7- amper st. 8-dogter is beenaf oor ‘n ou op daardie trein wat nie eens geweet het sy bestaan nie.
My pa wat nie drukkies uitgedeel het of van vat gehou het nie. Maar jy’t geweet hy is daar. Met sy ma se begrafnis was die een keer wat ek onthou wat hy my hand in die kerk vasgehou het.
Telefoongesprekke van die universiteitskoshuis af met hom was letterlik sekondes. En tog het die belangrikste deurgekom. Hy is trots op jou. Wat meer kan ‘n kind vra? Hy het my nooit gedruk om beter te doen en te presteer nie al kon ek seker in terugblik tonne beter gevaar het. Wat hy wel gedoen het, was om my te leer om myself verbaal en op skrif uit te druk. Hy het geglo die Engelse kinders het ‘n groot voorsprong gehad omdat hulle dit gegun was om terug te praat. Jy mag net nie begin het met “Maar pa . . . ”nie.
My pa wat gebid het nadat ons eerste geskep het, dan geskep het en nogtans voor ons klaar geëet was. My pa wat in die winter in die visdammetjie geval het omdat hy uit verveeldheid op die rand van die dam geloop het.
Ek wil steeds vra: “Wat dink Pa?” My pa wat liewer vir Duits as vir Engels was. Ek herdenk elke jaar sy geboortedag met Duitse musiek wat ek kliphard speel. Met apologie aan my ma wat altyd gevra het “Wat sal die bure sê?” wanneer die musiek al hoe harder raak en ons uitspattig saam gesing en gedans het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!