Water: Hou rekord van elke druppel
Water: Hou rekord van elke druppel

Water: Hou rekord van elke druppel

Waterbestuur is die enigste manier om vas te stel waarheen die meeste water in jou huis gaan en om lekkasies vroegtydig op te spoor.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Tot 90% van die water in Windhoek wat onnodig weens lekkasies of buitensporige waterverbruik verlore gaan, sou gespaar kon word indien huishoudings rekord van hul meter­lesings gehou het.

Mnr. Dieter Tolke, 'n ingenieur-tegnikus vir water in die munisipaliteit se afdeling vir infrastruktuur, water en tegniese dienste, meen die gebrek aan die bestuur van waterverbruik lei daartoe dat NamWater en ander owerhede tussen 30% en 50% meer water aan verbruikers moet verskaf as wat werklik benodig word.

Dié nuus kom kort nadat die munisipaliteit (CoW) sy waterbestuurplan op 1 Mei amptelik van ­kategorie C (waterskaarste) na kategorie D verander het, wat op 'n ernstige watertekort dui.

Boonop is inwoners verplig om van 1 Julie af minstens 15% water te spaar en huishoudings mag nie meer as 25 m³ per maand gebruik nie, terwyl rekordhouding van water­verbruik ook verpligtend is.

Tolke is van mening voortdurende rekordhouding van huishoudelike watergebruik is die beste manier om vas te stel waar die meeste water in jou huis heen gaan, of daar enige lekkasies is en om waterbesparingsteikens te bereik.

“Dit is die enigste manier om te vermy dat jy 'n verrassing op jou rekening kry. As jy dit nie doen nie, sal jy vroeër of later 'n onaangename verrassing kry,” het hy gesê.

Tolke sê waterbestuur alleen spaar nie water nie en doeltreffende waterverbruik is ook van kardinale belang.

“Waterbestuur is die proses om rekord van water­besparings en -gebruik te hou.

“Dit kan vergelyk word met 'n ouditinstrument om vas te stel hoeveel water jy verbruik en of dit binne aanvaarbare vlakke val.”

ONONTDEKTE ­LEKKASIES GROOTSTE PROBLEEM

“Windhoek se grootste uitdaging is die waterlekkasies waarvan ons nie weet nie.

“Die geld wat gespaar kan word deur die vroegtydige ontdekking van 'n waterlekkasie, is gewoonlik meer as wat dit kos om die lekkasie te herstel,” het hy gesê.

Tolke sê toilette is dikwels die grootste bron van versteekte waterverliese omdat dit soms skielik sal vassteek en nie mooi toemaak nie.

“Dit gebeur gereeld en binne vier tot vyf ure kan tot 10 m³ water so wegloop.

“Jy wil nie in 'n situasie beland waar jy vir afslag moet vra oor 'n waterlekkasie nie. Boonop kry jy net afslag op die boete, terwyl jy steeds vir die water moet betaal. Tans, tydens die droogtesitua­sie, word geen afslag gegee nie.”

Tolke sê die munisipaliteit neem waterlesings slegs vir rekeningdoeleindes en dit kan nie vir water­bestuur gebruik word nie.

“Waterbestuur is die verbruiker se verantwoordelikheid.

“Jou watermeter is jou grootste vriend.

“Niemand wat in sentrale Namibië woon, kan bekostig om net op munisipale rekeninge vir rekordhouding staat te maak nie. Die tyd wat water volop en goedkoop was, is verby.”



ANALISEER VERBRUIK

Tolke beveel aan dat mense eenmaal per jaar 'n week neem waartydens hul waterverbruik twee tot vier keer per dag gemeet word. Al die aktiwiteite waarby water betrokke is, moet ook neergeskryf word.

“Dit gee vir jou 'n ­evaluering van jou watergebruik in fyn besonderhede. Hiersonder weet jy nie waarheen water in jou huis gaan nie,” sê Tolke.

“Ek kry dikwels dat mense vir my sê hulle spaar water deur byvoorbeeld stort- of badwater in die toiletbakke of tuin hergebruik, maar dat hul waterverbruik buitensporig hoog is.

“Indien ons dan só 'n evaluasie doen, ontdek 'n mens dikwels ­byvoorbeeld dat huis­hulpe op wasdae buitensporig baie water gebruik, in sekere gevalle tot soveel as 3 m³.

“Waterkoelers is ook 'n gereelde sondaar en soms gebruik dit tussen 6 en 12 m³ water per maand – soveel as twee mense in 'n huishouding.”

Tolke sê huishoudings in Windhoek word aangeraai om aanvanklik so 'n analise van hul ­watergebruik te doen. Daarná kan meterlesings weekliks gedoen word.

“Die feit is die vraag na water groei voortdurend omdat al meer mense na die sentrale dele van die land verhuis.

“Terselfdertyd groei besighede, maar ons bronne bly dieselfde. Dus sal ons watertekort al groter raak.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!