Wees baie bang vir Trump se oorlog
Pres. Donald Trump van Amerika tree strydig met die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se reëls op, en die potensiële negatiewe impak op handelsvloei en bedrywe wêreldwyd is boonop ernstig.
Johan Willemse
Daar is toenemend aanduidings dat Amerika die konflik oor handelskwessies en invoertariewe aandryf met die doel om sy produksie (en werkgeleenthede) te stimuleer.
Sy werkloosheidskoers is reeds die laagste in baie jare op sowat 4%, vergeleke met Suid-Afrika se amptelike koers van net minder as 27%.
Amerika verhoog sy invoertariewe eensydig teen verskeie lande, soos op staal- en aluminium uit Suid-Afrika, voertuie uit die Europese Unie en natuurlik 'n wye verskeidenheid produkte uit China.
Benewens dat pres. Donald Trump van Amerika strydig met die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se reëls optree, is die potensiële negatiewe impak op handelsvloei en bedrywe wêreldwyd taamlik ernstig.
Daar word toenemend gewaarsku dat die ontwrigtings inflasie gaan opjaag en selfs die wêreld in 'n resessie gaan dompel.
Ek verwag dat baie bedrywe en ondernemings in Suid-Afrika baie swaar kan kry en selfs gaan ophou produseer.
In Suid-Afrika moet ons vroegtydig aandring op ons eie beskermingsmaatreëls, hoewel dit teen die WHO se reëls en markbeginsels indruis.
Handelsintegrasie
Die afgelope sowat 20 jaar het die werkinge van die WHO handelsbeperkings verminder en invoertariewe wyd verlaag, wat nie net handel aangemoedig het nie, maar deels gelei het tot laer wêreldinflasie en groot aanpassings in baie produksie-eenhede.
Lande het toenemend gefokus op die produkte en dienste waarin hulle 'n mededingende voordeel het, terwyl ander produkte eerder ingevoer word. Daar was grootskaalse integrasie.
Die feit is, die afgelope twee dekades het handel baie vryer geword en bedrywe wêreldwyd (ook in Suid-Afrika) moes aanpas by toenemende invoermededinging en self internasionaal mededingend raak.
Die bekendste voorbeeld is die Suid-Afrikaanse klere- en tekstielbedryf, wat nie staande kon bly teen goedkoop Chinese invoer nie. Derduisende mense het hul werk verloor. Werkgeleenthede is van Suid-Afrika na China uitgevoer ter wille van goedkoper klere vir Suid-Afrikaners.
Landbou
In Suid-Afrika is die landboubeheerrade in 1997 afgeskaf en is boere en verwerkers blootgestel aan die internasionale mark en invoer, wat dikwels goedkoper is as wat ons kan produseer.
Die beheerrade het invoer beheer en uitvoer gekoördineer om die mark te stabiliseer, maar dit het 'n skans tussen ons en internasionale mededinging geplaas.
Met die afskaffing van die beheerrade moes ons landboubedrywe aanpas.
Internasionale navorsing deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling en Amerika se departement van landbou wys Suid-Afrika is een van die drie lande met die minste staatsondersteuning en ons het ook van die laagste invoertariewe op landbou- en voedselprodukte.
Dit het oor die laaste 20 jaar noodwendig groot aanpassings geverg en grootliks daartoe bygedra dat kleiner produksie-eenhede uitgefaseer is omdat skaalbesparings nodig was om mededingend te wees.
Uitwerking van handelsontwrigting
Ons braaihoenderbedryf is 'n goeie gevallestudie van die uitwerking van handelsontwrigting.
In 2014 het Rusland die Oekraïne binnegeval en 'n deel beset. Die VSA en Europa het handelsanksies teen Rusland ingestel, veral ten opsigte van voedselprodukte soos vleis en hoendervleis. Gevolglik moes Amerikaanse en Europese hoenderprodusente nuwe markte soek.
Een van dié markte was Suid-Afrika, waar hulle hul hoenderboudjies en -vlerkies relatief goedkoop van die hand sit om daarvan ontslae te raak.
Goedkoop hoenderinvoer het binne twee jaar toegeneem van sowat 350 000 ton tot 550 000 ton, wat tot gevolg gehad het dat binnelandse produksie gedaal en duisende Suid-Afrikaners hul werk verloor het.
Een van die gevolge wat ons kan voorsien van Amerika se eensydige handelsoptrede is dat daar baie produkte (uit China en Amerika) gaan wees wat “nuwe” markte moet vind.
Afrika was in die verlede 'n goeie mark om ontslae te raak van sulke produkte – wat tot groot ontwrigting lei en produksie in die invoerland vernietig tensy baie vinnig opgetree word teen die betrokke invoer.
In die verlede was dit moeiliker, want almal het probeer hou by die WHO-reëls. Dit geld nou oënskynlik nie meer nie en almal begin optree in eie belang – wat groot ontwrigting kan veroorsaak.
China voer byvoorbeeld jaarliks sowat 100 miljoen ton sojabone in as veevoer nadat die Chinese dieet van stysel as stapel in vleis as stapel verander het. Die Chinese het 'n baie intensiewe vark- en hoenderbedryf wat gebou is op sojabooninvoer van Amerika en Brasilië kragtens die beginsels van handelsintegrasie.
Sowat 40 miljoen ton hiervan kom van Amerika en alle aanduidings is dat China hoër invoertariewe (van 25%) op onder meer sojabooninvoer uit Amerika gaan plaas.
Amerikaanse boere is reeds besig om die soja-uitvoermark te verloor en al hoe hulle van die oorskot ontslae kan raak en in China kan meeding met Suid-Amerika, is om hul sojaboonpryse met 20% tot 25% te verlaag.
Sedert begin Junie het Amerikaanse sojaboonpryse op die Chicago-termynbeurs reeds met meer as 22% gedaal, wat dan ook deurwerk na ons sojaboonmark en pryse onder aansienlike afwaartse druk plaas. Dit veroorsaak verdere ontwrigtings.
Dié is maar net een voorbeeld.
Moet ons bang wees vir 'n handelsoorlog?
Ek dink nogal so, veral as ons regering nie vinnig voorkomend optree nie. Dit kan baie ondernemings uit bedryf stel wat baie wyer gaan strek as net landbouprodukte.
• Prof. Johan Willemse is 'n landbou-ekonoom van Agrimarkconsultants en 'n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie