Weermag: Stop die doodsdreigemente
'n Aanval op pres. Hage Geingob of Staatshuis – of énige Namibiër en hul eiendom – sal nie geduld word nie, sê die NDF.
Denver Kisting
Die Namibiese weermag (NDF) sal géén vrae vra wanneer mense en eiendom in die naam van politiek bedreig word nie – hulle sal net optree.
Die NDF het gister by monde van adjunkmaarskalk Martin Pinehas, waarnemende weermaghoof, gesê hulle neem die dreigemente om vir pres. Hage Geingob dood te maak en Staatshuis aan die brand te steek, baie ernstig op.
Hy het gesê: “Die NDF is erg omgekrap oor verklarings deur individue wat, omdat hul voorkeurkandidate nie gewen het nie, hulle tot ongrondwetlike middele sal wend.”
Ondanks die vryhede wat die Grondwet waarborg, moet die uitoefening hiervan in oorleg met die land se wette gebeur, sê hy.
Die staatshoof en Namibiërs se veiligheid en enige eiendom mag nie in die naam van politiek in die gedrang kom nie, het hy gewaarsku.
Volgens hom verdien dié dreigemente “'n toepaslike reaksie” van die weermag.
“Ons kan nie toelaat dat ons land weens selfgesentreerde individue in chaos verval nie.”
Hy sê die weermag vervul hul rol kragtens wetgewing.
“Stop (die dreigemente) onmiddellik. Hier draai ek nie doekies om nie – dit moet onmiddellik stop.”
Pinehas het gesê hoewel geen noodtoestand heers nie is die veiligheidsvlak verhoog – soos dit voor verlede week se verkiesings weens dreigemente van onluste gedoen is.
“Ons is reg om volgens die Grondwet met enigiemand af te reken wat ten doel het om die lewe van onskuldige mense te neem en eiendom te vernietig. As dít gebeur, sal ons geen vrae vra nie. Wat ons aan die einde van die dag wil hê, is vrede en bestendigheid.”
Hy het gesê hulle weet wie die mense is wat die dreigemente maak en hulle word dopgehou.
Maar, sê hy, dis die polisie se werk om dié mense in te roep en te ondervra.
Mnr. McHenry Venaani, leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), sê by navraag Pinehas moet sy neus uit huishoudelike politiek hou.
Nasionale veiligheid is die polisie se verantwoordelikheid, terwyl die weermag gemoeid is met die land se territoriale integriteit, sê hy.
Volgens hom is dit 'n poging om die opposisie in die lig van hul aandrang op 'n oudit van verlede week se presidensiële en Nasionale Vergadering-verkiesings te muilband.
Oor die beweerde dreigemente sê Venaani: “Hulle lieg. Hulle het geen besigheid om sulke verklarings uit te reik nie.”
Hy sê ook die weermag word gebruik om demokratiese prosesse te ondermyn.
Dr. Panduleni Itula, onafhanklike presidensiële kandidaat, sê bewerings dat hy 'n staatsgreep beplan, is waansin. Hy weet glo nie eens hoe 'n mens dit sou doen nie.
“Nee, glad nie. Watse goed is daai? Waar ken ek daai goed?”
Hy het ook gesê die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) se rekenaarstelsel is in sy visier.
“Ek wil die ECN se rekenaars ondersoek.”
Hoewel hy reeds in gesprek is met regsgeleerdes en opposisieleiers wil hy nie in dié stadium sy volgende skuif onthul nie, sê Itula.
“Daar is goeie rede hoekom ons nie nou wil praat nie.”
Mnr. Bernadus Swartbooi, leier van die Landless People's Movement (LPM), sê dis onaanvaarbaar vir die weermag om betrokke te wees wanneer pres. Hage Geingob geen noodtoestand afgekondig het nie.
“Waar pas die weermag? Dis nie hul plek nie. Hulle is orig.”
Volgens hom dui die toedrag van sake eerder op “politieke tweespalt in die weermag”.
Ook hulle stem nie saam met die verkiesingsuitslae nie en behoort teen die naweek te weet watter stappe hulle sal doen, sê Swartbooi.
Komm. Nelius Becker van die Namibiese polisie sê geen klagte is onder sy aandag gebring nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie