Water-erosie dalk oorsaak van grondskeur
‘n Kenner sê die skeur oos van Waterberg is waarskynlik deur die werking van water veroorsaak en waarskynlik soortgelyk aan dié in die Cuvelai-stelsel.
Elvira Hattingh
Die skeur in die grond van sowat 20 km lank wat oos van Waterberg ná goeie reënneerslae verskyn het, is waarskynlik deur water-erosie veroorsaak.
Tektoniese karaktereienskappe dieper onder die grond het moontlik gehelp om dit te vorm.
Dr. Nortin Titus, hoof- geowetenskaplike by die ministerie van myne en energie se Geologiese Opname, meen die sak van die watertafel en toe weer goeie reëneerslae, kon daartoe gelei het dat grond gekompakteer is of verskuif het, en toe die skeur gevorm het.
Titus sê dit is 'n baie natuurlike verskynsel.
Hy meen die grond kan dalk bo-oor skeursones (faults) lê waarvan een plaat dieper as die een langsaan is. Die werking van reënwater kan erosie meebring en veroorsaak dat die grond oor die een plaat dieper insak.
Andersyds kon die water dalk groot dele van die grond oor 'n effense afdraand verskuif het, wat die grond dan “skeur” en 'n gaping laat - soos in die meegaande foto's gesien kan word.
Titus sê dit is slegs spekulasie omdat hy nie self die skeur kon bestudeer het nie. Hy sou meer oortuig daarvan wees van die invloed wat ondergrondse plate op die skeur gehad het, as hy geweet het waar presies die skeur is.
Die rede hiervoor is omdat die Omaruru-Waterberg-skeurlyn deur dié gebied loop. Daar kon egter nie vasgestel word presies waar dié skeur is nie.
TALLE SKEURSONES
Titus verduidelik dat talle ondergrondse skeursones oraloor Namibië voorkom.
Dit is oor miljoene jare veroorsaak deur die Kongo- en Kalahari-kratone - wat teen mekaar gedruk het en wegbeweeg het.
Die wegbeweging van die twee kratone het talle skeursones in Namibië gelaat, met die kors tussenin wat ongelyk lê - een op en een af.
Titus meen die sanderige grond, soos op die foto gesien kan word, het dalk té veel water tydens die afgelope droogte verloor en dat die watertafel ver afgesak het.
“Dit beteken, met die water weg, is daar ruimte en holtes vir grond om met die volgende reënseisoen af te sak. Die grond verskuif en kompakteer dan soos die water deur die grond filtreer,” het hy verduidelik.
In so 'n geval hoef daar nie enige skeursones onder die grond te wees vir so 'n skeur om te vorm nie. Die leë waterholtes onder die grond en die destabilisering van die bogrond deur reënwater is genoeg om dit te veroorsaak.
Hy sê die tipe skeure op die grondoppervlak kom dikwels in die noorde van die land in die Cuvelai-gebied voor, ook vanweë die werking van water.
Titus het ook verduidelik dat die aardkors altyd aan die verander en beweeg is.
“Talle invloede is hiervoor verantwoordelik.
“Dit sluit in atmosferiese toestande soos hoog- en laagdrukke wat letterlik op die grond en watertafel druk, tot by die aantrekkingskrag van die son en die maan, wat die aardkors letterlik dunner kan trek.
Daarmee saam is daar nog die aarde se eie ondergrondse kragte ook.
Titus het gesê die aardkors is ten beste 70 km diep en in die see veel dunner. Onder die aardkors is daar nog sowat 6 300 km se magma wat tot by die aarde se kern strek, en 'n sterk invloed op vorming en skepping van die aardkors uitoefen.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie