Watwo padwoede!
Ek het altyd gedink as mense van padwoede praat, is dit net ’n mite. Voor ek my rybewys gekry het, het ek altyd gewonder hoekom mense so kwaad raak wanneer hulle bestuur. Om te bestuur lyk dan so lekker. Ek kon nie verstaan hoekom mense so opgewerk kon raak oor ander voertuie nie.
Tot ek self begin bestuur het. Tóé verstaan ek padwoede 100%.
Ek is ’n baie rustige en goedhartige mens. Ek raak nie sommer kwaad nie, en ek hou glad nie van konflik nie. Dit egter asof my ander bose persoonlikheid na vore kom wanneer ek bestuur.
Mense wat voor jou inry, sommer in die middel van die pad stop, ’n stopstraat of rooi verkeerslig verontagsaam of op die toeter lê oor jy nie binne 0.001 sekondes begin ry as die groen pyltjie verskyn nie.
Ek dink net hieroor en raak sommer dadelik kwaad.
Maar ek het besluit om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Ek gaan my geduldige baadjie aantrek en nie toelaat dat ander my vreugde steel nie. Ek gaan my liefdevolle self wees wanneer ek bestuur.
So breek een lieflike Maandagoggend aan en ek besluit vandag is die dag vir verandering. Hoekom ek juis op ’n Maandag só besluit het, sal niemand weet nie. Miskien omdat ek gehoop het die week skop beter af as ek in ’n goeie bui by die werk opdaag.
Ek klim in die motor en sing lekker saam met die treffers op die radio. My goeie bui het net gehou tot my bande die westelike verbypad se teer tref. Ek probeer ’n motor in die linkerkantste baan verby steek, maar ons motor het nou nie die grootste enjin nie; so sy vat net so bietjie langer om aan die gang te kom. Een of ander BMW-bestuurder agter my besluit hy gaan vir my ligte wys omdat ek dit durf waag in sy baan. Stadig ry is benede hom.
Ek besef hierdie is ’n toets. Ek kners op my tande, en so kalm as moontlik ry ek verby die ander voertuig en gee vir Meneer BMW pad.
Ek voel heel goed, want ek het nie kwaad geword nie.
Tot ek by die Katutura-afrit kom. Toe besef ek wat woede is.
Ek sien net ’n taxi dan is ek reeds kwaad, maar ek het mos die nuwe blaadjie omgeslaan, so ek mag nie kwaad word nie.
Die eerste taxi druk voor my in en die eerste vloekwoord glip uit. Maar ek los die toeter uit en my hande bly ferm op die stuurwiel.
Die tweede taxi druk voor my in en mis die voorkant van my motor met millimeters. Die tweede vloekwoord glip uit en my linkerhand wil-wil begin handgebare maak, maar ek hou dit terug. Dit is net twee taxi’s, Mariselle. Dit is nie so erg nie.
Die derde taxi jaag by die verkeerslig links van my verby en ek begin rooi sien, maar ek probeer my bes. Ek wil verander. Ek kan nie meer lekker onthou hoekom ek moet verander nie, maar ek weet daar was ’n rede.
Ek is minder as 300 m weg van my werk af, toe ’n taxi besluit dié gaan my verbysteek met nog ’n motor wat van die ander rigting af op pad is.
Die arme geduldige baadjie is vergete, want nou wil ek net baklei. En net daar verloor ek dit. Alles waaraan ek so hard gewerk het die hele oggend lê aan skerwe. Ek begin al twee my ronde handjies in die lig swaai en ek lê op die toeter. Ek weet ek moet nie, en ek weet dit gaan niks beter maak nie, maar ek is net só kwaad.
Ek is so intimiderend soos ’n marshmallow as ek probeer kwaai lyk, maar dit voel goed om die kwaad uit my stelsel te kry.
Ek het probeer. Ek belowe ek het, maar die taxi’s was net té veel vir my. Mens kan net soveel vat totdat jy ontplof, maar ek belowe môre probeer ek weer.
Miskien nie môre nie, maar definitief oormôre.
Of dalk volgende week.
Miskien dan maar in 2021.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie