Wending kom in Ava-moordsaak
Wending kom in Ava-moordsaak

Wending kom in Ava-moordsaak

Die beskuldigde se prokureur het gesê hulle gaan 'n aansoek om evaluering tydens die volgende hofverskyning bring.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die prokureur van die jong vrou, me. Zenobia Seas, wat haar tweejarige dogtertjie, Ava Owoses, na bewering in 2016 wreed vermoor het, gaan eers­daags om psigiatriese waarneming aansoek doen.

Dít het gisteroggend in die hoërhof in Windhoek tydens die 33-jarige Seas se voorverhoor aan die lig gekom.

Sy het nie die sitting bygewoon nie omdat haar dokter aanbeveel het dat sy tot volgende Dinsdag in die bed bly.

Dié aanbeveling kom nadat Seas onlangs 'n operasie aan die kus ondergaan het. Die aard en omvang van die chirurgie is nie gister aan die hof bekend gemaak nie.

Mnr. Mpokiseng Dube, Seas se prokureur, sê hulle gaan die aansoek tydens haar volgende hofverskyning bring.

Sy is reeds vantevore deur kliniese sielkundiges waargeneem, het hy gesê.

Psigiatriese waarneming in strafsake het ten doel om vas te stel of 'n beskuldigde daartoe in staat was om ten tyde van die beweerde misdaad te besef hul dade is verkeerd en vervolgens tereg kan staan op die beweerde oortredings.



hof sal besluit

Sou die mediese ­kundiges bevind 'n beskuldigde het nie besef wat hulle glo gedoen het, was ­verkeerd nie, of is nie geskik om verhoor te word nie, berus die besluit by die hof of hulle saamstem of nie.

Seas word sedert die voorval by die polisiestasie in Narraville op Walvisbaai aangehou.

Sy het in Januarie vanjaar ook vlugtig in dié hof verskyn, waar sy uiteindelik tereg sal staan op aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg.

'n Vorige aansoek om borgtog in die landdroshof op Swakopmund het misluk. Seas, wat nog 'n dogter het, het nie Ava se begrafnis op die vakansiedorp bygewoon nie.

Omdat Ava in haar ma se sorg was toe sy 'n paar dae voor haar derde verjaardag 'n smoordood gesterf het, word die moordklag saam met die bepalings van die wet op die bekamping van huishoudelike geweld gelees.

Die moord op Ava anderhalfjaar gelede het destyds skokgolwe deur die land gestuur.

Luidens die klagstaat het Seas, wat in diens van 'n uraanmyn was, Ava op 26 September 2016 by 'n dagsorgsentrum in Mondesa op Swakopmund gaan afhaal.

Sy het daarna met die kind na die Blare-area naby Hentiesbaai gery waar sy haar na bewering in die motor versmoor het.

Daar word voorts in die klagstaat aangevoer Seas het daarna haar kleuterdogtertjie se kombers aan die brand gesteek en ook probeer om die motor met haar en Ava daarin aan die brand te steek.

Seas het na bewering ná die voorval verskeie staatsgetuies gekontak en hulle in kennis gestel dat sy die oorledene vermoor het.

Seas en Ava se pa, Immanuel Owoseb, was destyds romanties betrokke.

Tydens 'n roudiens in die hoofstad het die minister van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, biskop Zephania Kameeta, destyds gepleit dat 'n konferensie oor geestesgesondheid belê word.

Adjunkaanklaergeneraal Antonia Verhoef het namens die staat aangekla.

Regter Nate Ndauendapo het die saak tot Donderdag 22 Maart vanjaar uitgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!