Wat ons liefhet, respekteer ons

“Kinders wat in ’n wêreld sonder diere grootword, sal volwassenes sonder ’n passie vir diere word . . . ”
Tanja Bause
Tanja Bause – Op 12 April sal 30 kunswerke van wildlewekunstenaars van dwarsoor die wêreld en Namibië die gemeenskap daaraan herinner dat liefde en respek hand aan hand gaan.

Dié uitstalling sal in Windhoek by die Kayamoja Wildlife Art Exhibition by die Village Opera House aangebied word en sal om sesuur open.

Dit sluit die werke in van onder meer die oorsese wildlewekunstenaars Carl Brenders van België, Karen Laurence-Rowe van Kenia, A.E. London van Amerika, Robert Bateman van Kanada, Adam Binder van Brittanje, Anni Crouter van Amerika, Stefanie Gendera van Duitsland, Lieze Meyer van Suid-Afrika, Christine Lamberth van Suid-Afrika, Cory Salmond van Australië, Kate Jenvey van Australië en Jaidev Prasad Soni van Indië.

Namibiese kunstenaars wat deelneem, is onder andere Elke le Roux, Jero Amuthenu, Nadine Downing, Elia Shiwoohama, Annika Funke, Jacquie Tarr, Kabelo Kim Modise en Gisela Marnewecke.

Dis ook die eerste keer dat wildlewekunstenaars en kinders se kuns onder die Kayamojo ArtConnects-trust se tema “Wat ons liefhet, respekteer ons” uitgestal word.

Omtrent 50% van die kunswerke word spesiaal vir die uitstalling geskep. Die ander 50% is ’n kombinasie van die kuns wat die kinders van die Kayamoja ArtConnects-trust tydens hul kunslesse op toere deur die land geskep het en die werke van nuwe plaaslike wildlewekunstenaars.

Volgens Annika Barnard, organiseerder van die uitstalling, is dit ’n gulde geleentheid vir jong wildlewekunstenaars om saam met bekende en gevestigde kunstenaars uit te stal.

KUNS AS WAPEN

“Dit is ook ’n geleentheid om wildbewaringskuns te ondersteun. Dit is nie net iets moois wat ons in ons huise kan hang nie, dit het ’n wapen in die bewaringstryd geword. As wildlewekuns ’n verskil kan maak, het ons as kunstenaars die verantwoordelikheid om die laaste wilde plekke en diere op die planeet te beskerm,” het Annika gesê.

Sy het die Kayamoja ArtConnects-trust in 2016 op die been gebring.

Annika is in Duitsland gebore en het in 2007 Namibië toe gekom om met haar gunstelingdier te werk - die wildehond. Sy het in Namibië en Botswana met verskillende wildbewaringsorganisasies te doen gekry voor sy haar man, Leon Barnard, leer ken het.

“Leon is ’n argitek en ek moes weer stad toe trek en kon nie meer in die bos wegkruip en net teken nie,” het sy laggend gesê.

“Ek het myself tussen mense bevind en moes aan iets dink om my passie vir bewaring en kuns met hulle te deel. Dit is hoe die idee van Kayamoja begin het. Ek het besluit om met kinders te begin werk en hulle aan die natuur en diere bloot te stel. Voorheen het ek die diere altyd geskilder, maar eintlik moet ons met bewaring by mense begin. Hulle is immers diegene wat na die diere moet omsien,” het Annika gesê.

“Kaya” beteken wyse kind in die inheemse Amerikaanse Indiane van Kanada se taal en “moja” beteken blommetyd in die plaaslike San-taal.

“Ek glo bewaring begin by die hart. Dit gaan oor passie en empatie. Ek glo as ons by die jonger geslag ’n liefde vir die natuur en diere inspireer, is ons op die regte pad, want wat ons lief het, respekteer ons en wil ons bewaar en behou.”

EERS LEER, DAN VERF

Minderbevoorregte kinders van die Hope Village in Windhoek word vir uitstappies na verskeie plekke geneem. Oor die 80 kinders is al na verskeie lodges geneem om die diere te sien en te skilder.

“Ons leer hulle van die verskillende diere. Ons probeer opwinding opbou. So ons gaan kyk na die diere se spore in die veld en vertel vir hulle stories oor die diere. Dan gaan soek ons die diere in die veld en wanneer die kinders hulle uiteindelik sien, is die opgewondenheid gewoonlik baie groot. Baie van die kinders was nog nooit eers buite Windhoek nie en nou sien hulle ’n lewende olifant of leeu.

“Hulle moet die diere dophou en bestudeer. Dit gee hulle groter waardering wanneer hulle die diere dophou en bestudeer. Later in die dag begin ons te verf. Elke kind kan besluit watter dier hy of sy graag wil verf.”

Volgens Annika onthou die kinders die stories oor die diere wat hulle geverf het selfs maande later steeds.

BANDE GESMEE

“Elke aand sit ons om die kampvuur en gesels oor die dag se avonture en die diere wat ons gesien het en wat ons van hulle geleer het.”

Kayamojo ArtConnects skep die geleentheid vir minderbevoorregte kinders om diere te sien, te ontmoet en van hulle te leer. Dit gee die kinders die geleentheid om deur middel van kuns met die natuur, diere en bewaring ’n band te smee.

“Baie van die kinders het nog nooit wilde diere gesien nie. Daar was van hulle wat baie opgewonde was toe ons beeste in Okahandja sien rondloop. Hulle het gedink dis wilde diere. Ons kan nie van mense verwag om diere en die natuur te bewaar as hulle nie dit ken en geen band daarmee het nie.

“Kinders wat in ’n wêreld sonder diere grootword, sal volwassenes sonder ’n passie vir diere word en geen sin daarin sien om diere te bewaar nie.”

Die trust beoog om kinders aan die noodsaaklikheid van bewaring bloot te stel en om 'n lewenslange liefde vir wildlewe deur opvoeding en kuns te skep.

“Die kinders geniet vreugde, liefde en opvoeding in die natuur. Deur dié reis word hulle blootgestel aan ervaringe en leer hulle van goed buite hul daaglikse lewens,” het Annika gesê.

“Kuns help die kinders om ware skoonheid te sien en om 'n persoonlike begrip van die diere te ontwikkel. Die kunsklasse vereis dat hulle meer aandag gee. Wanneer ons skilder, moet ons internaliseer en die begrip deur ons laat gaan - van die leer (passief) tot by die kreatiewe uitset (aktief). Hierdie proses ondersteun die idee om 'n persoonlike begrip en band met die dier te vorm in plaas daarvan om net na 'n onderwyser oor wildlewe en bewaring te luister.”

Volgens Annika laat die moontlikheid om vriendskappe met huisdiere te smee, 'n warm plek in die kinders se harte.

DIERE AS INDIVIDUE

“Die vriendskappe met huisdiere veroorsaak dat die kinders die diere met respek en liefde behandel en hulle as individue sien in plaas van net as ’n dier wat moet werk of wat kos is. As 'n mens eers die hond in die straat waardeer, is dit 'n makliker stap om die wildehond in die natuur te waardeer wat ons nie op 'n daaglikse basis kan sien nie. Dit maak waardering vir diere in die algemeen vir die kinders minder abstrak en meer werklik,” het sy gesê.

Die kunswerke wat internasionale kunstenaars vir die Kayamoja Wildlife Art Exhibition 2018 spesiaal geskep het, sal tydens die uitstalling te koop aangebied word. Van dié geld gaan 50% aan die kunstenaar en 50% aan die Kayamoja ArtConnects-trust.

Die kinders se kunswerke word op dieselfde beginsel verkoop met die verskil dat Kayamojo 25% kry, en die Save the Rhino-trust (SRT) kry 25% van alle verkope.

“Deurdat die kinders ’n deel van hul geld aan bewaring skenk, kry hulle ’n gevoel van verantwoordelikheid en ’n groter begrip van bewaring.”

Die Kayamoja- wildlewekunsnuwelinge kompetisie 2018 is vir kinders in drie verskillende ouderdomsgroepe. Elke ouderdomsgroep bestaan uit drie verskillende kategorieë.

Die kategorieë is “Bedreigde spesies”, “Namibië se wildlewe” en “Ons gee vir ons dier om”.

Die ses wenners, een uit elke ouderdomsgroep en een uit elke kategorie, sal kunstoerusting ter waarde van N$1 500 asook kunsklasse by James Corwin van Amerika ontvang. Die algehele wenner sal tydens die uitstalling aangekondig word.

Lootjies vir ’n renosterskildery deur die bekende kunstenaar Paul B. Dixon van Suid-Afrika sal ook verkoop word. Die geld sal aan die SRT geskenk word.

KUNS- EN BEWARINGSFEES

Saterdag vind die Kayamoja-markfees, in samewerking met die Village se bestuur en die Lemon Tree-koffiewinkel plaas. Die fees is op kinders gemik en baie pret word vir hulle beplan terwyl die volwassenes die uitstalling kan bewonder. Daar sal ’n stalletjie vir kinders wees wat die interaktiewe verf van renosters behels. Hulle kan ook verniet ’n kolwyntjie met ’n dier gesig versier. Verskeie kunstenaars, asook die SRT, sal stalletjies by die fees hê.

Sondag sluit die uitstalling om 13:00 vir die publiek.

Die uitstalling sal ook ’n maand lank van 20 April af by die Fine Art Gallery op Swakopmund uitgestal word.

Vir meer inligting of om die kunswerke te koop, besoek www.kayamoja.com.

Die trust finansier homself deur die verkope van kunswerke in hulle aanlyn winkel, wat ook op die webwerf beskikbaar is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!