Weerlig leer Leeus ’n les, sê Kriel
Rugby
Marizanne Kok – Die Leeus het Maandag ’n lang gesprek gehad oor die bottervingers en loodbene waarmee hulle hul wedstryd teen Griekwas Saterdag begin het.
Hul slotsom: Geen verskonings nie, net maniere om dit in die toekoms te verhoed.
“Ons kan ’n miljoen verskonings uitdink – ons kan sê dinge is moeilik in die Covid-tyd of ons het voor Saterdag lanklaas gespeel. Maar ons gaan nie dit doen nie,” sê die Bok-flank Jaco Kriel Dinsdag.
“Ons het eenvoudig basiese foute gemaak aan die begin van daardie wedstryd en nie met die regte houding opgedaag nie. Jy kan nie dit doen as jy in Kimberley speel nie; Griekwas gaan jou ore aansit as jou mentaliteit verkeerd is en dis presies wat hulle in daai eerste 30 minute met ons gedoen het.”
Die Johannesburgers het die leeueaandeel aan gebiedsvoordeel gehad en knaend in Griekwas se gebied gespeel in die wedstryd in Kimberley, maar hulself steeds ná ’n halfuur in ’n moeras bevind, met die Poubloues 17-3 voor.
Dit het vinnige hande van Elton Jantjies en ’n swierige swaeltjieduik deur Courtnall Skosan geverg om hulle hoop op die telbord te gee, voordat ’n goeie skrum diep in beseringstyd en ’n uitmuntende afskop aan die begin van die tweede helfte gelei het tot die ander twee drieë wat hul basse gered het.
Maar sowat van deurskuur het SA rugby lanklaas gesien.
Die Leeus se laaste sewe punte het immers gekom net twee minute voordat die spanne weens weerlig die veld verlaat het. Dit was die eerste keer wat hulle voor was in die wedstryd (met 20-17) – en die enigste, met die oorblywende 32 minute wat nooit gespeel is nie.
Kriel sê hy het nooit verwag weerlig sou die uitslag van daardie wedstryd bepaal nie – selfs nie toe hulle daaroor beveel is om die veld te verlaat nie.
“Wandi (Simelane, die Leeus se buitesenter) het in ’n stadium in die eerste helfte gesê: ‘Boys, ons beter score, hier kom weerlig.’ Maar ek het nog by myself gestaan en dink, ‘Man, Wandi, fokus net op die game,’” vertel Kriel met ’n lag in sy stem.
“Toe ons rustyd in die kleedkamer was, het Cash (die Leeus-breier Ivan van Rooyen) ook gesê ons beter gou in die tweede helfte ’n drie kry, want daar is weerlig. Maar ek was nog steeds nie by nie. Dit was eers nadat ons afgegaan het en gewag het om te hoor of ons weer sou speel, wat alles begin sin maak het.
“Eintlik was dit ’n bedekte seën dat baie van ons nie geweet het die wedstryd kan enige oomblik gestop word nie. Ons sou beslis meer druk gevoel het as ons dít geweet het. Maar dit was ook ’n leerkurwe – nou weet ons jy kan nie bekostig om stadig te begin nie omdat die wedstryd dalk nie die 80 minute gaan duur nie. Veral hierdie tyd van die jaar, wanneer daar baie storms is.”
Dit was ’n belangrike en tydige les, sê Kriel. Hierdie Saterdag speel hulle immers ’n aandwedstryd op Ellispark teen ’n WP-span vol ysters. ’n Eerste halfuur soos hulle die afgelope naweek gehad het, kan hulle baie seer byt.
“Jy hoef net te kyk na hul nommers 1 tot 8 om te weet: dit gaan ’n massiewe wedstryd wees,” sê Kriel oor die WP.
“Hulle het ’n voorry wat die Wêreldbeker gewen het, die Bok-kaptein wat die trofee gelig het, is in die lostrio saam met twee ouens wat baie goed speel. En (hul slotte) JD (Shickerling) en Salmaan (Moerat) raak al beter saam. Net hul pak alleen gaan ’n enorme uitdaging bied en dan is daar nog die X-faktor in hul agterlyn. Ons gaan nie kan laat slaplê nie.”
Die afgelope naweek se wedstryd was Kriel se eerste in die Curriebeker sedert hy die Goue Koppie ná die eindstryd van 2015 gelig het. In 2016 het hy in die Curriebeker-tyd in Japan gespeel, in 2017 Springbok-verpligtinge gehad en in 2018 na Gloucester in Engeland gegaan.
Dis vir hom heerlik om nou in dié kompetisie teen die land se heel bestes te speel, sê Kriel.
“Ons het geweet ons gaan in die Curriebeker teen die beste spelers speel en dis lekker. So haal ons ook die beste uit mekaar. Daar is ’n hele vrag spelers oorsee – ek was self vir ’n ruk een van hulle – maar dié wat in Suid-Afrika speel, streef almal daarna om die beste in hul posisies te wees.
“As jy dit nie doen nie, hoekom speel jy dan beroepsrugby?” vra Kriel.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie