Wenda oefen weer nu00e1 Covid-skok
Wenda oefen weer nu00e1 Covid-skok

Wenda oefen weer ná Covid-skok

Atletiek
Die 400 m-hekkiesatleet Wenda Nel het dié week tot die atletiekbaan teruggekeer nadat sy van Covid-19 herstel het.
Nel, wat Donderdag 32 geword het, kon haar Maandag die eerste keer in vier maande teen ’n stophorlosie meet, maar erken dat sy nog nie naastenby voluit kon hardloop nie.
“My hartklop is nog ’n bietjie hoog. Nie baie hoog nie, maar hoër as waaraan ek gewoond is,” het Nel luidens ’n verklaring gesê.
“Ek dink die beste vir my sal wees om dinge rustig te neem vir ’n week of so en sodoende my longe toe te laat om weer gewoond te raak aan die oefening. Ek kan dit in die stadium bekostig aangesien ek nie regtig enige planne het om dié seisoen deel te neem nie.
“Ek was baie gelukkig deurdat ek nie enige ernstige simptome van Covid-19 getoon het nie. Ek het net ’n deurlopende hoofpyn gehad, maar kan steeds nie die feit ignoreer dat ek die virus in my gestel gehad het nie.”
Dié Tuks-atleet is al sedert 2009 een van Suid-Afrika se uitblinkers in die 400-hekkies.
In 2010 is sy die eerste keer as die Suid-Afrikaanse kampioen gekroon en in die dekade wat gevolg het, het sy die plaaslike toneel oorheers.
Tussen 2011 en 2018 het sy nog sewe titels in dié nommer verower.
In 2015 het sy ’n sewende plek by die Wêreldkampioenskap in Beijing behaal, maar die hoogtepunt was sekerlik die bronsmedalje wat sy in 2018 by die Statebondspele in Australië se Goudkus gewen het.
Sy is egter steeds oortuig dat haar loopbaan op die topvlak van die sport nog nie verby is nie.
“Oor die afgelope maande is ek gereeld gevra oor my planne. Ek raai dat mense probeer uitvis of ek nog beplan om deel te neem. Die antwoord is ‘ja’,” het Nel gesê.
“Die plan is om nog een keer by die Olimpiese Spele te hardloop. Of dit wel volgende jaar by Tokio-Spele gaan gebeur, is iets wat nog gesien moet word, veral in hierdie tye van onsekerheid.”
Nel sê die inperking en die uitbreek van die koronavirus-pandemie het haar nuwe waardering daarvoor gegee om ’n atleet te wees.
“Dit was in die verlede maklik om te sê ons is dankbaar vir dit of dat. Dit is egter net wanneer iets van jou af weggeneem word, wat jy besef hoe baie dit vir jou beteken.
“Ek het nou meer waardering vir wat dit verg om ’n atleet te wees. Ek kan eerlikwaar sê dat ek meer gemotiveerd as ooit is,” het sy bygevoeg.

FOTO
Wenda Nel was die week terug op die atletiekbaan nadat sy positief getoets was vir Covid-19. Foto Reg Caldecott

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!