• Tuisblad
  • Sport
  • Wedstryde buite hoofstad opwindend, deurslaggewend

Wedstryde buite hoofstad opwindend, deurslaggewend

Die premierliga se wedstryde word môre op Rehoboth, Grootfontein, Walvisbaai en in Olympia gespeel.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – FNB Grootfontein se tuis­wedstryd teen FNB Western Suburbs lyk op papier na potensieel die mees deurslaggewende een van die naweek se vier kragmetings in die Namibië Rugby-unie se premierliga – want dis nommer drie teen vier op die puntelys.

Beserings, werk- en ander verpligtinge begin in hierdie stadium van die seisoen sy tol eis by feitlik elkeen van die agt spanne in die premierliga – van wie die meeste steeds ten volle ambisie het om tot die semifinaal deur te dring.

Suburbs is die afgelope weke goed op dreef en die botsing van verskillende spelbenaderings op Grootfontein maak dit 'n watertand vooruitsig. Die Khomasdallers se vernuf in die agterlyn en ywer om van vinnige fasebesit aan te val, word opgeweeg teen die noordespan se gedugte agttal – wat die grondslag vir 'n ewe gevaarlike agterlyn kan lê.

Suburbs se afrigter, Jacky Bock, sê spelers soos die senters Morgan Esterhuizen en Mbimbo Mbai, asook flank Dhale Cloete is weens werksverpligtinge en eksamens nie beskikbaar vir die reis noorde toe nie.

Aan Grootfontein se kant was die verwagting dat die span grootliks dieselfde sou bly wat verlede naweek vir FNB Wanderers tot in die diep water gesleep en verskeie kere voorgeloop het, voordat hulle met 26-29 verloor het.

Die Namibiese stut André Rademeyer is glo nie vir môre beskikbaar nie, maar die skrumskakel Kobus Enslin is weer kiesbaar nadat hy van 'n uitstedige naweek teruggekeer het.

“Ons sal waarskynlik die naweek 'n paar proefnemings maak, maar ons spanlys is nog nie bekend nie,” het Grootfontein se kaptein en stormram-flank Wikus Jacobs gister voor hul oefensessie gesê.



OP REHOBOTH

FNB Reho Falcon is die enigste span wat nog nie dié seisoen 'n wedstryd kon wen nie en al klink dit ambisieus, is hul mikpunt om môre op Hoërskool Dr. Lemmer se veld die tweede geplaaste Wanderers te klop.

'n Uitsending van hierdie wedstryd sal môre regstreeks op die Facebook-blad van Republikein en Sport Wrap gebeeldsend word.

Reho Falcon se voorsitter, mnr. Christo Alexander, het dié week in 'n onderhoud gesê die span se doelwit is om elk van sy drie oorblywende wedstryde te wen.

Volgens hom het die klub se gekontrakteerde spelers uit die Suid-Kaap 'n wesenlike verskil aan die spelpeil van die ganse groep gemaak en word veel groter getalle sedert hul aansluiting op die oefenveld gesien.

Wanderers se afrigter, Rohan Kitshoff, sê hy het laas naweek op Grootfontein sy senter Rico Lategan verloor, wat gister 'n skandering laat doen het wat uitgewys het dat hy 'n fraktuur in beide wangbene opgedoen het.

Die flank Darius von Solms is ook definitief buite rekening met 'n skouerbesering, terwyl 'n fiksheidstoets gisteraand sou moes bepaal of die senter Bredell Wessels weer speelgereed is ná die dyspier wat hy in 'n vriend­skaplike wedstryd teen die Namibiese o.20-span opgedoen het.



BY UNITED

Trustco United se afrigter, Winmar Rust, het ook gister nog sy kaarte opgeweeg vir die tuiswedstryd teen FNB Rehoboth, wat ondanks sy laaste nederlaag teen die voorloper FNB Unam nooit afgeskryf kan word nie.

Rust sê die terugkeer van die Filistyne se beseerdes verloop nog nie so spoedig as wat hy graag sou wou sien nie.

“Denzo (Bruwer, senter) is nog uit vir die naweek met 'n skouer wat pla. Jason (Benade, stut) is weer op die oefenveld, maar sal nog uit wees vir hierdie naweek. JP Grobler (flank) is ook nog uit vir twee weke en Sergio Mouton is ook nog uit vir 2-3 weke,” sê hy.



OP WALVISBAAI

Die welbekende diepte van die voorloper FNB Unam behoort opnuut genoegsaam te wees vir sy reis om môre die sewende geplaaste FNB Kudus in die Jan Wilken-stadion op Walvisbaai te gaan takel.

Vir afrigter Johan Diergaardt sal vyf of selfs die maksimum van ses ligapunte (vir sewe drieë) nie onderhandelbaar wees nie, want vanaf aanstaande week word die nasionale spelers aan klubrugby onttrek, wat veral vir Unam van verskeie invloedryke staatmakers sal ontneem.

Henry Kemp, afrigter van Kudus, sal dié span graag 'n slag op sy beste wil sien.

Die beskikbare spanne teen druktyd:

FNB Western Suburbs: 1 Chemigan Beukes, 2 Howard Gawagab, 3 Andreas Shikonekeni, 4 Nathan Kisting, 5 Diamando Tjombe, 6 Vakomboka Kamboo, 7 Richard Mupewa, 8 Tjingairi Katjivi, 9 Bronwon Willemse, 10 Justin Nel, 11 Gino Wilson (kaptein), 12 PJ Walters, 13 Deveroux Jansen, 14 Dumarcho Hartung, 15 Ricardo Swartz

Reserwes: Roderique Victor, Jamza Jamza, Fidel Micolleney, Rowan Jansen, Andrew-James Kearns, Dylan Izaaks, Collins Omalu.

FNB Reho Falcon: 1 Roland Renton (kaptein), 2 Lwando Maxeke, 3 Vinzenzo Botes, 4 Arden Wesso, 5 Lawrence Mouton, 6 John-Toby van Wyk, 7 Denilo Feris, 8 Freginald Africa, 9 Miguel Busch, 10 Leegan Moos, 11 Ronaldo de Klerk, 12 Jayden Onkers, 13 Anthony Brandt, 14 Wayrich Hansen, 15 Curtley Scheepers.

Reserwes: Edmando Coetzee, Corbin Benade, Ruchan Visagie, Patrick Waggie, De-Marcho Markus, Steward Swartz, Franklin Busch.


FOTO
Heelagter Ricardo Swartz is een van FNB Western Suburbs se spelbrekers wat in die stryd op Grootfontein ’n belangrike invloed kan hê. Foto Andrew Poolman

FNB Wanderers se senter Rico Lategan, hier afgeneem ná ’n drie teen FNB Western Suburbs op die eerste wedstryddag, is uit met ’n gesigbesering. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer