Weldoeners les Uis se groot dors padlangs
Vir inwoners van Uis was daar gister uitkoms ná tien dae sonder water.
Des Erasmus - Weldoeners van Hentiesbaai en Windhoek het toegetree tot die stryd om inwoners van Uis se dors te les.
Duisende liter water word in tenklorries na die geteisterde gemeenskap aangery.
Terselfdertyd is 'n kwotastelsel op Uis ingestel om elke druppel water te benut wat oor honderde kilometer na die dorp aangery word. Vir baie inwoners was dit gister uitkoms nadat van hulle langer as tien dae sonder 'n druppel water in hul huiskrane moes klaarkom. Van die weldoeners het nie net water gebring nie, maar ook onderneem om met NamWater te skakel om 'n probleem op te los wat nou reeds langer as 'n jaar voortsleep.
Die eerste tenkvragmotor met 20 000 liter water het gister van Hentiesbaai op Uis aangekom. Daar is dadelik begin om die water oor te pomp na die sewe tenks wat die afgelope weke die inwoners van water voorsien het. Die vragmotor met die watervrag was hulp wat deur die Lions van Hentiesbaai gelewer is, met van Hentiesbaai se grootste inkoopsentrums en motordiensstasies met deurnagwinkels wat ook honderde liters bottelwater geskenk het.
rantsoenering
Die tenkvragmotor van Hentiesbaai is deur mnre. Pieter Erasmus en Dawie Bronkhorst van die Lions in 'n ligte vragmotor ondersteun. Die bottelwater is op Uis by die Brandberg Ruskamp afgelaai waar rantsoenering onder toesig deur die eienaar, mnr. Basil Calitz, gedoen sal word. By die ruskamp is inwoners op een liter bottelwater per dag geregtig en daar moet vir die ontvangs van die water geteken word om toe te sien dat die lewensbron soveel huishoudings as moontlik bereik.
By die tenks sal inwoners van Uis ook tot 20 liter water per dag beperk word.
Op Uis is beweer dat 'n tweede vragmotor met 20 000 liter water gisteraand uit Windhoek na Uis sou vertrek om op 'n soortgelyke wyse bystand aan die dorp te verleen. Bystand kan nie van Omaruru as naaste dorp verwag word nie met dié dorp wat soos Uis 'n ernstige waterkrisis deurleef.
Op Uis het Erasmus aan Republikein gesê nog soortgelyke bystand kan van Hentiesbaai verwag word, maar dit is nie 'n blywende oplossing vir die probleem nie. Daarvoor sal NamWater moet sorg.
Die grootmaattenks vir water het op Uis 'n insteling vir waterlewering geword nadat Nai-Nais in die Omarururivier as waterbron van die dorp ingegee het. Op die dorp word wel beweer dat op 'n nuwe waterbron in die Omarururivier verwant aan die Nai-Naisskema afgekom is, maar dat die verouderde verspreidingstelsel na Uis ingegee het. Die geringe waterlewering op Uis is in die voorafgaande weke deur die dorp se eie tenkvragmotor uit 'n bron by Achinab in die Ugabrivier volgehou. Ook dié tenkvragmotor kon die diens as gevolg van meganiese defekte nie deurlopend volhou nie.
Die waternood het Uis se toerisme as ekonomise lewensaar 'n gevoelige slag toegedien. Op die gebied van toerisme is Uis 'n verversingstasie op die drumpel van die wondere van Damaraland en Kaokoland, maar op die dorp word restaurantdienste feitlik net op versoek volgehou wanneer groter groepe Uis op hul roetes aandoen.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie