Wedywering om TransNamib se N$2,4 miljard bates
TransNamib het die groen lig gekry om van sy nie-kern eiendomme te verkoop – ’n skuif wat na bewering ’n geskarrel veroorsaak het tussen individue wat uit die maatskappy se bates wil munt slaan.
Messe uit vir uitvoerende hoof
Jemima Beukes – Daar is individue binne en buite TransNamib wat hul invloed probeer gebruik om uitbetalings en kommissies deur die maatskappy se eiendomsportefeulje – tans sowat N$2,4 miljard werd – te verkry, het mnr. Johny Smith, die uitvoerende hoof, bevestig.
Smith het gereageer op Namibian Sun se navraag oor beweerde pogings deur sommige TransNamib-direksielede om van hom ontslae te raak.
Die direksie het Smith onlangs in ’n brief versoek om onder meer nederlae wat die semi-staatsinstelling in hofgedinge gely het, te verduidelik. Namibian Sun het dié brief onder oë gehad.
Die direksie soek ook antwoorde oor miljoendollar-ondersoeke wat TransNamib teen personeellede ingestel het, asook geld wat in projekte belê is.
“Ek het gelag toe ek die brief sien. Hulle het ’n spul leuens uitgedink. Aanvanklik wou hulle ’n ondersoek teen my van stapel stuur, maar toe het hulle besef hulle het geen konkrete bewyse nie. Nóú dring hulle op antwoorde aan,” het Smith gesê.
ONDERDUIMSE TRANSAKSIES
Die kabinet het onlangs aan TransNamib die groen lig gegee om van sy nie-kern eiendomme te verkoop om fondse vir die uitvoering van strategiese planne te genereer.
Volgens ingeligte bronne skarrel sommige direksielede om op onderduimse wyse uit dié ooreenkomste munt te slaan.
Smith wou dit nie bevestig nie, maar het gesê: “Dit het onlangs onder my aandag gekom dat daar interne en eksterne individue is wat hul invloed probeer gebruik om uitbetalings en kommissies deur hierdie eiendomsportefeulje te kry.”
Na bewering het die wrywing tussen Smith en sy direksie begin toe hy sy voet neergesit en beswaar gemaak het oor die direkteure se betrokkenheid by verkrygingsaangeleenthede.
‘NIE OP PAD UIT’
Toe hy gevra is of hy TransNamib gaan verlaat, het Smith gesê dié gerugte is vals en dat daar “geen waarheid daarin steek nie”.
“Ek het na TransNamib gekom om verandering teweeg te bring en om ’n volhoubare maatskappy te skep wat waarde vir die aandeelhouers en alle Namibiërs kan inhou.
“Ons is besig met die inwerkingstelling van die maatskappy se vyfjaarplan en dít sal ’n proses wees. Dit is presies waarmee ek die afgelope twee-en-’n-half jaar besig is. Ons kan nie een fout regstel deur ’n tweede fout te begaan nie.”
‘NIE DIE EERSTE KEER’
Oor ’n brief waarin beweerde ongerymdhede deur hom en sy bestuurspan bevat, het Smith gesê: “Dit is nie die eerste keer dat sulke briewe in die media versprei word nie. Ek sien hierdie ongegronde bewerings vir wat dit werklik is – ’n instrument om die uitvoerende span se aandag af te lei van die werk wat ons veronderstel is om te doen.”
Voor sy ampstermyn was TransNamib “’n maatskappy waar prosedures soms nie gevolg is nie en sommige mense onwettig voordeel getrek het uit dié wanorde, tot nadeel van die maatskappy en die aandeelhouers,” het Smith gesê.
“Een van die grootste areas waarop ons moes fokus, was om stelsels en strukture in plek te stel om ons bedryfsomstandighede te verbeter en om meer kliënte vir TransNamib te lok.
“By TransNamib is ons fokus op die groei en ontwikkeling van die maatskappy en in dié proses moet ons toesien dat korporatiewe bestuursprosedures nagekom word en dat alles wat ons doen in die belang van die maatskappy en sy aandeelhouers is.
“Verkeerde praktyke word nie by TransNamib geduld nie, aangesien ons nie kan toelaat dat die maatskappy agteruit beweeg om die persoonlike belange van individue te dien nie, ten koste van die aandeelhouers en uiteindelik die burgers van ons land,” het Smith gesê.
Adv. Sigrid Tjijorokisa, die hoofraadslid van TransNamib, wou nie oor die saak kommentaar lewer nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie