Welkom by die fees van smulvrate!
Welkom by die fees van smulvrate!

Welkom by die fees van smulvrate!

Dani Booysen
’n Bietjie meer as N$10 miljoen in ’n begroting van sowat N$60 miljard – rente op bultende skuld uitgesluit – is tog ’n druppel in ’n emmer.

’n Skrale 0.017%.

Só sal die slimmes met die regering se abakus my seker kasty omdat ek durf hiervan ’n ophef maak.

Dis nie die punt nie, geagte ministers en jul staatsdienstrawante.

In die onlangse hersiene begroting moes finansminister Calle Schlettwein amper N$1 miljard se ontwikkelingsgeld na die bedryfsbegroting skuif sodat die regering se somme klop. Geld wat vir skole, hospitale, paaie en ander broodnodige infrastruktuur verlore is.

Maar nie ’n enkele sent is by enige begrotingspos vir verversings en onthaal gesny nie. Die kamerade en hul comrades het steeds meer as N$10,1 miljoen om in 2019-’20 op die “onthaal van politici”, “verversings” en “amptelike onthaal” te verkwis.

Die regering was nie bereid om selfs ’n simboliese sent vir hul gefuifery in te boet nie.

En dan’s hulle onthuts as ’n mens hulle fat cats noem. Of nóg meer beskrywend in Afrikaans: Boepense.

As dit my nie so de moer in gemaak het nie, sou dit snaaks gewees het: Onderwys se kapitaalbegroting is met sowat N$122 miljoen gesny sodat ’n bietjie van dié geld vir honger kinders in staatskole kan kos koop.

Maar in raadsale prut fêncy masjiene voort sodat die leiers rustig aan hul koffie kan teug terwyl hulle met die toekoms van Namibiërs speel. Kreun die tafels onder pikante peuselhappies wat verorber word wanneer selfvoldaan bladgeskud word oor nóg een of ander grootwoord-samewerkingsooreenkoms wat iewers op ’n rak gaan lê en stof vergader en g’n duit se verskil aan mense se alledaagse lewens gaan maak nie.

Dat die president, eerste minister en die ministerie van internasionale betrekkinge gaste seker meer as ’n koppie koffie en ’n soetkoekie moet aanbied, kan ek nog aanvaar. Maar dat die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling se verversings- en onthaalbegroting van meer as N$2 miljoen groter is as al drie bogenoemde swaargewigkantore s’n sáám, is verregaande!

Stedelike en landelike ontwikkeling moet onder meer sorg dat Namibiërs ’n bekostigbare en ordentlike dak oor hul koppe het. En nie toenemend in sinkhuise sonder lopende water, krag en toilette krepeer nie. En tog is dié ministerie se hele eet-drink-en-wees-vrolik-begroting sowat N$1 miljoen méér as dié van president Hage Geingob.

Dit is ’n godskreiende skande!

Hoewel etlike tienduisende dollar vir die meeste Namibiërs – ja, selfs die steierende middelklas – ’n spoeltoilet vol geld is, is daar ministeries wat oënskynlik probeer om die belastingbetaler se sente om te draai: Gesondheid (N$48 000 vir die jaar), grondhervorming (N$46 000) en vervoer (N$35 000).

En kan jy glo: Verdediging het geen verversings- en onthaalbegroting nie! Dis nou as die boeke reg is en dié geld nie – soos baie van verdediging se ander besteding – ’n geheim is nie.

Vir die ander ministers wil ek sê: Julle behoort julle te skaam!

Ry julle smiddae lekker in jul luukse ampsmotors verby bedelende straatkinders huis toe? Kruip julle lekker agter getinte ruite weg sodat julle nie die honger in hul oë hoef te sien nie?

Júl Namibiese huis is nie óns Namibiese huis nie.

Sies!

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer