Wat su00ea topekonoom oor peperduur wild?
Wat su00ea topekonoom oor peperduur wild?

Wat sê topekonoom oor peperduur wild?

Ronelle Rademeyer
Leanne George - Ware bosreuse van ouds is uitgejag en buffels met groot horings in die natuur is bitter skaars. Maar is selfs die buffel met die grootste horings ter wêreld en sy nageslag bykans ’n miljard rand werd?
’n Kwartaandeel in Horison, die buffel met die grootste horings ter wêreld, is op 13 Februarie vir R44 miljoen opgeveil. Rykes, sakelui en sportsterre koop deesdae aandele in topgehalte teeldiere, nie omdat hulle self kennis het van wildboerdery nie, maar omdat hulle wil inkoop in die bedryf se oplewing. Pryse van skaars wild op veilings het die afgelope paar jaar met rasse skrede toegeneem.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê om ’n belegging in ’n topgehalte-buffelbul van sowat R200 miljoen te regverdig, soek jy ’n opbrengs van 30% per jaar daaruit.
Die waarde van só ’n buffelbul word gemeet aan drie faktore: sy skaarsheid (wat grootte betref), hoe groot sy nageslag is en of dié nageslag ook sy groot horings en topgehalte gene geërf het.
Piet du Toit, topwildboer op wie se plaas Horison loop, meen dié bul kan, konserwatief geskat, binne tien kalftye ’n nageslag ter waarde van meer as R1,6 miljard produseer.
“As ’n mens die som maak en elk van die buffel se kalwers vir, byvoorbeeld, R2 miljoen kan verkoop, sal jy beslis in die eerste en tweede jaar ’n opbrengs op jou belegging kry,” sê Roodt. “Dit is teoreties moontlik om jou geld te verhaal.”
Roodt waarsku egter dié som gaan nie met ander buffels werk nie, omdat Horison uniek is.
“Dis nie die prys van buffels nie,” sê hy. “Dis nie die markprys nie, dis dáárdie spesifieke buffel se prys op ’n veiling. Hy is ’n uitskieter.”
Roodt verduidelik: “Jy kry ander produkte, soos diamante, wat ook so werk. ’n Baie mooi diamant met spesiale kenmerke, of ’n diamant wat aan ’n bekende, soos Liz Taylor, behoort het, is duurder as ander diamante. Jy sal ook altyd duurder betaal vir die presidentsuite in ’n hotel as Nelson Mandela daar geslaap het.”
Daarom moet jong, onervare beleggers versigtig wees om hoë pryse vir sommer enige buffel op te dok.
Wildboere moet in ag neem nie ál Horison se kalwers gaan van sy kaliber en met sulke groot horings wees nie en sommige gaan nooit topbuffelstatus bereik nie.
Nóg ’n faktor om in ag te neem, is dat die pryse van selfs topbuffels kan daal sodra die nageslag toeneem – veral indien hulle ook so groot is soos Horison, want dan is daardie eienskappe nie meer skaars nie.
Horison is blykbaar die buffel met die grootste horings wat in die afgelope 150 jaar aangeteken is.
Roodt sê so ’n unieke buffelbul kan ook as ’n soort “versamelaarsitem” geag word.
“Mense wat seëls versamel, is bereid om baie geld te betaal vir ’n skaars seël, wat niemand anders dalk sal koop nie omdat dit vir hulle persoonlike waarde inhou. Dan is dit nie ’n belegging nie; dis soos ’n stokperdjie.”
Roodt sê die verstommende pryse van vreemde kleurvariasies van skaars wild (soos swart rooibokke, koffiekleurige springbokke, wit koedoes en goue wildebeeste) is “oordoen”.
En die jagmark, die eindverbruikers in die wildbedryf, stel eenvoudig nie in dié vreemde kleurfratse belang nie.
“Jagters wil nie ’n goue wildebees skiet nie, hulle wil normale wildebeeste skiet,” sê Roodt.
Hy sê jagters wil ook nie noodwendig miljoene rande betaal vir ’n trofeebuffel nie. “Ek sal self baie geld vir ’n mooi buffel betaal, maar ook nie soveel miljoene nie.”
Die sakeman Johann Rupert, wat ’n buffelbul teen die vorige rekordprys van R40 miljoen gekoop het, het gesê dit was nie ’n belegging nie en dat dié bul nou rustig op sy plaas gaan aftree as “ ’n belegging in die natuur.”
Rupert het gesê stygings in wildpryse kom eintlik neer op ’n Ponzi-skema.
Roodt stem nie hiermee saam nie. “Dis nie ’n Ponzi-skema nie, want só ’n skema word gewoonlik deur ’n ‘kingpin’ gedryf. Dit wil nie voorkom of dit hier die geval is nie. Maar indien die mark ineenstort, gaan die gevolge soortgelyk wees.”
’n Ponzi-skema is ’n soort piramideskema waar mense uitermate hoë opbrengste belowe word om voortdurend nuwe beleggers te lok. Op ’n punt is die invloei van beleggings nie meer genoeg om die toenemende uitvloei vol te hou of opbrengste te verhaal nie en die skema stort ineen. Die beleggers aan die onderpunt, gewoonlik die nuutste toetreders tot die skema, trek aan die kortste ent en verloor hul geld.
Die mense wat rééds voordeel getrek het en aan die bopunt van die bedryf staan, is dié wat nie verliese ly nie.
“Die skade gaan nie gely word deur diegene wat R176 miljoen vir topbuffels betaal het nie. Die outjies wat ingesuig gaan word, is dié wat tweede- en derderangse buffels vir R2 miljoen stuks gekoop het. Méér geld sal op dié vlak verlore gaan as net R176 miljoen.”
-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!