Watersake by skole beredder

Die Windhoek-munisipaliteit hoop om volgende jaar genoeg finansiële steun vir die program te werf sodat dit na meer skole uitgebrei kan word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Ses skole in Windhoek het die ­afgelope jaar by 'n waterbespa­ringsprojek gebaat.

Die Fix-a-leak-program is van stapel gestuur omdat die uitermatige hoë waterverbruik in die Khomasstreek se 118 staatskole 'n voortdurende uitdaging is.

Die Primêre Skool Havana, die Eros Meisieskool, Windhoek ­Hoërskool (WHS), Laerskool Van Rhyn, Sekon­dêre Skool Dawid Bezuidenhout, asook Laerskool Moses van der Byl is gekies vir die installering van ­toerusting om hul waterverbruik te verminder, met die fokus op waterdoeltreffende krane.

Dit is deur die Windhoekse munisipaliteit met die goedkeuring van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur geïmplementeer.

Die program het onder meer behels dat skoolhoofde, asook kernpersoneel opleiding in doeltreffende water­bestuur ontvang, sodat skole se daaglikse waterverbruik geëvalueer kan word en om lekkasies spoedig op te spoor.

Die program kon danksy ­borgskappe van Coca Cola Namibia, Pearl Water­free Technologies en Pupkewitz ­Megabuild geïmplementeer word.



HAVANA VAT VOOR

Zambezi Eye-spoelstelsels is in sommige toilette by die Primêre Skool Havana geïnstalleer.

Dié stelsel is spesiaal ontwerp vir 'n waterdoeltreffende spoeling in openbare toilette, waarvan die onderhoud minimaal is.

Ná 'n jaar se gebruik, was geen ­herstelwerk tot dusver nodig nie.

Die skool se pypstelsel is ook aangepas sodat dit maklik toegedraai kan word wanneer die skool sluit, terwyl net die sekuriteitspersoneel toegang tot water het.

Die stelsel verseker dat ongeïdentifiseerde waterlekkasies geïsoleer word.

Smart Group Technologies het ook 'n slimwatermeter, of 'n elektroniese waterbestuurstelsel aan die skool verskaf.

Dié meter monitor die skool se water­verbruik voortdurend en lekka­sies word binne ure opgespoor.



BESTUUR

Deskundiges het voorheen aan ­Republikein gesê waterbestuurmaatreëls by skole kan die onderwys­ministerie tot 50% op hul water­rekening bespaar.

Dit sal ook help met onnodige ­waterverliese weens lekkasies.

Boonop, is gesê, kan waterbesparende toerusting staatskole se waterrekeninge met 'n verdere 30% verminder.

Krane, storte en toilette kan met ­waterbesparingstoerusting soos vloeireguleerders, -beperkers en -belugters toegerus word om heelwat minder water te verbruik.

Volgens die munisipaliteit is krane verantwoordelik vir tussen 25% en 30% van skole se waterverbruik.

As waterdoeltreffende krane eerder gebruik word, kan waterverbruik met tot 80% verlaag.



WATErlekkasies

Toilette is verantwoordelik vir tussen 50% tot 60% van waterverbruik en waterdoeltreffende toerusting in ­toilette kan algemene waterverbruik met 'n verdere 25% verlaag.

Daarteenoor kan waterlekkasies tot 'n maand se water in minder as een dag verbruik.

Oor die algemeen kan die toepassing van die program beteken 'n skool se vraag na water word met tot 35% besnoei.

Die munisipaliteit hoop om volgende jaar genoeg finansiële steun vir die program te werf sodat meer skole voordeel daaruit kan trek en meer waterdoeltreffende krane geïnstalleer kan word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!