Water van 'n eend se rug?
Water van 'n eend se rug?

Water van 'n eend se rug?

Dit lyk asof die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgradering van die land se kredietstatus verbasend goed gaan oorleef – of dalk is dit net die stilte voor die storm.
Suid-Afrika se voorste ekonome dink oënskynlik die min reaksie op die kredietstatus afgradering sal dalk 'n tydelike blaaskans wees, want hulle het hul voorspellings oor ekonomiese aanwysers in die land nog verbasend min aangepas sedert die nuus van die afgradering van Suid-Afrika se buitelandse skuld tot rommelstatus bekend geword het.

Nadat die ekonome in April, kort ná die bekendmaking van die nuus, afwaartse aanpassings gemaak het, het hulle verlede maand baie min aan hul voorspellings getorring.

En van die voorspellings is selfs positief aangepas, hoewel baie min, soos dat die rand se wisselkoers teen die dollar en die inflasiekoers beter gaan wees as wat 'n maand gelede in die vooruitsig gestel is.

Die 30 ekonome word elke maand gevra om voorspellings oor 14 ekonomiese veranderlikes te doen. Dié voorspellings word dan elke maand deur prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Nagraadse Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch, in konsensusramings verwerk wat lesers 'n idee gee van wat die voorste ekonome dink.

Die grootste verrassing is dat die ekonome hul voorspelling oor die gemiddelde wisselkoers van die rand teenoor die dollar in die laaste kwartaal positief aangepas het.

Die groot vrees ná die afgradering was dat dit tot 'n uitvloei van buitelandse kapitaal sou lei, wat noodwendig tot 'n swakker rand sou lei en dat dit uiteindelik in hoër inflasie sou neerslag vind. Tog voorspel die ekonome nou dat die rand in die laaste kwartaal gemiddeld teen R13,62 vir 'n dollar sal verhandel, wat effens beter is as die R13,64 wat in die vorige maand in die vooruitsig gestel is.

Die rand was die afgelope week trouens die sterkste in twee maande en verhandel teen minder as R13,00 vir 'n dollar.

Die sterk rand is grootliks die gevolg van beter as verwagte inflasiesyfers, en aanduidings dat pres. Jacob Zuma in ANC-geledere al hoe meer die wind van voor kry.

Nog 'n rede vir die sterk rand is dat die verwagte uitvloei van kapitaal as gevolg van die afgradering oënskynlik nog nie begin het nie.

Dit lyk ook nie of die ekonome dink dat dit gou gaan gebeur nie, want hulle verwag nou 'n kleiner tekort op die lopende rekening as wat in die vorige maand in die vooruitsig gestel is. Die jongste voorspelling is 'n tekort van R151,99 miljard teenoor die vorige maand se R159,73 miljard.

Die situasie kan natuurlik verander as Moody's Investor Services ook sy gradering afwaarts aanpas. 'n Besluit hieroor word binnekort verwag.



Inflasie

Die ekonome het ook hul voorspellings oor die inflasiekoers afwaarts aangepas. Die jongste voorspelling is 'n gemiddeld van 5,79% in die laaste kwartaal teenoor die vorige maand se 5,83%.

Die Sentrale Statistiekdiens het vroeër die week verras met die nuus dat die verbruikersindeks verlede maand tot 5,3% gedaal het, teenoor die vorige maand se 6,1%, wat die inflasiekoers uiteindelik weer binne die Reserwebank se inflasieteikenband plaas. Die Reserwebank het egter die week gewaarsku dat die politieke onsekerheid steeds 'n demper op ekonomiese groei plaas.

Hulle het hul voorspelling oor die ekonomiese groeikoers vir vanjaar tot 0,87% verminder teenoor die vorige maand se 0,99% en 1,27% in Maart. Die Reserwebank het ook dié week sy groeivoorspelling van 1,2% tot net 1% verminder.

Die ekonome het ook hul voorspelling vir aanstaande jaar van 1,41% tot 1,33% verminder. Die Reserwebank het ook sy voorspelling vir aanstaande jaar van 1,7% tot 1,5% verminder.

Die ekonome verwag ook nie dat die rentekoerse gaan daal voordat die huidige politieke onsekerheid uit die weg geruim is nie. Hulle verwag nou 'n gemiddelde primakoers van 10,53% in die laaste kwartaal.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!