Wat hou die toekoms vir Trump in?
Dit was in die naweek presies twee jaar gelede dat Donald John Trump as president van Amerika ingehuldig is. Waar staan hy nou? En hoe het hy Amerika verander? vra Leopold Scholtz.
Leopold Scholtz
Niemand het ooit verwag dat Trump bloot sou water trap as hy in die Withuis beland nie.
Maar dat hy só ’n orkaan sou wees wat byna alle gevestigde norme, konvensies en heilige huisies omver sou werp, het selfs sy grootste aanhangers en teenstanders verbaas.
Waar staan hy twee jaar nadat hy op ’n koue wintersoggend in Washington ingehuldig is?
Selfs sy teenstanders moet toegee dat Amerika ekonomies met Trump as president uitstekend vaar.
In die eerste kwartaal van 2017, toe hy die bewind oorgeneem het, was die groei van die Amerikaanse ekonomie, geëkstrapoleer na ’n jaarsyfer, 1,8%. Teen die tweede kwartaal van 2018 het dit tot 4,2% opgeskiet – ’n prestasie wat beslis nie minderwaardig geag moet word nie.
Die prestasie is des te groter as in aanmerking geneem word dat die werkloosheid van 4,9% in Januarie 2017 tot 4% tans gedaal het.
Trump self – só is politici mos maar – het dit uitsluitlik aan sy eie geniale ekonomiese beleid toegeskryf. En inderdaad, sy groot belastingverlaging het beslis iets daarmee te make, soos ook sy verslapping van maatreëls ter bestryding van omgewingsbesoedeling, waardeur talle vervuilende steenkoolmyne en ouderwetse fabrieke weer mense in diens kon neem.
Wat Trump verswyg, is dat die ekonomiese herstel in sowel Amerika as die res van die wêreld teen 2016 reeds jare aan die gang was. Toe sy voorganger, Barack Obama, in 2009 ingehuldig is, het die Amerikaanse groeikoers (dit was net ná die yslike ineenstorting van die vorige jaar) met 0,83% gekrimp, maar teen die tweede kwartaal van 2016, het dit op ’n groei van 2,3% gestaan.
Bowendien het die Amerikaanse groei die laaste tyd effens afgeneem. Deels hang dit saam met ’n wêreldwye ekonomiese verkoeling, maar sy handelsoorlog met China – en sy handelsdreigemente aan byna alles wat leef en beef – het Amerika ook beduidende skade berokken. Presies hoeveel, is moeilik om te bereken, maar wat sonder meer waar is, is dat ’n handelsoorlog in die geskiedenis nog nooit ’n wenner opgelewer het nie; slegs verloorders.
’n Mens sien nou al hoe sommige van Trump se stoerste ondersteuners, fabriekswerkers en sojaboontjieboere in die Midde-Weste, kla dat die handelsoorlog hulle wurg.
Owerheidsluiting tel teen Trump
Die laaste weke het nóg ’n faktor bygekom, die gedeeltelike sluiting van die owerheid.
Trump eis US$5,6 miljard in die begroting vir die bou van die muur op die grens van Mexiko om onwettige immigrasie te keer. Dit was ’n sentrale verkiesingsbelofte wat sedertdien yslike simboliese betekenis vir sowel sy aanhangers as teenstanders gekry het.
Die Demokrate, wat in November se tussentydse verkiesing die beheer oor die Huis van Verteenwoordigers oorgeneem het, weier egter om die begroting goed te keur. En dus het Trump 800 000 federale werknemers sonder salaris huis toe gestuur.
Hy het aanvanklik eienaarskap van die owerheidsluiting aanvaar, maar blameer sedertdien die Demokrate daarvoor. Peilings wys dat die kiesers hóm eerder as die Demokrate die skuld gee.
Die owerheidsluiting kos nou al aansienlik meer as wat die muur sou gekos het.
Moeras van politieke probleme
Trump sink in elk geval steeds dieper in ’n moeras van politieke probleme weg.
Dit sentreer alles rondom die navorsing van die spesiale ondersoeker, Robert Mueller, na bewerings dat Trump en/of sy verkiesingspan in 2016 met Rusland saamgespan het om die verkiesing sodanig te manipuleer dat hy wen. Sedertdien het dit duidelik geword dat daar tientalle kontakte tussen sommige van sy medewerkers en die Russe was, maar geen besonderhede is bekend nie, en Trump ontken alles heftig.
Wat hou die toekoms in?
Dis in elk geval duidelik dat die Mueller-ondersoek stadigaan na sy einde loop en dat die net langsamerhand nouer begin trek. Presies wat bínne-in die net sal wees as die finale verslag by die departement van justisie ingedien word, is nie duidelik nie.
My raaiskoot, gegrond op ’n noukeurige lees van die Amerikaanse media die laaste jare, klink só: Mueller sal moontlik bevind dat daar geen bewys is dat Trump persoonlik met die Russe saamgespan het nie, maar dat sy naaste medewerkers dit wel gedoen het. Mueller sal ook nie kan bewys dat daardie samespanning die uiteindelike verkiesingsuitslag beslissend beïnvloed het nie.
As ek reg is, gaan dit te min vir die Demokrate oplewer om Trump in ’n staat van beskuldiging (impeachment) te stel. Hy sal sy eerste termyn voltooi, maar dis onbekend wat dán sal gebeur.
Wat intussen nie ontken kan word nie, is dat Trump se styl van konfrontasie, konfrontasie en nog meer konfrontasie die oorsaak van driekwart van sy probleme is. En dit skeur Amerika, meer as ooit tevore, uiteen.
Wie baat uiteindelik daarby? Die manne wat in hul mou lag, is Poetin en pres. Xi Jinping van China.
* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. – Netwerk24/Berig verkort

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie