Werk, houdings en verhoudings
Werk, houdings en verhoudings

Werk, houdings en verhoudings

Dani Booysen
Alle Namibiërs moet bekommerd wees oor hoe algemeen seksuele teistering en ander misbruike volgens nuwe navorsing by die werkplek voorkom.

Hoewel die omvang van die studie beperk was en net op huishulpe, die sekuriteitsbedryf en kleinhandel gefokus het, moet die uitslae nie onderskat word nie. 'n Meer omvattende ondersoek is gerade.

Geweld en seksuele oortredings vind nie sommer net by die werk plaas nie. Sulke gedrag is tekenend van diepliggende probleme in die samelewing, wat onder meer in misdaadsyfers weerspieël word. Die aflag en ignorering van vroue – en mans – se klagtes is 'n skryende aanklag teenoor die gemeen­skap.

Soos die verslag aanbeveel, behoort Namibië nuwerwetse metodes in werking te stel om vergrype by die werk – wat net soos by die huis en elders dikwels nie aangemeld word of tot optrede lei nie – te beveg en te voorkom.

Data toon meer as 90% van deelnemers beskou dit as hul hoof se reg om hulle te beledig. Meer as die helfte (54%) het gesê hulle is al verskree, terwyl 28% al beledig is. Sowat 'n derde het geantwoord hulle was al slagoffers van rassisme of stamgebondenheid.

Meer as 'n derde (36,7%) het gesê hulle haat dit om werk toe te gaan. Verbeel jou die negatiewe invloed op produktiwiteit.

Die werk is 'n plek waar mense soms warm onder die boordjie sal raak. Die toets van ons waardes is hoe ons houdings en optrede in sulke gevalle goeie verhoudings eerste stel.

'n Ekonomie sal die beste vaar as ons werk plekke van respek, veiligheid, groei en erkenning is.



So sê ander

23 September 2019



Britse oë op Boris-uitspraak



'n Uitspraak van die Britse hooggeregshof vandeesweek kan 'n belangrike nuwe hoofstuk tot die land se ongeskrewe grondwet voeg.

Die saak is aangespan nadat Boris Johnson, Britse premier, die parlement vyf weke lank geprorogeer het.

Waaroor die regters dus moet besluit, is of Johnson die waarheid praat as hy sê die prorogering het met die voorbereiding vir die troonrede te make en of dit in der waarheid oor Brexit gaan, soos die ander kant aanvoer.

Dieper bekyk, gaan dit hier eerder oor die vraag wie die kitaar in Brittanje slaan – die premier of die parlement.

Dis heeltemal onmoontlik om te weet wat die regters gaan besluit. Wat 'n mens wel sonder twyfel kan sê, is dat die uitspraak rigtinggewend in die Britse staatsreg gaan wees.

Indien hulle téén Johnson beslis, sal hulle 'n nuwe element tot die Britse grondwet voeg.

Dié ongeskrewe grondwet berus naamlik op gewoontereg, en 'n uitspraak van die hooggeregshof kan dus wel vir dekades deeglik beslissend wees, dalk vir die volgende eeue.

Almal se oë is dus vandeesweek op 11 mans en vroue in togas en pruike gerig.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer