Waterplan gaan N$24 miljard kos
Waterplan gaan N$24 miljard kos

Waterplan gaan N$24 miljard kos

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Die meesterplan vir waterverskaffing in Namibië sal na raming N$24,185 miljard kos. Noodsaaklike projekte wat egter onmiddellik begin moet word om te keer dat die waterkrisis vergroot, sal N$122 miljoen kos.
Tydens samesprekings Dinsdag by staatshuis tussen kenners in die waterbedryf en die president en sy kabinet, is die meersterplan vir nasio­nale waterverskaffing ter tafel gelê.
Geingob het die vergadering byeengeroep met die oog daarop om moontlik ’n droogtenoodtoestand in Namibië af te kondig.
Die verwikkeling vind plaas terwyl slegs sowat 11% ofte wel 17 Mm³ water oor is in die drie damme wat Windhoek van water voorsien.
Lede van die Windhoekse munisipaliteit, NamWater asook die ministerie van landbou, water en bosbou was teenwoordig.
Mnr. Abraham Nehemia, adjunk- permanente sekretaris in die departement van water en bosbou in die ministerie, het gesê as deel van die plan moet sekere projekte onmiddellik geïmplementeer word.
Dit sluit in die ontwikkeling van die Karst-waterverskaffingskema vir Sentraal Namibië, watertoevoer na die Uuvudhiya-gebied met die Etaka-kanaal en die bou van die Epembe-pyplynnetwerk by die Ohangwena II-akwifer.
Verder moet die Otjombinde-pyplynnetwerk, Daures-kiesafdeling se pyplynnetwerk en King Kauluma-pypverlengings asook die Katima Mulilo-reservoir en Ruacana-Suid se waterverskaffingskema dringend gebou word.
Die groter meesterplan vir water sluit in dat die land in verskeie sones ingedeel word, waarvoor bykomende water onder meer van grensriviere gekry sal word, terwyl water vir die sentrale noorde van die Kunenerivier moet kom.

PLAN VIR SENTRAAL NAMIBIË
Die regering wil dringend daarna kyk om die Karst-akwifer in die Grootfontein- en Tsumeb-omgewing verder te ontwikkel, waarvan die water vir Sentraal Namibië aangewend moet word.
Dit sluit in dat meer water van die Berg Aukas- en Kombatmyn gepomp moet word. Die water wat tans daarvandaan kom, gaan via die kanaal hoofsaaklik na Okakarara, met min wat Windhoek bereik.
“Die stelsel moet dringend vergroot word om Windhoek te help om die volgende reënseisoen te haal. Die kanaal moet egter ook herstel word. Dit sal na verwagting sowat N$44 miljoen kos,” het Nehemia gesê.
“’n Haalbaarheidstudie word tans uitgevoer vir die bou van die Kavangorivier-pyplyn om oor die medium termyn meer water met die kanaal na Windhoek te kan gelei. Die plan is om tydens die reënseisoen voortdurend water van die rivier te pomp.
“Sodra Von Bachdam vol is, kan dit Sentraal Namibië vir twee reënseisoene van water voorsien. Ons kan dan verseker dat dit nooit te leeg raak nie,” het Nehemia gesê.
Langtermynplanne sluit in om Sentraal Namibië se waterstelsel te verbind met ontsoutingsaanlegte teen die kus.
Verder moet bestuurde hervullingstelsels vir die akwifer op die been gebring word.

SENTRALE NOORDE
“Wat die Sentrale Noorde betref, moet meer water so gou as moontlik met die Calueque-Oshakati-kanaal na die Olushandjadam geneem word. Terselfdertyd moet die Etaka-kanaal dringend herstel word sodat water na die Uuvudhiya-gebied gepomp kan word.
“In die lang termyn sal ’n haalbaarheidstudie uitgevoer word oor die vervoer van water van Calueque na Oshakati en die Oshakati waterbehandelingsaanleg moet gerehabiliteer word,” het Nehemia gesê.
Wat die Ohangwena-akwifers betref, moet produksieboorgate by Oshandi gesoek word om vas te stel hoeveel water dit lewer.
’n Waterbehandelingsaanleg moet ook aangebring word om die fluoried in die water te verminder.
“Die Ohangwena II-akwifer hou, volgens studies, sowat 20 Mm³ water en minder as wat aanvanklik gedink is. Die akwifer strek egter tot in Angola en hervul hom uit Angola.”

KUS EN SUIDE
Te veel water word tans uit die Omdel-akwifer onttrek. Planne vir die kus sluit in die ontsouting van seewater asook die koop van die Areva-ontsoutingsaanleg in.
Nehemia sê die voltooing van die Neckartaldam moet help om meer water vir die Suide te verseker en terselfdertyd moet die haalbaarheidstudie vir die bou van die Noordoewerdam voltooi word.
“Ons het reeds probleme met water by Aus en Karasburg ervaar, terwyl Lüderitz in die lang termyn ook meer water nodig gaan hê.”
’n Begrotingstekort van N$1,112 miljard bestaan egter vir die voltooing van die Neckartaldam, wat Nehemia toeskryf aan die hofsake wat gevolg het nadat die tender reeds toegeken is.
“Daar kon nie dadelik met die werk begin word nie,” het hy gesê.

LANDELIKE GEBIEDE
Nehemia het gesê die plan is om pyplyne uit te brei na ongedienste dele in al die streke van die land, tesame met die bou van grootmaat-waterver­skaffingskemas, waterbehandelingsaanlegte asook pompstasies.
“Wat die verskaffing van grondwater betref, moet meer boorgate gesink word. Dit sluit in die ontwikkeling van Ohangwena II en die Eiseb-waterdraers.”
Intussen moet binnelandse damme met mekaar verbind word. ’n Waterverbinding moet van die Neckartal-, Naute-, Hardap-, Oanob en Von Bachdam loop.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!