Wees bekommerd, su00ea Allan Gray
Wees bekommerd, su00ea Allan Gray

Wees bekommerd, sê Allan Gray

Suid-Afrikaners moet baie bekommerd wees oor die land se lae ekonomiese groeikoers en wat dit vir die finansiering van die staat se besteding beteken.

“As die regering meer bestee as wat hy inkry, kan dit die inflasiekoers weer opstoot wat op sy beurt weer implikasies het vir mense wie se beleggings oor tyd inflasie moet klop,” waarsku Andrew Lapping, beleggingshoof van die batebestuursfirma Allan Gray.

Hy het op die firma se Bloemfonteinse beleggingseminaar gesê groei in produktiwiteit moet die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) aandryf, maar in Suid-Afrika gebeur dit nie.

“Malusi Gigaba, minister van finansies, het onlangs gesê ons moenie bekommerd wees oor die BBP-groei nie, dit sal weer regkom, maar hoe kan hy dit sê terwyl ons produktiwiteit nie dienooreenkomstig styg nie en die koste van arbeid hoog bly?”

Lapping het verwys na die probleme met staatsondernemings se korporatiewe beheer en onafhanklikheid en sê daar is nie lig aan die einde van die tonnel nie.

“Eskom het in die afgelope boekjaar R51 miljard meer bestee as wat hy het. Al manier hoe daardie tekort verhaal kan word, is as hy elektrisiteitstariewe verhoog of as die regering hom weer uit die moeilikheid help.”

Lapping sê hy twyfel of die regering in ’n verkiesingsjaar sy besteding sal inkort of byvoorbeeld belasting op toegevoegde waarde (BTW) sal verhoog.

“Maar terselfdertyd samel hy nie naastenby genoeg belasting in om selfs sy huidige verpligtinge na te kom nie en dit los die graderingsagentskappe met min ander keuse as om Suid-Afrika se staatskuld nog eens af te gradeer.”

Lapping sê hy het min twyfel dat die graderingsagentskap Standard & Poor’s in Desember sy gradering van Suid-Afrika se staatskuld in rand sal verlaag.

Dan loop Suid-Afrika die gevaar om uitgesluit te word van Citigroup se World Government Bond Index (WGBI).

Dié indeks word as maatstaf vir fondse gebruik en as Suid-Afrika uit die WGBI val, kan miljarde rande uit die land onttrek word deur fondse wat op grond van dié maatstaf hul beleggings doen. Dit kan ook die rand laat verswak.

“Baie lae rentekoerse in die res van die wêreld het internasionale beleggers na ontluikende markte, soos Suid-Afrika, se staatseffekte gelok en die risiko is as rentekoerse in die VSA en Europa styg, soos verwag word, sal daardie beleggers eenvoudig minder geld in Suid-Afrikaanse staatseffekte belê.”

As Suid-Afrika nog boonop uit die WGBI-indeks val, kry ons nie meer ons billike deel van daardie beleggingsportefeuljes nie.

Dít kan tot ’n situasie lei waar rentekoerse in Suid-Afrika skielik skerp gaan styg die rand aansienlik kan verswak, waarsku Lapping.

“Dit skep ’n wesenlike gevaar dat inflasie kan styg, want jy sit met reeds lae produktiwiteit in die ekonomie, so pryse kan nie daal nie.”

Aandeelhouersaktivisme

Allan Gray het vanjaar as groot aandeelhouer sy stem dik gemaak om ontslae te raak van die direksie van die onderpresterende Group 5 en ook om Net1 se bestuur tot verantwoording te roep oor sy integriteit in die hantering van sy filiaal Cash Paymaster Services (CPS) se uitbetaling van staatstoelaes.

Lapping is egter huiwerig om Allan Gray se optrede as aandeelhouersaktivisme te beskryf.

“Dis eerder ’n geval dat ons doen wat ons glo reg is vir ons kliënte. Ons kliënte vertrou hul geld aan ons toe en ons word die bewaarders daarvan met die verantwoordelikheid om eerstens ’n goeie opbrengs te verkry maar ook om te verseker die geld word verantwoordelik belê.”

Hy sê Allan Gray wil toesien dat die direksies van die maatskappye waarin hy belê in die beste belang van alle belanghebbendes, insluitend personeel en aandeelhouers, optree.

Doen hulle dit nie, moet ons hulle verantwoordbaar hou, dis ons werk en rol as fondsbestuurders.”

Hy sê die firma sal aanhou om “ferm op te tree” as hy moet.

“Ons is nie bang om die regte ding te doen nie.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer