Wat hou die jaar in?
Die pandemie is nie die enigste krisis wat die wêreld bedreig nie. Ons het met ’n toekomskenner in Suid-Afrika gesels en vasgestel wat internasionale ontleders sê.
Ronelle Rademeyer
Vroeg in 2020 het die mensdom kennis geneem van ’n nuwe virussiekte wat in Wuhan, China, chaos veroorsaak. Binne weke was die wêreld pens en pootjies in die vernietigende greep van die nuwe coronavirus, SARS-CoV-2 vasgevang.
Op 1 Januarie vanjaar was die mensdom se eenvormige Nuwejaarsversugting dat die Covid-krisis in 2021 sy wyk sal neem sodat die lewe weer sy normale gang kan gaan.
Dit is wensdenkery, meen die toekomsontleder dr. Morné Mostert, direkteur van die Instituut vir Toekomsstudies aan die Universiteit Stellenbosch.
Só het hy per e-pos met Republikein oor die vraagstukke van die dag gesels:
Wat is 2021 se vernaamste struikelblokke?
Die professionalisering en depolitisering van regerings is nou ’n kernvereiste vir sukses. Die dilemma is dat politieke partye dikwels nie derglike professionele vernuf het nie.
Dít wat hulle die verkiesings laat wen het (dikwels verdelingspolitiek en kritiek), gaan nie van veel nut wees tydens ’n logistieke krisis soos hierdie nie.
Chaos word ook dikwels uitgebuit. Epidemies kan lei tot infodemies; dit wel sê die verspreiding van fopnuus en samesweringsteorieë.
Is daar kans op ekonomiese herstel, aangesien Suid-Afrika en Namibië reeds lank voor die pandemie in ’n resessie was?
Daar is wel kanse op herstel, maar die horison skuif al hoe verder uit. Strategiese en genuanseerde besluitneming, wat dikwels ongewoon is vir beide politici en staatsamptenare, is nou uiters nodig.
Die geleenthede is te vinde in beide nasionale planne in die langer termyn, en buigsame en versnelde implementeringskundigheid in die kort termyn. Ideologiese politiekery sal moet ruimte maak vir beslissende en doeltreffende aksie.
Wat is die grootste politieke en maatskaplike uitdagings in ’n tyd wat al meer mense in armoede verval en regerings se diensleweringsvermoë onder druk kom?
Een besliste risiko is grootskaalse beleidsopportunisme en die inwerkingstelling van eensydige en selfs diktatoriese regeringsbesluite onder die dekmantel van Covid-19.
Namate die druk op regerings verhoog, styg die moontlikheid van kritiek ook. Daar is reeds vroeë tekens dat leiers die situasie vir eie gewin probeer uitbuit. ’n Vrye media en onafhanklike regbank moet nou ten alle koste beskerm word.
Hoe moet die individu sy/haar lewe skik om ekonomies en psigies deur hierdie moeilike vaarwaters te kom?
Dit is belangrik om, ten spyte van die onsekerheid, doelwitte te stel vir loopbane, finansies en die familie. Doelwitte bied rigting en samehorigheid.
Hiermee saam kan die aktiewe ontwikkeling en beoefening van kreatiwiteit verhoed dat die gees saam met die ekonomie gegrendel word.
Weens die risiko’s van fopnuus is die ontwikkeling van ’n “digitale dieetkundigheid” ook van kern belang. Dus, wees waaksaam oor die oorsprong en agenda van inligting en beroep jouself op die wetenskap en internasionale konsensus eerder as populistiese opportunisme. Dit kan jou gees en selfs jou lewe red.
(KASSIE)
Chomsky, Prashad oor drie reusebedreigings
Hoewel die pandemie tans almal se gedagtegang oorheers en jaarbeplannings daarvolgens geskik word, bedreig drie ander kwessies die voortbestaan van die planeet en sy bewoners, waarsku die bekende Amerikaanse taalkundige, filosoof en politieke aktivis Noam Chomsky.
In ’n artikel wat Woensdag in Globetrotter verskyn het, maan hy en medeskrywer Vijay Prashad, ’n Indiese geskiedkundige en joernalis, teen kernvernietiging van die aarde, ’n klimaatkatastrofe en die vernietiging van die sosiale kontrak tussen staat en burgery.
Hulle waarsku die reeds beperkte getal wapenbeheer-verdrae word toenemend verwater deur die groot moondhede wat oor byna 13 500 kernwapens beskik, waarvan meer as 90% in Rusland en die VSA se besit is.
Die Amerikaanse vloot het byvoorbeeld reeds taktiese W76-2-kernplofkoppe ontplooi. Volgens die skrywers moet die onmiddellike beweging na kernontwapening hoog op die wêreldagenda wees.
Tweedens wys hulle op ’n verslag in 2019 deur die Verenigde Nasies (VN) waarin gewaarsku word 1 miljoen dier- en plantspesies staar uitwissing in die gesig.
Voeg hierby die vernietigende veldbrande en ernstige sonbleiking van die koraalriwwe, en dit is duidelik die gevaar lê nie meer in die toekoms op loer nie, maar die mensdom is reeds midde-in die klimaatskatastrofe, sê hulle.
Dit is noodsaaklik dat groot moondhede, wat nie van fossielbrandstowwe afgesien het nie, hulle verbind tot die “algemene maar gedifferensieerde verantwoordelike” benadering wat in 1992 tydens die VN-konferensie oor omgewing en ontwikkeling in Rio de Janeiro aanvaar is, meen Chomsky en Prashad.
Hulle wys ook daarop geld wat vir ontwikkelende lande bewillig is vir hul deelname aan die proses, het feitlik opgedroog terwyl buitelandse skuld gestyg het. “Dit toon ’n gebrek aan erns deur die internasionale gemeenskap.”
Derdens wys hulle daarop “dat lande in Europa en Noord-Amerika hul openbare funksie uitgewis het aangesien die staat aan winsgewers oorgedra is, en die burgerlike samelewing deur private stigtings gekommodifiseer is”.
“Dit beteken die moontlikhede vir sosiale transformasie in hierdie wêrelddele word belemmer.
“Vreesaanjaende maatskaplike ongelykheid is die gevolg van die relatiewe politieke swakheid van die werkersklas. Dit is dié swakheid wat die miljardêrs in staat stel om beleid te stel wat die getal hongeres laat styg.”
Hulle wys daarop lande moet nie gemeet word aan die mooi woorde in hul grondwette nie, maar aan hul jaarlikse begrotings.
Die VSA het byvoorbeeld bykans US$1 triljoen aan sy oorlogslaankrag bestee, en net ’n fraksie daarvan op openbare versorging soos gesondheidsorg.
“Die buitelandse beleid van Westerse lande blyk goed gesmeer te word deur wapentransaksies: Die Verenigde Arabiese Emirate en Marokko het ooreengekom om Israel te erken op voorwaarde dat hulle onderskeidelik US$23 miljard en US$1 miljard se Amerikaanse wapens sou kon koop. Die regte van die Palestyne, die Sahrawi en die mense van Jemen is nie hierin geken nie,” sê hulle.
“Die instelling van sanksies deur die VSA teen 30 lande – insluitend Kuba, Iran en Venezuela – het ’n normale deel van die lewe geword, selfs tydens die Covid-19-gesondheidskrisis. Die politieke stelsel het misluk wanneer die inwoners van kapitalitiese lande nie hul regerings – wat in vele opsigte net in naam demokraties is – kan dwing om ’n internasionale visie in tye van nood te hê nie.”
Hulle meen ’n sterk internasionalisme is nodig om onmiddellike en genoegsame aandag te skenk aan die gevare van uitwissing – hetsy dit uitwissing deur kernoorlog, klimaatkatastrofe of maatskaplike ineenstorting is.
“Globale probleme van dié erns vereis toegewyde wêreldwye samewerking,” sê Chomsky en Prashad.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie