WB-deurbraak 'net die begin'

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Namibiese Eagles keer vanoggend skuins voor agtuur terug uit Dubai ná hul hoogs mededingende debuutverskyning by die T20 Wêreldbeker, waar hulle loshande die beste van enige van die Internasio­nale Krieketraad se assosiaatlande gevaar het.

Skakel vanoggend op Republikein se Facebook-blad in vir ons regstreekse beeldsending van die aankoms van kaptein Gerhard Erasmus en sy manne op Hosea Kutako Internasionale Lughawe.

Nadat Namibië Maandagaand in Dubai sy laaste groepwedstryd teen Indië met nege paaltjies verloor het, het die naatbouler Ruben Trumpelmann in 'n Zoom-onderhoud met joernaliste gesels.

“Die ganse ondervinding was fenomenaal. Vir ons as 'n span was dit die ideale platform om reeds die nodige lesse vir volgende jaar se T20 Wêreldbeker in Australië te leer. Ons is opgewonde oor die toekoms. Die Eagles het hier gehoort en ons het elke oomblik van die reis geniet.

“Ons het die beste moontlike blootstelling gekry deur teen die bestes te speel. Die Eagles weet nou wat die standaard is en ons sal moet teruggaan en die basiese beginsels opskerp. Hopelik kan ons met die tyd verder verbeter.

“Om vir 45 dae in isolasie te moes leef, was vir ons 'n nuwe belewenis. Maar dit het ons nader aan mekaar gebring en geestelik sterker gemaak.

“Om die wêreld se voorste draaibalboulers en snelboulers te trotseer, is ewe moeilik. In die eerste groep 2-wedstryd het ons die eerste keer aflewerings van 140 km/h en vinniger van Sri Lanka beleef.

“Ons kon darem redelik aanpas om die spoed in later wedstryde te hanteer. Met draaibalboulers is dit moeilik om die balans te vind wanneer om grenshoue te slaan en wanneer om 'n verdedigende hou te speel. Maar dis 'n wonderlike leer­skool vir die pad vorentoe.

“Die Eagles wil graag ons tipe krieket as handelsmerk vestig. Volgende vir ons is 'n lekker driehoekige reeks en ons sal beslis ons nuutgevonde kennis daar aanwend.

“Ons oorwinning teen Skotland (waarin hy drie paaltjies in die eerste boulbeurt geneem het) was baie spesiaal, iets wat ek lank sal onthou. Ek sal altyd my trofee in my kamer hê en as ek eendag 80 jaar oud vir my kleinkinders daarvan vertel.

“Baie dankie vir die mense in Namibië. Die Eagles het 'n baie groot ondersteuningsbasis tuis; ons het vir hulle gespeel en ons vertoning het jong kinders aangemoedig om krieket as sport te beoefen. Die kinders is die volgende generasie wat krieket vorentoe moet neem.

“Krieket in Namibië moet nog baie ontwikkel. Baie mense het nou eers krieket begin kyk vandat ons by die Wêreldbeker begin speel het.

“Ons wou graag vir die Super 12-fase kwalifiseer en het nie hierheen gekom om tweede viool te speel nie. Die Eagles het net die één geleentheid gehad en ons wou dit ten volle benut om te kwalifiseer. Die Eagles wou graag die wêreld wys waarvan ons Namibiërs gemaak is.

“Ek dink ons het in ons doel geslaag. Ons het geweet die groot spanne sal genadeloos teen ons wees, maar gelukkig het ons harde werk vrugte afgewerp.

“Ons boulaanval sal steeds moet verbeter. Vir my om teen die bestes te kompeteer, sal ek my aflewerings beter moet uitvoer.

“Dis wonderlik dat ons nie nodig het om vir die volgende T20 Wêreldbeker te kwalifiseer nie. Die kwalifiseringsproses is altyd baie moeilik en onder groot druk, waar enige span maklik uitgeskakel kan word.

“Dus het ons nou meer tyd beskikbaar om vir Australië voor te berei. Ons is reg vir die volgende stryd. Hierdie span is nog nie klaar nie en sal graag in die toekoms meer opskuddings wil veroorsaak.

“Die outomatiese kwalifisering neem baie druk van ons af, maar dit beteken geensins ons kan op ons louere rus nie. Die span sal voortdurend moet verbeter.

“David Wiese se teenwoordigheid in die span het 'n groot rol gespeel. Hy is 'n baie ervare speler en dit het teen Nederland en ander spanne na vore gekom. Ondervinding kan jy nie met geld koop nie; hy het waardevolle raad en inligting aan ons as jong boulers gegee. David is 'n gawe ou en 'n bate vir die span.”

Trumpelmann, wat ses paaltjies in die toernooi geneem het, sê: “Ek het as bouler geen drome gehad hoeveel paaltjies ek sou vat nie. Dit was my eerste groot toernooi en ek is dankbaar vir elke paaltjie.

“Ongelukkig het dinge nie vir ons teen Indië uitgewerk nie. Ek sou graag die paaltjie van Rohit Sharma agter my naam wou skryf. Hy is 'n fantastiese kolwer; enige bouler droom daarvan om so 'n groot paaltjie teen Indië te laat kantel.

“Uiteindelik gaan dit oor span­sport en nie individue nie. Wat ook al my bydrae is, dis vir die span se sukses.”

FOTO
Die snelbouler Ruben Trumpelmann het met elk van sy min kolfkanse, insluitend teen Indië, gewys dat hy ewe graag ook ’n paar behendige sesse kan slaan. Foto Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!