Wedloop na NFA-stoel begin

Sokker
Jesse Kauraisa
Jesse Jackson Kauraisa (Namibian Sun) - Black Africa se waarnemende voorsitter Cassius Moeti, BA se gewese voorsitter Ranga Haikali en die NPL-voorsitter Patrick Kauta is onder die tien benoemings om vir die presidentskap van die Namibiese Sokkervereniging (NFA) mee te ding.

Fifa se normaliseringskomitee vir Namibiese sokker se aankondiging van die tien kandidate is die beginpunt vir 'n hewige wedloop wat op die NFA-kongres sal uitloop.

Die NFA se voormalige president Frans Mbidi, 'n gewese uitvoerende NFA-lid Mpasi Haingura en die gewese voorsitter van die NPL, Johnny Doeseb, is ander prominente figure wat vir die warm stoel in aanmerking kom.

Die NFA se visepresident Naftal Ngalangi, Isak Fredericks (voorsitter van die //Karasstreek), Mabos Vries en Kenneth Goaseb is ook op die nominasielys.

Mbidi word as 'n vroeë gunsteling uitgewys vanweë sy beduidende invloed in sokkerkringe. Die voormalige nasionale sokkerbaas het reeds verklaar dat hy regstaan om korrupsie as een van die groot bedreigings vir die plaaslike sport te help takel.

Manne soos Haikali, Kauta en Doeseb kan Mbidi egter sterk opdreun met hul bewese agtergrond as sokkeradministrateurs, is aan ons susterkoerant gesê.

Haikali en Moeti het bevestig dat hulle genomineer is, maar wou nie juis die saak bespreek nie.

“Ja, ek hoor so iets en ek is geëerd om benoem te word, maar ek het nie op die oomblik kommentaar nie,” het Moeti by navraag gesê.

Haikali se reaksie was soortgelyk: “Ek het die nuus ontvang en ek is dankbaar teenoor diegene wat my benoem het. Ek sal liewer later meer sê, sodra al die feite geverifieer is.”

Dit is bekend dat genomineerde kandidate se krediet- en moontlike misdaadrekords eers vooraf deurgekyk sal word.

Mbidi en Ngalangi is manne wat in die slag kan bly indien beslis word dat die agt jaar of langer wat hulle tevore reeds op die NFA se uitvoerende komitee gedien het, hulle moet uitskakel.

Mbidi het 'n vierjaartermyn as uitvoerende lid gedien voordat hy in 2014 onbestrede tot NFA-president verkies is om by sy voorganger John Muinjo oor te neem. Hy het tot 2018 gedien.

'n Sokkerontleder met wie die koerant gesels het, sê daar is onsekerheid of Mbidi dalk deur die regulasies se beperking op lang termyne uitgeskakel kan word.

“Ek kan jou sê dat Mbidi in 2008 op die NFA se uitvoerende bestuur begin waarneem het en in 2010 amp­telik aangestel is. Dit gee hom agt jaar sover in die NFA se uitvoerende struktuur.

“Die Sportwet bepaal dat administrateurs nie langer as tien jaar in uitvoerende posisies van 'n nasionale beheerliggaam mag dien nie, wat meebring dat Mbidi hoogstens nog twee jaar betrokke mag wees. Hopelik sal die normaliseringskomitee binnekort uitsluitsel oor sy kiesbaarheid kan gee.

“As ek so na die lys kyk, is daar heelwat name wat nie sal kwalifiseer om die president van die vereniging te word nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!