Watter kant toe vir Saru met Jurie Roux?
Rugby
Stephen Nell – Om te sê dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hom in ’n moeilike posisie bevind ná die arbitrasie-uitspraak teen sy uitvoerende hoof, Jurie Roux, is om dit sagkens te stel.
In ’n neutedop is bevind dat Roux kontrakbreuk gepleeg het deur sonder die Universiteit Stellenbosch (US) se medewete R37 116 402 van sy kontantreserwes te bestee – R35 312 004 vir die Maties-rugbyklub en R1 804 398 vir die Westelike Provinsie se Rugbyinstituut.
Roux, wat voor sy aanstelling by Saru in 2010 die US se senior direkteur van finansies en batebestuur was, word nie daarvan beskuldig dat hy geld in sy eie sak gesteek het nie, maar die US se standpunt is doodeenvoudig dat hy nie gemagtig was om daardie geld na willekeur aan te wend nie.
Dis egter in die uitspraak waar die jakkalsies wat die wingerd verniel het, gevind word. Daarin sê adv. Alasdair Sholto-Douglas SC dat Roux geweet het wat hy doen, is verkeerd en dat hy kontrakbreuk gepleeg het.
Daar word so ver gegaan as om te sê dat hy teen die beste belang van die US opgetree het, dat hy oneerlik was en dat hy in slegte trou gehandel het.
Dis omtrent ’n mondvol en ’n mens kan seker sonder teenspraak sê dat Roux nie in sy huidige pos sou gewees het as Saru voor sy aanstelling van al daardie dinge bewus was nie.
Roux gaan nou appelleer, maar soos sake staan, skuld hy die US meer as R37 miljoen plus rente en regskoste.
Dis onwaarskynlik dat Roux naastenby soveel geld het en die US het dit seker vooraf geweet. Terselfdertyd was die US se perspektief waarskynlik dat só iets nie geduld kan word nie en dat hy daadwerklik moet optree.
Roux se reputasie is in die proses ’n gevoelige knou toegedien. Hy was alom as ’n sterk kandidaat beskou om Wêreldrugby se volgende uitvoerende hoof te word, maar soos sake tans staan, kan ek nie sien hoe dit sal gebeur nie.
Nietemin gaan Roux appelleer en wie weet waar dit ons gaan laat.
Saru se kommentaar in sy reaksie op die uitspraak was skraps. Dit is na sy regsadviseurs verwys en daar word vir die appèlproses gewag om sy gang te gaan.
Die kruks van die saak is waarskynlik of Saru teen Roux kan, moet of wil optree vir iets wat by sy vorige werkgewer gebeur het.
As Saru se gedragskode terugwerkend toegepas sou word, is Roux beslis aan vele fronte potensieel in die moeilikheid.
Heimlik hoop Saru se groot kokkedore waarskynlik op ’n regsmening dat Roux se geveg met die US niks met hom te make het nie.
Die groot probleem, of die positiewe ding afhangend van hoe jy daarna kyk, is die onderskeiding waarmee Roux sy werk doen. Saru het sy kontrak nou al twee keer verleng ten spyte van sy stryd met die US wat soos ’n swaard oor sy kop gehang het.
Of Suid-Afrika die Wêreldbeker-toernooi sou gewen het sonder dat Roux Rassie Erasmus en Jacques Nienaber oorreed het om na Suid-Afrika terug te keer is ’n ope vraag.
Hy het Suid-Afrika met onderskeiding by Sanzaar en Wêreldrugby verteenwoordig, die skip naatloos in die rigting van die Noordelike Halfrond se toernooistrukture gestuur en Suid-Afrikaanse rugby deur Covid-19 gelei.
In alle eerlikheid kry ek die indruk dat Roux in sy jonger dae as voorsitter van die Maties-klub roekeloos naïef was. Die US het die vrugte van ’n suksesvolle rugbyspan gepluk en deur veral welslae in die vroeë jare van die Varsitybeker-reeks goed gevaar uit die geld wat Roux bestee het.
In Sholto-Douglas se uitspraak word daardie kwessie aangeroer, maar Roux-hulle het dit nie spesifiek “gepleit of bewys nie” en ek moet erken dat dit my verbaas het.
Dis nie ’n regverdiging vir ongemagtigde besteding nie, maar werp beslis ’n ander lig daarop.
Met nabetragting wonder ek of hierdie nie ’n saak is wat lankal geskik moes gewees het nie. Die US is nou die spreekwoordelike hond wat die motor gevang wat hy gejaag het sonder dat hy in materiële terme gaan kry waarop die uitspraak sê hy geregtig is, Roux se reputasie is ernstige skade berokken en Saru weet nie watter kant toe nie.
So wie het dan nou eintlik gewen?
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie