Weermag steeds wapen teen werkloosheid
Oor die drie begrotingsjare tot 2021-’22 gaan die belastingbetaler bykans N$18 miljard vir verdediging moet opdok.
Jo-Maré Duddy – Verlede jaar was meer as een uit elke 100 werkende mense in Namibië in diens van die weermag.
Die jongste arbeidsyfers wat verlede week deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon 1,3% van die land se arbeidsmag was verbonde aan die weermag: 6 980 mans en 2 495 vroue.
Sowat 0,93% of 2 862 van jongmense van 15 tot 34 is in die weermag, luidens dié syfers: 2 144 mans en 718 vroue.
Die weermag is effe kleiner as in 2016 toe die NSA sy vorige arbeidsopname gedoen het. Toe was 1,6% van die werkende bevolking in uniform.
Die jongste inligting volg ná die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, Woensdag die begroting vir die nuwe fiskale jaar ingedien het.
Daarvolgens kry die ministerie van verdediging bykans N$5,9 miljard vir 2019-’20. Vergeleke met 2018-’19, is dit sowat N$74 miljoen of 1,2% minder. Vir vanjaar vat verdediging die vierde grootste hap uit die begroting. Oor die drie begrotingsjare tot 2021-’22 gaan die belastingbetaler bykans N$18 miljard vir verdediging moet opdok.
‘Geheime’ begroting
Vanjaar is sowat N$385,3 miljoen in totaal aan die ontwikkelingsbegroting toegeken – ongeveer N$50 miljoen of bykans 12% minder as verlede jaar.
Hiervan as nagenoeg N$125,1 miljoen vir geklassifiseerde besteding. Vergeleke met 2018-’19 is dié begroting amper N$102 miljoen of 45% kleiner.
Die regering het reeds bykans N$2,4 miljard aan dié projek, bloot genaamd “navorsing en ontwikkeling”, bestee. Uiteindelik gaan dit die belastingbetaler bykans N$6,7 miljard kos.
Na verwagting gaan N$192 miljoen vanjaar aan konstruksie en opknapping van militêre basisse by Luiperdsvallei, Mpacha, Keetmanshoop en Oluno bestee word. Bykans N$43,8 miljoen is vir die rehabilitasie van ou weermagbasisse landswyd opsy gesit. N$20 miljoen is beskikbaar vir die lugmagbasis by Karibib en N$3 miljoen vir die vlootbasis op Walvisbaai.
‘Siek en sat’
Die uitvoerende direkteur van verdediging, skout-admiraal Peter Hafeni Vilho, het verlede week gesê hy is “siek en sat” vir die ewige geteem oor groot begrotingstoewysings aan die ministerie.
Tydens ‘n ontbytsessie onder die vaandel van die parlementêre komitee belas met ekonomie en staatsadministrasie Donderdag het Vilho gesê: “As julle ernstig daaroor is om nie geld op verdediging te mors nie, doen dan daarmee weg.
“Ek is siek en sat daarvoor om na mense te luister wat ons intelligensie beledig. Ek kan julle vandag verseker as alle Europese lande van hul weermagte ontslae raak, sal dit die dag wees wat ons met die Namibiese verdedigingsmag wegdoen,” het Vilho gesê. – Bykomende beriggewing: Nampa
* Luidens die jongste amptelike arbeidsverslag van die Namibië Statistiekagentskap (NSA) is 46,1% van Namibiërs van 15 tot 34 jaar werkloos.
Republikein het Vrydag verkeerdelik berig jeugwerkloosheid staan op 30,3%.
Luidens die jongste verslag is 265 770 jongmense uit ‘n totale jeugarbeidsmag van 576 624 werkloos.
In 2016 was die jeugwerkloosheidsyfer 43,4%.
Republikein vra om verskoning vir die fout.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie