Water vir die sentrale kus

Die vervanging en opknapping van waterleweringsinfra­struktuur aan die kus sal versekerde watervoorsiening op die medium- tot langtermyn tot gevolg hê.
Otis Daniels_Finck
Kuskantoor – Die ratte is geolie vir die daarstelling van 'n geïntegreerde watervoorsieningstelsel vir die sentrale kusgebied van Namibië. Die doel is om die drie waterbronne wat beskikbaar is vir waterlewering aan die dorpe, myne en ander kleiner watervraagpunte in die omgewing te verbind.

Die drie waterbronne is die Kuiseb-delta, die Omaruru-delta, of Omdel soos dit bekend staan, en ontsoute water.

Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het Saterdag 5 Junie die sooi gespit vir die opgradering van die Kuiseb Collector 2-pypleiding tussen Schwarzekuppe en Swakopmund.

Die Kuiseb Collector 2-pypleiding tussen Schwarzekuppe en Swakopmund is in 1974 in gebruik geneem en is dus 47 jaar oud.

“Soos blyk uit gereelde pypbreuke, het hierdie 76 km lange ondergrondse betonpypleiding die einde van sy ekonomiese lewensduur bereik en moet dit vervang word.

“Vanweë die hoë koste van die vervanging, sal die dele waar die pyp dikwels breek, eerste vervang word,” het hy gesê.



PRIORITEITE

Op grond van hierdie prioriteitsbepaling het NamWater se siviele konstruksiespan die kwesbaarste deel met 'n totale lengte van 21,5 km vervang. Die span het daarna met die tweede deel van 'n totale lengte van 13,2 km begin.

Buiten die werk wat NamWater se konstruksiespan onderneem het, het die nasionale watervoorsiener 'n kontrakteur aangestel om nog 'n gedeelte van die pypleiding van sowat 23, 3 km (deel 6A) aan te lê met die doel om die projek te bespoedig.

Dié gedeelte begin naby die Duin 7-gebied buite Walvisbaai en strek noord in die rigting van Swakopmund. Dit eindig 8 km suid van die Swakopmund Base Reservoirs.

“Dit is 'n 23,3 km lange pypleiding bo die grond en is 'n gesamentlike onderneming wat deur Adaptive Building Land Construction en China State Construction Engineering Corporation (Suider-Afrika) teen 'n bedrag van N$267 miljoen aangepak sal word,” het Schlettwein gesê.

Hierdie pypleiding sal 'n kapasiteit van 1 130 kubieke meter per uur hê en sal na verwagting teen 7 Maart 2022 voltooi wees.

Dit word volgens Schlettwein deur die regering via die tegniese komitee van kundiges op watersekuriteit (TCE) gefinansier.

“Daar word beoog om 'n kontrakteur aan te stel om die laaste 8 km-gedeelte, tussen die einde van die 23,3 km-gedeelte en die Swakopmund Base Reservoirs, in 2022–'23 te vervang,” het hy gesê.



DUBBELE DOEL

Schlettwein het ook genoem dat die nuwe pypleiding grootliks gebruik sal word om grondwater uit die Kuiseb-waterdraers aan Swakopmund te voorsien. Dit sal ook, sodra dit volledig voltooi is, in die omgekeerde rigting gebruik kan word om water van die Omdel-waterdraer en die Orano-ontsoutingsaanleg aan Walvisbaai te lewer.

Dit sal hoofsaaklik nodig wees tydens groot vloede in die Kuisebrivier wanneer pompe en pypleidings in die rivier beskadig is en waterlewering belemmer word.

“Sodra die waterbehoefte van Walvisbaai meer is as wat die Kuiseb-akwifers kan lewer, sal die omgekeerde werking van die nuwe pypleiding gebruik word om ontsoute water aan Walvisbaai te verskaf. Dit sal dan die permanente werkswyse word,” het die minister verduidelik.



SAMEWERKING

Schlettwein het benadruk dat samewerking die geïntegreerde hulpbronbestuurstelsel sal bevorder.

“Dit vereis dat die verskillende behoeftes en eise van belanghebbendes in ag geneem moet word om die optimale bestuur van die hulpbron te verseker. Die betrokkenheid van alle belanghebbendes is van kardinale belang om hierdie lewensgewende hulpbron suksesvol te bestuur.”



KRAGTOEVOER

Volgens Schlettwein is 'n kraginfrastruktuur nodig om die nodige elektrisiteit te verskaf om water oor groot afstande te pomp.

“Die regering kan nie water weerhou as 'n infrastruktuurkomponent nie gelewer kan word nie en daarom het NamWater sy eie kraglyne aangelê om by die nuwe boorgate en reservoirs aan te sluit, en om verlore kraglyne te vervang wat die ­situasie bemoeilik het,” het Schlettwein gesê.



GEÏNTEGREERDE STELSEL

NamWater se uitvoerende hoof, mnr. Abraham Nehemia, het gesê die geïntegreerde watervoorsieningstelsel vir die kusgebiede van Namibië is daarop gemik om die drie waterbronne met dorpe, myne en ander kleiner watervraagpunte in die omgewing te verbind.

Die drie waterbronne is die Kuiseb-delta, die Omaruru-delta, of Omdel soos dit bekend staan, en ontsoute water.

“Die pypleiding tussen die Kuiseb-delta en Swakopmund is geïdentifiseer as die swakste skakel in die geïntegreerde waterstelsel,” het hy verduidelik.

Hy het bygevoeg dat die regering en NamWater in infrastruktuur belê het wat al drie bronne in staat stel om in al die waterbehoeftes te voorsien.

“Ons het water nodig vir ons basiese behoeftes en ekonomiese aktiwiteite. Dit vereis dat meer nuwe pypleidings aangelê en waterreservoirs gebou moet word. Die meeste van hierdie werk het reeds begin.”

ANDER PROJEKTE

Benewens dié projek wat van stapel gestuur is, het NamWater in die omgewing ook met ander projekte ten bedrae van sowat N$200 miljoen begin.

Dit sluit in die boor van nuwe boorgate, die aanlê van nuwe pypleidings, die vervanging van ou pyplyne en die oprigting van nuwe kraginfrastruktuur om elek­trisiteit aan die nuwe boorgate in Dorob, die Swartbank-gebied en Kuisebrivier te verskaf, terwyl die reservoirs opgegradeer word en hul pypleidings vervang word, insluitend dié by die Rooikop-weermagbasis en die Walvisbaai-gebied.

Al hierdie komponente is nodig vir die bestuur van 'n suksesvolle waterbestuurstelsel, het Nehemia verduidelik.



N$1 MILJARD-BELEGGING

NamWater en die regering het die afgelope tien jaar reeds sowat N$1 miljard belê in die integrasie en opgradering van waterinfrastrukture, wat die plaaslike owerhede van Walvisbaai, Swakopmund, Hentiesbaai en Arandis sowel as die myne in die Erongostreek bedien.

Die waterverbruik word tans gelykop verdeel tussen die plaaslike owerhede en die myne en elk ontvang 12 miljard kubieke meter water.

Daar is wel 'n groot verskil in die tariewe. Plaaslike owerhede geniet 'n veel laer tarief as kommersiële entiteite soos myne, sê hy.



NUWE ONTSOUTINGSAANLEG DEEL VAN PLAN


Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het Saterdag bevestig die regering gaan nog 'n ontsoutingsaanleg aan die kus oprig.

“Nog 'n ontsoutingsaanleg vir Namibië is nou 'n werklikheid omdat die regering so 'n aanleg gaan bou," het Schlettwein tydens die sooi­spitgeleentheid vir die bou van die Kuiseb Collector 2-pypleiding tussen Schwarzekuppe en Swakopmund gesê.

Hy sê die nuwe ontsoutingsaanleg sal beter wees as die een wat Namibië tans het.

“Die lewensvatbaarheidstudie is voltooi en toon dat 'n bykomende ontsoutingsaanleg nodig is. 'n Bouterrein vir hierdie groot projek is reeds geïdentifiseer.

“Ons beplan 'n openbare-­­­private-vennootskap waardeur kapitaal in die private sektor aangewend kan word om die bouproses te finansier, terwyl NamWater die eienaar van dié hulpbron sal wees,” sê hy.



UITDAGINGS

Daar is volgens Schlettwein twee uitdagings vir die bou van 'n ontsoutingsaanleg.

Eerstens is baie energie (elektrisiteit) nodig om water te ontsout, en tweedens is baie krag nodig om die water tot in die binneland te pomp aangesien die oseaan op die laagste punt in die land is. Dit sal baie geld kos.

Schlettwein het verlede Saterdag die beplande ontsoutingsaanlegterrein tussen Swakopmund en Hentiesbaai besoek en gesê die aanleg is daarop gemik om die probleem met die beperkte hoeveelheid water aan die kus en die sentrale gebied van die land op te los.

“Ons is amper in 'n situasie waarin die hulpbronne wat ons gebruik om die waterbehoefte te bevredig, nie voldoende is nie. Dit vereis dat NamWater al hoe verder van Windhoek moet gaan om bykomende hulpbronne aan te wend.

“Ons het die ontwikkelingskoste in Windhoek vergelyk met die koste van byvoorbeeld die kus. Verskeie nywerhede kan aan die kus gevestig word waar daar 'n onbeperkte waterbron is wat ontsout kan word.”



VERSKUIF NA DIE KUS

Schlettwein het daarop gewys dat dit 'n verskuiwing van ontwikkeling vanaf die sentrale deel van die land na die kus sal beteken.

“Walvisbaai en Swakopmund is die l­ogistieke spilpunte van nie net Namibië nie, maar ook in die streek en daarom benodig dit 'n ontsoutingsaanleg.

“Dit sal verseker dat Namibië aan die voorpunt bly deur 'n onbeperkte voorsiening van water vir potensiële beleggers te bied – wat nie op ­beloftes reageer nie, maar op ­feitelike situasies steun,” sê die minister.

Hy het ook gesê die bou van 'n nuwe ontsoutingsaanleg is deur indringende gesprekke vooraf gegaan.

“Almal is van mening dat Namibië 'n droë land met beperkte hulpbronne is. Ons het wel 'n onbeperkte bron reg voor ons deur. Water uit die oseaan is nie drinkbaar nie, daarom moet dit ontsout word om geskik vir menslike gebruik te wees. Dit moet ook van die kus af gepomp word na waar dit ook al nodig is.”



HUIDIGE ONTSOUTINGSAANLEG

Namibië het reeds een ontsoutingsaanleg in die Erongostreek. Dit is 35 km noord van Swakopmund en is die grootste ontsoutingsaanleg vir omgekeerde osmose van seewater in suidelike Afrika.

Die aanleg is oorspronklik deur Orano (destyds Areva Resources Namibia) gebou om water aan sy Trekkopjemyn naby Arandis te lewer en het 'n belangrike bydraer geword tot die land se drinkwaterstelsel wat deur NamWater bestuur word.

Hierdie aanleg lewer tans 12 miljoen kubieke meter water per jaar aan NamWater.

Hierdie water word meestal aan myne en nywerhede buite die kusdorpe verkoop.

Dit het 'n korttermyn kapasiteit van 20 miljoen kubieke meter water per jaar wat op die lang termyn tot 45 miljoen kubieke meter per jaar verhoog kan word.

Volgens NamWater staan die Erongostreek se waterbehoeftes van die gemeenskappe en die myne tans op ongeveer 20 miljoen kubieke meter water per jaar.


FOTO’s

NamWater is besig met 'n geïntegreerde, verbeterde watervoorsieningstelsel vir die sentrale kusgebied. Foto Olga Ernst & Hp.Baumeler/Wikimedia Commons

Minister Calle Schlettwein en NamWater-amptenare het Saterdag die sooispit-seremonie van die Kuiseb Collector 2-pypleiding tussen Schwartzekuppe en Swakopmund behartig. Foto Otis Daniels

Die Erongostreek se bestaande ontsoutingsaanleg wat 35 km noord van Swakopmund geleë is. Foto Otis Daniels

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!