Wenkbroue lig oor afluistertoerusting
Volgens navorsing deur die IPPR kan Namibiërs afgeluister word – al is dit nog nie wettig nie.
Augetto Graig - ’n Navorser verbonde aan die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), mnr. Frederico Links, het Dinsdag die uitslae van twee jaar se navorsing oor spioenasie in Namibië vrygestel.
Volgens dié navorsing koop Namibië spioenasietoerusting en sagteware van die Verenigde Koningryk aan ondanks die feit dat toepaslike bepalings van die kommunikasiewet nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie.
Sonder dié deel van die wet mag die regering Namibiese burgers nie afluister nie.
Links sê volgens omstandigheidsgetuienis wat hy versamel het, duur dié praktyk egter voort.
Hy sê inligting van Westerse bronne is baie meer toeganklik as inligting van onder meer China, met wie Namibië ’n sterk band het, en wat tegnologie aan die land se selfoon- en inligtingsnetwerke, MTC en Telecom Namibia, verskaf.
Van die toerusting wat Namibië die afgelope jare aangekoop het, sluit in tegnologie om selfoonseine te onderskep, asook sagteware wat soos ’n selfoontoring werk om die afluister van gesprekke en onderskepping van SMS’e te vergemaklik.
Die onderskepping van digitale kommunikasie is volgens Links ’n sentrale punt in wêreldwye gesprekke oor die vordering van internet- en kommunikasietegnologie.
Hy het na ’n onlangse verslag van die Verenigde Nasies (VN) oor digitale samewerking verwys, waarvolgens die monitering van kommunikasie tussen burgers ’n gebrek aan vertroue in die betrokke regering veroorsaak.
Links het gesê van sy kollegas in Afrika was slagoffers van digitale onderskepping deur hul regerings, en dat van hulle steeds vervolg word.
“Dit is ’n baie sensitiewe en ernstige kwessie,” het hy gesê.
In Namibië is veral in 2018 berig oor die wanbesteding van belasting en bedrog onder die dekmantel van “nasionale sekuriteit”.
Links het verwys na ’n hofsaak verlede jaar waarin die Namibië Sentrale Intelligensiediens (NCIS) ’n plaaslike weekblad wou muilband sodat hulle nie soortgelyke inligting publiseer nie.
Volgens hom het Namibië se regering oënskynlik ’n “obsessie” met sekuriteit, maar terselfdertyd ’n tekort aan aanspreeklikheid.
“Daar is geen toesig, geen deursigtigheid, geen aanspreeklikheid, en ’n ingesteldheid van verhewenheid bo die wet,” het hy gesê.
“Hoewel die regering die bestaan van onderskeppingsentrums ontken, koop staatsamptenare toerusting en hardeware hiervoor aan,” het hy gesê.
“Waarneming en dophou gaan oor beheer en intimidasie, wat duidelik in lande met ’n obsessie daaroor, soos China, gesien kan word. Die gebruik hiervan wat nasionale sekuriteit betref, is geldig, maar sonder funksionerende toesig en deursigtigheid veroorsaak dit net misbruik,” het hy gesê.
“Instansies wat buite die wet en die grondwet werksaam is, is onaanvaarbaar,” sê Links.
Volgens hom het ander lande soos Suid-Afrika en die VSA wetgewing wat beperkte deursigtigheid van staatsveiligheidsinstansies afdwing.
“Die NCIS is veronderstel om van tyd tot tyd verslag te doen aan die parlemente staande komitee op sekuriteit en veiligheid oor hul aktiwiteite, maar dit is nog nooit gedoen nie.
“In Namibië het ons geen toegang tot hierdie inligting nie. Ons weet niks, nie eens wie toesig oor hierdie instansies moet hê nie, wat kommerwekkend is,” het hy gesê.
Wie afgeluister word, wek boonop kommer.
Met Namibië se wêreldwye reputasie as vreedsame land sonder noemenswaardige voorvalle van terrorisme of radikalisme volg dit dat uitgesproke burgers, opposisie-politici en uitdagers van die land se leierskap eerder as bedreiging vir nasionale sekuriteit gesien sal word en afgeluister mag word, het hy gesê.
“As hierdie tegnologie ontplooi word, teen wie word dit ingespan?
“Is burgerlike organisasies of die media nou die bedreiging vir nasionale sekuriteit?” het hy gevra.
“Dit gaan alles daaroor om mense in toom te hou,” sê hy.
Prof. André Dupisani het Links by die geleentheid geloof vir sy navorsing en die debat wat daaruit spruit.
“Daar ís monitering, en die probleem is ons voer nie debat daaroor nie,” het Dupisani gesê.
Mnr. Stanley Simataa, minister van inligting en kommunikasietegnologie (ICT), het die voorstel ontken dat die regering die toepassing van sekere bepalings van die kommunikasiewet vertraag.
“Ons is in die proses om dit te hanteer,” het hy gesê.
Simataa het gesê die betrokke regulasies sal binnekort in die Staatskoerant gepubliseer en geïmplementeer word.
Op die vraag of Namibië dalk China se voorbeeld wil volg deur sy burgers 24 uur per dag dop hou, het Simataa gesê: “Nee! Ons aap nie ander na nie. Ons is ’n onafhanklike land wat doen wat reg vir die land is.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie