Water-oplossings binne u2019n maand gesoek
Water-oplossings binne u2019n maand gesoek

Water-oplossings binne ’n maand gesoek

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die kabinetskomitee vir die sekuriteit van watervoorsie­ning moet binne minder as ’n maand met ’n implementeringsplan vorendag kom oor hoe Windhoek se waterkrisis voor die einde van die jaar voorkom kan word, asook hoe dit in die volgende drie jaar afgeweer sal word.
Dit volg nadat die minister van landbou, water en bosbou, mnr. John Mutorwa, gister lede van die komitee bekend gemaak het, asook ’n tegniese komitee van kenners om die kabinets­komitee te adviseer.
Tydens die uitlegging van die komitee se funksies – soos deur president Hage Geingob neergelê – het Mutorwa gesê die komitee moet reeds teen middel-Augustus ’n werkbare implementeringsplan hê, wat onder meer aanbevelings bevat vir die korttermyn­-waterbehoeftes vir Windhoek se huishoudings asook besigheids­aktiwiteite.
“Die sentrale gebied van Namibië en Windhoek is tans die hoogste prio­riteit, alhoewel ons verstaan dat die kusgedeeltes en dele in die Noorde ook waternood ervaar,” het die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, tydens die geleentheid gesê. Hy sal ook op die kabinetskomitee dien.
“Ons benadering is om eerste die mees brandende kwessies betreffende­ waternood in die land aan te pak. Tydens die droogte het ons egter nie gewag vir die stigting van hierdie komitee nie en het reeds aan brandpunte gewerk.
“Ons het, deur die munisipaliteit, water in akwifers gevind, insluitende akwifers in die Noorde van die land. Wat ontbreek, is die infrastruktuur om die water in Sentraal-Namibië te vervoer.
“Ons het planne vir waterverskaffing beraam wat nou bykans gefinaliseer is. Geld is ook beskikbaar om die planne uit te voer,” het Schlettwein gesê.

Die lede
Mutorwa sal as voorsitter van die kabinetskomitee dien, met lede wat insluit Schlettwein; die minister in die presidensie verantwoordelik vir nasionale beplanning en die direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, mnr. Tom Alweendo; die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa; die minister van myne en energie, mnr. Obeth Kandjoze, asook die minister van presidensiële aan­geleenthede, mnr. Frans Kapofi.
Die lede is reeds op 6 Julie deur die president aangestel.
Die tegniese advieskomitee se voorsitter is mnr. Abraham Nehemia, adjunk permanente sekretaris van landbou, water en bosbou.
Ander lede op die tegniese komitee is dr. Vaino Shivute, uitvoerende hoof van NamWater; die water­kenner mnr. Pedro Maritz; ekonomiese raad­gewer van die president, dr. John Steytler; raadgewer van die president­ verantwoordelik vir die monitering­ van beleide en -toepassing, me. Penny Akwenye; die Windhoekse munisipaliteit­ se strategiese uitvoerende hoof van infrastruktuur, water en tegniese dienste, mnr. Pierre van Rensburg, asook ’n lid uit onder­skeidelik die Nasionale Beplanningskommissie en die ministerie van finansies.

Nasionale waternood
in fases getakel
Mutorwa het gesê sodra ’n plan vir Windhoek se waterkrisis beraam is en reeds in werking gestel is, moet die komitee in fases waternoodsituasies in ander dele van die land aanpak.
“Die kusgedeelte van Namibië ervaar ook waterprobleme, asook sekere dele in die Noorde.
Sekere water­bronne is beskikbaar en ont­souting is ’n opsie. Die tegniese komitee moet egter uitwerk hoe ons hiermee te werk moet gaan,” het Schlettwein gesê.
Die ministers wou nie antwoord op die vraag hoeveel ontsoute water vanuit die see sal kos as dit na Windhoek gepomp moet word nie.
“Dit hang af van die bron van elektrisiteit wat ons sal gebruik – hetsy konvensionele elektrisiteit of sonkrag. Tans kos water vanaf die Areva-ontsoutingsaanleg sowat N$42 per kubieke meter. Die fyner besonderhede moet egter nog uitgewerk word,” het Schlettwein gesê.
Die ministers wou ook nog nie sê wat die geskatte koste sal wees van water wat vanuit die Kavangorivier na Sentraal-­Namibië gebring word nie.
Schlettwein het egter gesê die prys van water is belangrik en dat ­besighede steeds mededingend moet kan wees.
“Dit is egter te vroeg om te sê en die antwoord hang ook af van watter tegnologie beskikbaar is.
“Die tariefstruktuur vir water sal egter nie beduidend binne die volgende maande verander nie,” het hy gesê.
Mutorwa het gesê die kabinetskomitee sal maandeliks aan president Geingob oor die watersituasie rapporteer asook oor die doeltreffendheid van maatreëls van waterbestuur.
Volgens Mutorwa het sy ministerie verskeie voorstelle van die publiek ontvang oor hoe om die waterkrisis moontlik op te los. Hy het dié voorstelle aan die tegniese komitee oorhandig wat dit moet ondersoek. Die komitee sal ander kenners of enige lede uit die samelewing wat goeie voorstelle het, ook na hul vergaderings kan nooi.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!