Waterskaarste maak Windhoek al hoe dorser
Waterskaarste maak Windhoek al hoe dorser

Waterskaarste maak Windhoek al hoe dorser

Ondanks pleidooie om water te bespaar, gebruik Windhoekers -veral huishoudings – ál meer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Windhoekers wend min pogings aan om gehoor te gee aan die munisipaliteit se vereiste om 10% water te bespaar – ondanks 'n knellende droogte.

Trouens, sedert Januarie het Windhoekers gemiddeld 13% méér water gebruik as wat tydens 'n droogte toelaatbaar is.

Me. Lydia Amutenya, ­munisipale woordvoerder, het vandeesweek aan Republikein gesê die impak van die huidige droogte op die stad se water­beskikbaarheid sal eers tydens 'n werkwinkel vir rolspelers in die water­netwerk vir sentrale Namibië bepaal word.

“Die huidige tekort aan water, asook die feit dat die invloei van water in ons damme tot dusver ­onvoldoende was, spreek vanself,” sê sy.

Indien Windhoek se waternood toeneem, kan die munisipaliteit 'n ernstige droogte of selfs 'n waterkrisis aankondig, wat beteken die waterbestuurplan sal na kategorie D of selfs E geskuif word.

Hiervolgens sal inwoners van die hoofstad 15% tot 20% water moet bespaar.

Kategorie E kan selfs waterrantsoenering beteken.

Amutenya het verduidelik die munisipaliteit het op 1 Augustus verlede jaar reeds 'n waterskaarste of droogte in Windhoek aangekondig op grond van NamWater se vooruitsigte vir waterverskaffing oor 'n tydperk van drie jaar.

“Dit beteken die stad val tans in kategorie C, wat vereis dat minstens 10% water bespaar moet word,” sê sy.

Amutenya waarsku rantsoenering is inderdaad 'n moontlikheid as Windhoekers nie genoeg water bespaar nie. “Boonop word Windhoek se nood- waterbronne opgebruik, wat ernstige gevolge op die lang termyn kan hê,” sê sy.

Sy verduidelik die munisipaliteit hersien alle watertariewe jaarliks.

Dít word op die beskikbaarheid van water in sentrale dele van die land gebaseer.

Dié evaluerings word deur alle belangegroepe in sentrale Namibië gedoen en moet met die munisipali­teit se waterbestuurplan strook.

“Die munisipaliteit maak vir 70% van sy water op bogrondse water staat. Dit word deur NamWater verskaf. NamWater het verlede jaar reeds hul vooruitsigte vir water­voorsiening vir die komende drie jaar bekend gemaak,” sê Amutenya.



SPAAR WATER Só

Amutenya sê huishoudelike verbruikers moet verkieslik niks meer as 90 liter water per dag per persoon in hul huise gebruik nie.

Volgens 'n verslag wat in Mei 2016 deur Simonis Storm Securities (SSS) uitgereik is, word meer as die helfte (54,1%) van Windhoek se water deur huishoudings benut.

Die gemiddelde huisbewoner gebruik daagliks 176,3 l water pleks van die aanbevole 90 l.

Dié 90 l-kwota is 40 l meer as die internasionaal aanvaarde 50 l per dag, die minimum vereiste om in menslike behoeftes te voorsien.

“Die onus rus op huishoudings om 10% waterbesparings te behaal, aangesien besighede reeds baie gedoen het ten opsigte van doeltreffende watergebruik om hul winste te optimaliseer,” het Amutenya gesê.

Sy het gesê indien ­huishoudings waterdoeltreffende toerusting gebruik en hul verbruik meer doeltreffend bestuur, sal dit 'n enorme ekonomiese voordeel vir alle ­verbruikers inhou.

Volgens Amutenya sluit besparingsmaatreëls in om tuine so min as moontlik nat te maak. Bome, bosse en meerjarige plante kan met die hand natgemaak word. Plante moenie in die somer tussen 9:00 en 18:00 of in die winter tussen 10:00 en 16:00 water gegee word nie.

Alle swembaddens moet bedek word en kunsmatige ­waterbronne soos fonteine moet verkieslik af­geskakel bly. Amutenya sê ook mense moet tuis hul motors met 'n emmer water was.

Ander wenke sluit in slegs geharde plante in die tuin wat net weekliks of maandeliks natgemaak hoef te word, asook waterdoeltreffende natmaakmetodes. Gebruik liewer meer waterdoeltreffende ­toilette, vind en beperk waterlekkasies so gou as moontlik, en stort liewer vinnig eerder as bad. “Lees jou water­meter weekliks sodat jy verbruik beter kan monitor.”

Besighede kan ook water bespaar deur verbruik te monitor, beter bewustheid oor waterbesparing onder werknemers te skep, en die gebruik van herwinde water te oorweeg. “Stel 'n waterbeampte aan vir doeltreffende waterbestuur,” stel ­Amutenya voor.

“Terwyl water oraloor die land bespaar moet word, moet juis stede­like inwoners dringend bespaar weens die herhalende droogtes wat ons in dié dele van die land ervaar.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer