Wedstryd van die jaar is hier
Vir ondersteuners óf neutrales is dié botsing een wat nie misgeloop kan word nie.
Andrew Poolman - Met meer sterbelaaide spanne as wat verlede jaar in die eindstryd betrokke was, is dit nie 'n oordrywing om môre se botsing tussen FNB Wanderers en FNB Universiteit van Namibië as 'n keerpunt van die 2017 rugbyseisoen te bestempel nie.
Die twee onbetwiste topspanne in die Namibië Rugby-unie se premierliga wat in die vorige twee jare se eindstryde betrokke was, is beide versterk deur die vrystelling van die nasionale oefengroep se spelers vir hierdie naweek se rondte klubwedstryde.
Die motivering vir beide spanne kan beswaarlik hoër wees – boonop met kombinasies dwarsoor die veld wat goed teen mekaar opweeg.
Verskeie faktore wys dalk naelskraaps in Unam se guns. As tuisspan voor hul geesdriftige skare gaan dit geensins maklik wees om by die studentespan verby te kom.
Gevestigde kombinasies, asook fiksheid om in die tweede helfte die pas te kan versnel, is maar twee van die redes hoekom Unam reeds 16 wedstryde op 'n streep gewen het.
Dit is nie 'n geheim dat Unam daarvan hou om opponente met vloeiende hardlooprugby te oorweldig nie. Maar voordat dit kan gebeur, gaan 'n stryd soos min om die losbal woed. Beide lostrios beskik oor al die vaardighede en beheerde aggressie om 'n botsing van bykans internasionale proporsies af te gee.
Lippe kan ook afgelek word vir die bulstryd in die middelveld tussen Unam se Lesley Klim en Camlo Martin teenoor Wanderers se JC Greyling en Francois (Vullis) Wiese.
Afrigter Johan Diergaardt het naby aan 'n identiese groep beskikbaar wat verlede jaar se eindstryd teen Wanderers met 44-36 beklink het. Van die min uitsonderings is dat Hauta Veii intussen uitgetree het, maar dié keer mag Lesley Klim speel en op skrumskakel is Cameron Klassen ook terug om Sunday Haitembu na die reserwebank te verplaas.
Die Namibiese sewesspan se vertrek die naweek na Hongkong ontneem vir Unam van sy losskakel TC Kisting en vleuel Shareave Titus, terwyl Wanderers hier vir Léan Stoop afstaan.
Ander noembare afwesiges aan die Unam-kant is vleuel Chess Lawrence (beseer) en die losvoorspeler Thomas Kali (onbeskikbaar).
Die Hingste se afrigter Charl du Toit is nog betreklik nuut as hoofafrigter en sou seker nie omgegee het om nog drie beseerde spelers met toetservaring (haker Gerhard Lotter, slot Ruan Ludick of vleuel Malcolm Moore) te kon oorweeg nie, terwyl die loskop-bulstut Nian Berg ook die naweek onbeskikbaar is.
In die lynstane sal die samespel van Unam se haker Obert Nortjé en sy langer slotte Mahepisa Tjeriko en Max Katjijeko baie druk op Wanderers se minder ervare ingooier Christie du Plessis kan plaas.
'n Troefkaart vir Wanderers is egter dat die Namibiese puntemasjien Theuns Kotzé sy debuut in die Wit Hings-trui maak. Sy uitgeslape besluitneming behoort ook veel meer in die kol te wees as wat laas naweek die geval was in die tuisnederlaag met 17-25 teen Western Suburbs.
Laasgenoemde uitslag het Wanderers vyf ligapunte agter Unam as die nuwe voorloper geplaas. As Wanderers dus die eerste ronde in die topposisie wil afsluit wat met 'n plek in die Gold Cup-reeks beloon word, sal hy nie oor môre se uitslag kan onderhandel nie.
Vir neutrale kykers – soos die nuwe Curriebeker-afrigter Lyn Jones – sal hierdie gelaaide wedstryd ideaal wees om die kandidate raak te sien wat in staat is om hul talent in werklike druksituasies te laat uitleef.
FNB Wanderers: 15 Ethan Beukes, 14 Shawn Thomas, 13 JC Greyling, 12 Francois Wiese, 11 Deselvano Beukes, 10 Theuns Kotzé (o.kapt), 9 Enem Kritzinger, 8 Adriaan Booysen, 7 Rohan Kitshoff (kapt), 6 DG Wiese, 5 Dirk de Meyer, 4 Stef Botha, 3 Andries Rousseau, 2 Christie du Plessis, 1 Nelius Theron. Reserwes: Shaun du Preez, Christo McNish, AJ de Klerk, Kevin Vorster, Cody la Cock, Mahco Prinsloo, Heinrich Smit.
FNB Unam: 15 Lorenzo Louis, 14 Milaan van Wyk, 13 Lesley Klim, 12 Camlo Martin, 11 Denver Murorua, 10 Rodney Coetzee, 9 Cameron Klassen, 8 Bradley Klazen (kapt), 7 Leneve Damens, 6 Renaud van Neel, 5 Mahepisa Tjeriko, 4 Max Katjijeko, 3 Tjino Tjirare, 2 Obert Nortjé, 1 Desidarius Sethie. Reserwes: Luandro Esterhuizen, Marino Goagoseb, Muniovita Kasiringua, Berry Gande, Freddy Puriza, Silvano Beukes, Sunday Haitembu.
BUITEPERDE SLAAGS
In Khomasdal sal FNB Western Suburbs en sy besoeker Trustco United ook voordeel trek uit die vrystelling van nasionale spelers.
Beide spanne is op tien ligapunte styf op die hakke van die toptwee (United se effense beter punteverskil plaas hom derde). As voormalige kampioene in die premierliga sal albei spanne en hul ondersteuners ook hoë verwagtinge van dié seisoen koester. Dis nie 'n leeftyd gelede dat afrigter Jood Opperman se United (2014) of Suburbs (2013), wat nou onder Rudolf Witbooi se leiding staan, koning gekraai het nie.
REHOBOTH OP KUSPAD
Beide spanne van Rehoboth vertrek na die hawedorp op 'n missie om in die wedloop van die grotes te bly.
Beide Reho Falcon en Rehoboth kan nie werklik verdere nederlae bekostig nie, veral met die moeiliker wedstryde wat daarna volg.
Reho Falcon speel teen Walvisbaai, terwyl Rehoboth Rugbyklub teen Kudus opgeweeg word.
“Ons vertrek Saterdagoggend na Kudus met 'n ietwat verswakte span, maar het baie vertroue in die spelers wat gekies is. Ons kaptein Charl Freygang is teen Unam met 'n draagbaar afgedra ná 'n kniebesering,” sê Rehoboth se spanbestuurder Marschell Diergaardt.
Die stut Carl-William Freygang en sy broer Keaton Freygang (senter) is albei ook beseer en kan nie saam gaan nie. Elrich Jansen (skrumskakel) en Allister Groenewaldt (flank) is beide ook weens werkverpligtinge nie beskikbaar nie.
“Ons gaan natuurlik om te wen om tussen die top-4 te bly. As ons gaan om te gaan verloor, kan ons maar net hier tuis bly.”
Rehoboth se agterspelers: Whanny Beukes, Julian Afrikaner, Chase Diergaardt, Werner Meyer, Paulus Hangula, Hilton Neethling, Serge Loock, Romeo Visagie, Jason Olivier. Voorspelers: Winston Strauss, Kevin Cloete, Godwin Goaseb, Eugene Forbes, Jerome Schoeman, Sharksie Likando, Titus Matias, Ian Clark, Charl Fortuin, Fillemon Moses, Flavio Windwaai, Denver Mouton, Jeandre Freygang.
EERSTE LIGA
15:00 Oranjemund tn Sea Flower Ocean Swallows op Oranjemund
15:00 Dolphin tn Erongo Rugby Academy by Dolphin
15:00 Eastern Bulls tn West Coast Sharks op Gobabis
13:00 NUST tn Unam III by Unam

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie