Wees oopkop
Wees oopkop

Wees oopkop

Augetto Graig
Toe president Hage Geingob onlangs in sy toespraak afhaak en sê Namibiërs is te parochial moes ek dit eers gaan opsoek.

Natuurlik het hy voor ’n nasionale gehoor Engels gepraat, so ek moes dit ook vertaal. Vir die koerant het ons die woord “eng” gekies om in die aanhaling te gebruik.



Die woord parochial beteken ook “bekrompe” of “provinsialisties”, terwyl die Engelse parochialism ook as “beperktheid” en “verkramptheid” in Afrikaans vertaal kan word.

Hoe meen die man nou? vra ek myself.

In hierdie konteks was hy besig om meer oor sy voorgenome reis die afgelope naweek na die Afrika-unie se buitengewone beraad in Niamey, in Niger, te vertel.

“Ek maak deure vir julle oop. Gaan na Afrika, hulle het julle nodig. Dit is hoekom ek so rondhardloop,” het die president gesê.

Met of sonder konteks dink ek dié stelling is tog reg en toepaslik.

Namibiërs is maar hardkoppige mense. Ek is een en behoort te weet. Ons raak goed gewoond. Ons pas aan en ons gaan aan. Ons aanvaar goed maar net.

Daar ís tog rede. Namibië is nie ‘n maklike land nie, was nog nooit nie. Hierdie plek sal jou regruk. Reg of weg. Hier bly jy in die land tussen twee woestyne, waarvan die Namib nogal die oudste ter wêreld is. Moet ook nie die impak van die Kalahari onderskat nie. Dit raak wreed en koud buite in die nag, en deur die dag brand hy jou maklik dood. Tyd staan daar stil.

Nogtans moet ek erken ons weet nie altyd waartoe ons in staat is nie. Namibiërs het die wêreld al ’n paar keer ’n ding of twee gewys. Met onafhanklikheid het ons ’n reus oorwin en ’n merkwaardige grondwet aanvaar wat wêreldwyd geprys is.

Miskien moet ons weer na daai spesifieke dokument gaan kyk, net ter herinnering aan wat ons werklik is.

Ons oorleef dan in hierdie land.

Ons plant nog voort, ons bou nog paaie, ons grou nog myne en maak nog babas. Dié is ons land waarop ons trots is.

Sy mense is soms moeilik omdat hulle so uit die grond kom.

Mens moet ook soms vasstaan en aan die waarheid klou soos die wortels van ’n Welwitschia.

Die lewe verander wel, al gebeur dit in Namibië gewoonlik stadiger as in die res van die wêreld.

Die president se opmerking is dalk aanduidend van verandering wat vinniger moet plaasvind.

Miskien moet Namibiërs begin aanpas. Tegnologie vorder, maar die omgewing gaan agteruit. Ons land is veral kwesbaar vir natuurlike rampe, en voorspelings sê ons kan ons maar regmaak – die ramp kom.

Om daarop voorbereid te wees, is dit nodig om ver te kyk en buitelandse oplossings by plaaslike omstandighede aan te pas.

Dit doen ons nogal redelik goed.

Die toepassing van ons goeie planne is egter ’n ander storie. Hier sien ons die nadeel van ons eng gesindheid. Ek stuur onlangs ’n e-pos en maak ’n staatsamptenaar kwaad omdat dit nie ’n amptelike versoek is nie.

Ek weet nie hoe om die versoek méér amptelik te maak nie en uiteindelik was die e-pos goed genoeg, maar my voorbeeld dui op ons verknogtheid aan prosedure wat ons gevange hou.

Kom ons kyk bietjie deur ’n vergrootglas na die wêreld om ons.

Wat sien jy wat ’n geleentheid bied?

Wat vind jy wat jou verras?

Kom ons wees oopkop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer