Week van meerlinge in Windhoek Sentraal

In dieselfde week as die aankoms van die land se eerste vyfling in die Windhoek Sentrale Hospitaal, is 'n drieling (drie dogtertjies) Vrydag in dieselfde hospitaal gebore.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Geskiedenis is die afgelope week gemaak met Namibië se eerste vyfling (twee dogtertjies en drie seuntjies) wat Dinsdag in die Windhoek Sentrale Hospitaal gebore is. Vrydag is in dieselfde hospitaal 'n drieling, drie dogtertjies, gebore.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, sowel as die publiek, het onmiddellik ingespring om me. Hilia Kalume en haar vyfling met skenkings by te staan – van babaprodukte tot 'n jaar se mediese sorg.

Me. Suzette Blignaut was een van die hoofstad se inwoners wat haar hand diep in die sak gesteek het om te verseker Kalume het alles wat sy nodig het om haar vyfling te versorg. Dit sluit van babaformule en kampbedjies tot klere en kos in.

“Die pragtige gesin het regtig almal se hulp nodig. Op die oomblik bly hulle in 'n sinkhuisie en het hulle ook 'n beter blyplek nodig,” het Suzette gesê.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het 'n skandering op 10 Februarie aanvanklik gewys Kalume verwag 'n vierling. 'n Opvolgsonar op 27 April het egter gewys dit is inderdaad 'n vyfling. Kalume is elke tweede week gemonitor en op 1 Mei is sy in die Sentrale Hospitaal se kraamafdeling opgeneem waar die vyfling deur middel van 'n keisersnee op 18 Mei (op 27 weke) gebore is.

Shangula sê die ministerie het weens die geweldige finansiële verpligting wat die vyfling op hul ouers plaas, 'n betroubare welsynsorganisasie, die Lithon Stigting, genader om enige bydraes kosteloos te bestuur. Geld wat ontvang word, sal op 'n volhoubare grondslag vir Kalume en haar babas gebruik word. Die ouditeure Swart Grant Angula (SGA) is vir die boekhouding en bestuur verantwoordelik.

Swapo-parlementslede onder leiding van die party se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, het ook ingespring en kontant en goedere ter waarde van N$12 360 aan die familie oorhandig.

Volgens Shangula sluit die ministerie se steun onder meer gratis mediese sorg aan Kalume en haar babas in totdat hulle selfonderhoudend is; gratis maatskaplike steun deur maatskaplike werkers, sowel as huisbesoeke deur gesondheidswerkers in die gemeenskap en uitreikdienste deur verpleegsters; die voorsiening van weggooidoeke, komberse en melkformule vir 12 maande asook bababedjies wat alles saam sowat N$60 000 beloop.

Die minister sê gesprekke is ook aan die gang met die Khomas-streekraad om die moontlikheid te ondersoek van ordentlike verblyf die oomblik wanneer die vyfling uit die hospitaal ontslaan word.

“Ons is ook in gesprek met die werkgewer van die ma vir 'n omvattende kraamvoordeelpakket,” het hy gesê.

Die besonderhede van die rekening waarin geld vir die vyfling geskenk kan word is – Lithon Foundation, FNB Namibia (Commercial Suite-tak), ­rekeningnommer 62254545208, taknommer 281-972, verwysing Kalume 5.
[email protected]


FOTO’s
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gaan onder meer gratis mediese behandeling aan die vyfling verskaf e n ook babaprodukte soos weggooibare doeke en melkformule vir 12 maande borg. FOTO VERSKAF


'n Inwoner van Windhoek, Suzette Blignaut, saam met Hilia Kalume en die pa van die vyfling, mnr. Stephanus, in hul sinkhuisie saam met van die babagoed en kos wat geskenk is. FOTO VERSKAF

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!