Wat leer ons ons kinders oor teleurstelling?
Wat leer ons ons kinders oor teleurstelling?

Wat leer ons ons kinders oor teleurstelling?

Denver Kisting
Denver Kisting – My hart is in skerwe oor kinders wat hul lewe neem omdat hulle gedruip het.

In dié einste week het derduisende haasbekkies vir die heel eerste keer by die bankies van die “groot skool” ingeskuif.

Ek had die voorreg om ’n paar van die onseker maar opgewonde oomblikke op kamera vas te vang.

As ek gereken het ek was tot in daardie stadium ongeneeslik broeis, het ek beslis nie gewéét waarvan ek praat nie.

Sedertdien is daar geen salf aan my te smeer nie: Ek hoop dis nie meer té lank voor my eersteling opdaag nie.

Dinsdagaand sit ek en my woonstelmaat ons broeis koppe bymekaar – en die een is veel erger as die ander een. (Ek sal liefs nie uit die huis gesels oor wie broeiser as wie is nie of wie vir wie, uhm, aangesteek het nie.)

Maar, sê sy, sy wonder as ’n mens die nuus aan die graad 1-bloedjies breek dat daar nog 12 genadelose jare van skool voorlê of dit hul opgewondenheid en sorgeloosheid in die wiele sal ry.

Ek dink byvoorbeeld aan klein Aidan van Parkies, wat bondig maar beslis geantwoord het toe ek by hom wou hoor of die groot skool nie moeilik is nie: “Nope.”

Mens wonder onwillekeurig wat als vir hul voorlê.

Ek het geen twyfel daaroor nie dat skool ’n mens kan maak of breek.

Hoewel dit ’n geweldig verrykende ervaring kan wees, kan dit eweneeens verreikend wees.

Sommige onderwysers en sommige kinders ding dikwels mee oor wie meer skade aan ander kinders kan aanrig. Ons almal ken minstens een voorbeeld hiervan.

Oor ’n onlangse voorval reageer my suster só: “Dit ontbreek in ons huise om ons kinders die voordeel te gee om ook onsuksesvol te wees en daaruit te leer.”

Sjoe.

Dit neem my ’n rukkie om die omvang van haar woorde te laat insink en uiteindelik te verstaan.

Maar sy slaan die spyker sekuur op sy kop. Trouens, sy onthoof hom bykans.

As mens onsuksesvol is of misluk of ’n fout begaan, beteken dit jy probeer.

Jy rus nie op jou louere nie.

Jy waag al wen jy nie immer nie.

En daarin lê die moontlike voordeel van ’n geweldige les dat mens nie áltyd in jou doel slaag nie, maar nooit ophou moet probeer nie.

Dit hoef nooit, ooit die einde van enige vorm van die wêreld te wees nie.

“Skool is crap,” sê ’n kollega. “Ons onderwysstelsel moet bloednooddringend hersien word. Ons wurg ons kinders dood.”

Ek dink dié les hou met die lewe in die algemeen verband.

My ervaring is dat ouers – veronderstelde volwassenes – dikwels húl wense op hul kinders afdwing.

Erger nog – ouers projekteer dikwels hul eie, “mislukte” drome op hul telge.

En dit het ook té veel te doen met wat ons as sukses of mislukking bestempel. Wat op aarde beteken dit? Volgens wie se maatstawwe?

Eergisteraand – die aand van my hartseer – praat ek en ’n potensiële hartsmens oor hoe dit toenemend belangrik word om klem te plaas op die cliché dat geluk regtig net van binne af kan kom.

Dis niks anders as onvolhoubaar as ’n mens op iets buite jouself steun om jou gelukkig te maak nie.

Want as daai mens, kar, werk of goedkeuring weggeneem word – en dit word dikwels – sal mens se geluk saam verdwyn.

So, ouers en voornemende ouers, ek los dié vraag by u vir die naweek: Wat leer ons ons kinders oor teleurstelling?

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer