Weermag neem oor in Zimbabwe

Die wêreld het gister wakker geword met die nuus dat pres. Robert Mugabe van Zimbabwe se bewind van 37 jaar tot 'n einde gekom het.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn



Zimbabwe se weermag het vroeg gisteroggend die mag in die land oorgeneem en “misdadigers” geteiken wat pres. Robert Mugabe omring.

The Guardian het gistermiddag berig dat 'n ooreenkoms bereik is waarvolgens Mugabe vrywilliglik môre die tuig sal neerlê sodat die uit­geskopte visepresident, Emmerson­ Mnangagwa,­ en die opposisieleier, Morgan Tsvangirai, onderskeidelik as president en eerste minister beëdig kan word.

Die weermag het die versekering gegee dat die 93-jarige leier en sy familie veilig is.

In 'n TV-boodskap gisteroggend het die Zimbabwiese stafhoof vir logistiek, genl.maj. SB Moyo, gesê: “Ons teiken misdadigers rondom hom (Mugabe) wat dade gepleeg het wat maatskaplike en ekonomiese lyding in hierdie land veroorsaak het. Sodra ons ons missie verwesentlik het, verwag ons dat dit situasie na normaal sal terugkeer.”

Soldate en gepantserde voertuie het strate na belangrike regeringskantore­ en howe in sentraal-Harare geblokkeer. Nie Mugabe of sy vrou, Grace, wat hunker om hom as president op te volg, is sedertdien gesien of van gehoor nie.

Teen gistermiddag het Sky News en Al Jazeera op Twitter bespiegel dat me. Mugabe na Namibië gevlug het. Teen druktyd kon geen bevestiging of ontkenning van die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking hieroor gekry word nie. Bronne in Zimbabwe het laat gistermiddag op Twitter gesê Grace Mugabe is steeds saam met haar man in die “Blue Roof”-presidentswoning in Borrowdale, Harare.

Navrae aan sowel Namibië se hoë kommissaris in Harare, me. Balbina Pienaar, oor die veiligheid van Namibië se diplomatieke personeel in Zimbabwe het onbeantwoord gebly. Pienaar het alle vrae beantwoord met: “Ek rapporteer net aan die ministerie van internasionale betrekkinge en same­werking in Windhoek.”



Namibië reageer

Namibië se adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbu Nandi-Ndaitwah, het gistermiddag in 'n verklaring gesê die regering volg die verwikkelinge in Zimbabwe met kommer en is dit eens met die verklaring wat pres. Jacob Zuma namens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeen­skap (SADC) uitgereik het.

“As bure, medelede van SADC en die Afrika-unie (AU) deel Namibië en Zimbabwe 'n gemeenskaplike lot en aspirasies vir vrede, ekonomiese welvaart en demokrasie vir ons lande en mense. Namibië is bekommerd dat die huidige situasie onsekerheid skep wat nie bevorderlik vir vrede, stabiliteit en die konsolidasie van demokrasie in Zimbabwe en die streek in die geheel is nie.

“Namibië het kennis geneem dat die Zimbabwiese weermag die publiek en die internasionale gemeenskap die versekering gegee het dat die regering nie omvergewerp is nie en hulle nie van voorneme is om die land se regering oor te neem nie.

“Namibië het ook kennis geneem dat die toestand in die land relatief kalm is. Dit is die verwagting van die regering dat demokratiese instansies in Zimbabwe sal voortgaan om hul grondwetlike funksies uit te oefen.

“Namibië moedig alle partye aan om nougeset gehoor te gee aan die bepalings van die SADC-verdrag op staatsbestuur en die AU se stigtingswet. Namibië sal voortgaan om die situasie in Zimbabwe dop te hou,” lui die verklaring deur Nandi-Ndaitwah.

PDM se reaksie

Die afdeling vir internasionale ­betrekkinge van die amptelike opposisie,­ die Popular Democratic Movement (PDM), volg die politieke verwikkelinge in Zimbabwe en het 'n beroep om kalmte en vrede tydens die “delikate oorgangsperiode” gedoen.

“Ons staan in solidariteit met die mense van Zimbabwe asook die kernrolspelers wat ons hoop gelei word deur die beginsels van vrede, geregtigheid, ­inklusiwiteit en demokrasie in die ­onder­handelinge van hierdie kritieke fase in Zimbabwe se geskiedenis.

“Die PDM bly hoopvol dat watter oplossing ook al gevind word, dit 'n einde aan die dooie punt sal bring en Zimbabwe tot sy voormalige glorie as die brood­mandjie­ van Afrika herstel sal word,” het mnr. Vipuakuje­ ­Muharukua, die PDM se ­sekretaris van internasionale betrekkinge, in 'n verklaring gesê.

Hy is van mening dat vrye en regverdige verkiesings so gou as moontlik gehou moet word.



SADC se reaksie

Suid-Afrika se pres. Jacob Zuma het namens SADC die hoop uitgespreek dat geen ongrondwetlike verandering van regering in Zimbabwe sal plaasvind nie, aangesien dit strydig met SADC en die AU se standpunte sal wees.

Zuma het die Zimbabwiese ­regering en weermag aangemoedig om “die politieke dooie punt vreedsaam op te los”.



#Thisflag

Netwerk24 berig dat 'n Zimbabwiese pastoor en politieke aktivis in Harare in 'n emosionele Facebook-video Zimbabwiërs gevra het om as een man op te staan en mekaar te steun.

Past. Evan Mawarire, ook die leier van die #ThisFlag-­beweging, het trane uit sy oë gevee terwyl hy vir kalmte en orde onder sy mede­burgers gevra het.

“Ons moet nou opstaan. Ons moenie meer bang wees nie. Hierdie is ons kans om nou op te staan,” sê hy vir die kamera.

“Zimbabwe gaan nou deur baie; ons is in 'n tyd waar ons nog nooit tevore was nie.

“Dit is nie nou 'n tyd om stil te wees nie, maar om hardop te praat.”

Hy het 'n beroep om vrede en die beskerming van alle inwoners op die weermag gedoen.

Hy het ook aan inwoners gevra om nie die weermag uit te lok nie.

“Ons hoop lê in ons Grondwet en in God.

“Nog nooit tevore was daar 'n tyd soos nou om as burgers verenig te wees nie.”



Oorlogsveterane

Die leier van Zimbabwe se invloedryke­ oorlogsveterane het 'n beroep op Suid-Afrika, suidelike Afrika en die Weste gedoen om by Zimbabwe betrokke te raak.

“Hierdie is 'n regstelling van 'n staat wat op pad was om oor die afgrond te val,” het Chris Mutsvangwa­ aan Reuters gesê. “Dit is die einde van 'n baie pynlike en hartseer hoofstuk in die geskiedenis van hierdie jong nasie, waar 'n diktator, soos hy ouer geword het, sy bewind aan 'n bende diewe rondom sy vrou oorgegee het.”



Chombo aangehou

Die minister van finansies, Ignatius­ Chombo, 'n leidende figuur van die “G40”-­faksie, onder leiding van Grace Mugabe in Zanu-PF, word deur die weermag aangehou, het 'n ­regeringsbron gesê.

Gister se blits-optrede het gevolg nadat Mugabe die hoof van die weermag van hoog­verraad be­skuldig het ná waar­skuwings deur genl. Constantino­ Chiwenga­ dat die weermag bereid is om in te gryp.

In die vroeë oggendure gister het soldate beheer oor die hoof­kantoor van ZBC, die staats­uitsaaier en mondstuk van Mugabe, oorgeneem en personeel aangesê om die perseel te verlaat.

Kort daarna is drie ontploffings in die middestad gehoor, het ooggetuies gesê.

Spanning is aan die opbou sedert Mugabe sy visepresident, Emmerson Mnangagwa, op 8 November afgedank het.

'n Paar maande gelede was Mnangagwa, 'n voormalige veiligheidshoof­ met die bynaam “The Crocodile”, 'n gunsteling om Mugabe op te volg.

Sy afdanking moes egter die weg baan vir Grace Mugabe om die leisels oor te neem.

In teenstelling met Mugabe se status in Afrika, word hy in die Weste as 'n despoot beskou wat sy land se ekonomie in die grond in gedryf het, asook iemand wat hom tot geweld wend om die mag te behou en een van die ­vasteland se belowendste lande vernietig het. - Eie berig/Nampa/Reuters/AFP/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!