Werk aan ou kragstasie vorder fluks

Sport- en ontspanningsgeriewe uit die boonste rakke beplan
Richard Fryer
Richard Fryer

“Lüderitz is gereed om uit te brei – beide in terme van grootte en in sy vermoë om noodsaaklike dienste aan sy inwoners, toeriste, besoekers en be­leggers te lewer.”
So sê die hoof uitvoerende beampte van die Lüderitz Waterfront Ontwikkelingsmaatskappy (LWDC), mnr. Samuehl Fluksman, met verwysing na die herontwikkeling van die ou kragstasie op die dorp.
Bouwerk het in Junie 2013 begin teen ’n beraamde koste van N$260 miljoen wat deur die ministeries van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, visserye en mariene hulpbronne, asook sport, jeug en nasionale diens gefinansier word.
Na verwagting sal alle werk in Maart 2017 voltooi wees.
Die argitektuur weerspieël die strewe na ’n "nuwe begin" asook die Namib en die rotsagtige dele van die omgewing.
Die ou kragstasie is in 1911 tydens die diamantstormloop na die dorp gebou.
Destyds was dit een van die grootste geboue in die land. Oor die jare heen het die gebou vir jare leeg gestaan en was dit erg verwaarloos.
Die feit dat die gebou vier keer van eienaar verwissel het, het ook nie gehelp nie.
Die LWDC het die potensiaal in herontwikkeling raakgesien en eie­naarskap is in 2010 van die Lüderitz-dorpsraad na die LWDC oorgedra. Die besluit is geneem om dit in ’n sake-, ontspannings-, en toerismebestemming te omskep.
Sedertdien is groot veranderings aan die gebou aangebring. Dit sluit die eerste volwaardige satellietkampus van die Politegnikum van Namibië in. Ander geriewe in wording is onder meer ’n verhitte binnenshuise swembad, ’n ouditorium met 350 ­sitplekke, ’n basketbal- en netbalbaan, amfiteater, gimnasium, kroeg, kafee, restaurant en maritieme museum. Omdat die museum die potensiaal het om ’n trekpleister te wees en gefokus is op uitstallings oor visvang, handel en mynbou op see, gaan waardevolle maritieme artefakte en materiaal wat in die besit van die LWDC is, hier vertoon word.
Die projek sal dus noemenswaardig bydra tot die transformasie van Lüderitz – nie net as ’n studentedorp nie, maar as ’n kommersiële sentrum in die suide van Namibië.
“Die LWDC se doel is om gehalte infrastruktuur en ’n besigheidsomgewing asook uitstekende diens aan kliënte, toeriste en beleggers te bied,” het Fluksman gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!