Werkers 'n risiko óf bate vir plaasveiligheid

Arbeidsbestuur van kardinale belang
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Plaaswerkers kan ‘n bate of ‘n risiko in plaasveiligheid wees - dit hang tot ‘n groot mate van jou bestuur af, wat goeie arbeidspraktyke en die bou van wedersydse vertroue behels.”

Intelligence Support Against Poaching (Isap) se mnr. Faan Oosthuizen het op Dinsdag 12 Junie tydens die 31ste jaarkongres van die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) ‘n praatjie oor die rol van plaaswerkers in die sekuriteit van plase gelewer.

Volgens hom is ‘n noukeurige keuringsproses wanneer jy plaaswerkers aanstel, asook die toepassing van behoorlike arbeidspraktyke en die handhawing van goeie werksverhoudinge van kardinale belang.

Dit lei tot die opbou van wedersydse vertroue, wat beteken jy kan jou werkers in jou plaasveiligheidsplan betrek.

VIER LYNE VAN VERDEDIGING

Oosthuizen het verduidelik elke plaas het vier lyne van verdediging en dat plaaswerkers toegang tot hulle almal het.

“Die vierde lyn lê buite die grense van jou plaas en het te doen met wat in jou streek en in die land aangaan – watter bendes in jou omgewing werksaam is, die buurtwag, jou bure en jou boerevereniging.

“Die derde lyn van verdediging is jou plaasgrense, die paaie waarmee daar toegang tot jou plaas verkry kan word, die waterpunte asook ander sleutelpunte op jou plaas,” het hy gesê.

“Die tweede lyn is jou plaashuis, sekuriteitstoebehore, die ontwerp van jou erf, plaaswerkers se huise, water- en ander belangrike punte, alarms en elektriese heinings.

“Die laaste lyn van verdediging is jyself, die diefwering voor jou vensters en deure, ‘n alarm in die huis en jou honde.”

Oosthuizen het gesê elke boer behoort sy eie vier lyne van verdediging te analiseer om te bepaal hoe kwesbaar hy werklik is. “Die punt is, jou plaaswerkers het toegang tot al vier hierdie verdedigingslyne en hulle ken jou veiligheidsplanne – of die gebrek daaraan – in detail.”

ELIMINEER DIE BEDREIGING

Oosthuizen sê ‘n noukeurige keuringsproses wanneer boere plaaswerkers aanstel, is van uiterse belang.

“Ek weet dit is baie moeilik, maar jy moet probeer om ‘n potensiële werker se verwysings behoorlik na te gaan. Pas behoorlike arbeidspraktyke toe, handhaaf goeie werksverhoudinge en bou aan wedersydse vertroue.”

“Hy het gesê boere moet voorafopgestelde kriteria hê waarvolgens hulle werkers aanstel. “Dit sluit in die karaktereienskappe, vaardighede en ervaring wat jy in plaaswerkers soek. Moenie net enige een wat aangestap kom en werk soek, aanstel nie.”

Oosthuizen sê die nagaan van verwysings is moeilik, maar noodsaaklik. “Pols ‘n werker tot jy name van vorige werkgewers uit hom kan kry. As jy uitvind hy het vir jou gejok oor vorige werkgewers, moenie hom dit oorsien nie. As jy vind jy kan nie sy verwysings nagaan nie, moet jy hom ook nie aanstel nie.

“Maak seker hy het die nodige dokumentasie – as hy nie vir jou 'n geboortesertifikaat of identiteitsdokument kan wys nie, moet hom nie aanstel nie,” het hy gesê.

Oosthuizen het gesê dat dit ook kan help om ‘n polisieklaringsertifikaat te vra, want ‘n plaaswerker het toegang tot jou bates wat baie waardevol kan wees. “Waar jy met byvoorbeeld renosters boer of met soortgelyke kritieke bronne werk, kan jy dalk vereis dat potensiële werkers eers ‘n leuenverklikkertoets ondergaan.

“Daar was min kere in hierdie land wat ‘n renoster gestroop is en wat die inligting nie van binne die plaas gekom het nie,” het Oosthuizen gesê.

Hy het voorgestel dat die Namibië Landbou-unie (NLU) se lede byvoorbeeld ‘n databasis opstel van plaaswerkers omdat dit as ‘n baie handige hulpmiddel vir boere kan dien.

Alhoewel voormalige werkgewers nie iets negatiefs oor werkers daarop kan plaas nie, kan hulle, soos in die korporatiewe wêreld, geen kommentaar oor die persoon se werksetiek lewer nie en slegs vermeld dat die persoon vir hulle gewerk het en die tydperk van dienslewering aandui.

GOEIE ARBEIDSPRAKTYK

Oosthuizen sê goeie arbeidspraktyk is baie belangrik. Dit behels dat werkers se rekords op datum gehou word en dat hulle ‘n posbeskrywing met ‘n aangehegte dissiplinêre kode en -prosedure ontvang as hulle aangestel word.

“Laasgenoemde is deel van ‘n dissiplinêre proses wat jy kan volg indien nodig. Dit kan ook die werker help dat hy weet wat om te verwag as hy ‘n klein oortreding begaan het. Dit maak die arbeidswet makliker, die proses meer vaartbelyn en bied sekuriteit vir ‘n plaaswerker,” het hy gesê.

“Doen voortdurende opvolgbeplanning sodat werknemers kan sien wat hul toekoms op die plaas is en sodat hulle nuwe vaardighede en opleiding kan ontvang. Dit moet vir hom duidelik wees dat jy ‘n pad saam met hom stap,” het Oosthuizen gesê.

Oosthuizen sê dit is nodig om wedersydse respek by jou plaaswerkers op te bou.

“Regverdigheid is noodsaaklik. Dit is die goue draad in die pad wat jy met jou werknemers stap.

“Ons sit met radikaal verskillende kulture in een land wat dit moeilik kan maak om almal eensgesind te kry. In die meeste werknemers se kulture moet die werkgewer byvoorbeeld eerste groet. Dieselfde geld as dit by werkstempo kom; dit is ‘n kulturele ding.

“Behou ook jou humor – dit kan die hardheid van ‘n werksomgewing versag,” het hy gesê.

WEDERSYDSE VERTROUE

Oosthuizen het gesê al die bogenoemde faktore bou vertroue.

“Waarmee is jy besig? Jy is eintlik besig om seker te maak jy kan jou plaaswerker vertrou. Onthou, hy het toegang tot al jou lyne van verdediging.

“As jy al hierdie dinge noukeurig doen, dra dit by tot die ontwikkeling van wedersydse vertroue. Dit is noodsaaklik dat werknemer en werkgewer mekaar vertrou.

“As jy enigsins voel dat jy ‘n werkgewer nie kan vertrou nie, moet jy hom volgens ‘n sekere prosedure afdank. Hy kan vir jou baie groot skade berokken. Weeg die pyn en lyding op wat ‘n onbetroubare werker jou kan berokken teen die moeite om die regte prosedure te volg.”

Hierdie is egter alles net voetwerk voor jy by die opstel van ‘n plaasveiligheidsplan kom.

PLAASVEILIGHEIDSPLAN

Oosthuizen sê ná die opbou van vertroue, moet boere hul plaaswerkers by hul plaasveiligheidsplanne betrek. Hy het verwys na ‘n veiligheidsraamwerk wat tans deur die NLU vir plase ingestel word.

“Wys sekere sekuriteitstake toe aan jou onderskeie werkers. As die alarm afgaan, dan moet elkeen weet wat hy moet doen. Elke werknemer moet sy eie, spesifieke sekuriteitstaak kry. Lei hulle op in veiligheidaspekte.”

“Hulle is jou bron van inligting, jou oë en ore en kan help om jou bates te beskerm.

“Hulle kan plaaspatrollies doen. Jy en jou seun moet dit nie net op die motorfiets, op die perd of in die bakkie doen nie; laat jou werkers weet hulle is besig met patrollie selfs waar hulle in die veld werk. Hulle is jou heel beste spoorsnyers.”

Oosthuizen het gesê plaaswerkers kan jou bystaan in ‘n plaasaanval en ook betrokke wees in die opvolgwerk wat ná ‘n aanval gedoen moet word.

“Dit sluit in om spore te volg – hulle ken die veld en ken jou plaas,” het hy gesê.

“Kry vir jou ‘n span wat jy genoeg kan vertrou sodat hulle deel van jou plaasveiligheidsplan kan wees – so kan hulle vir jou ‘n groot bate wees. Boonop is hulle ook kwesbaar en kan ook skade in ‘n plaasaanval ly.

“Jy moet ook gebruik maak van die inligtingsnetwerk waartoe jou plaaswerkers toegang het. Jy, met al jou konneksies soos byvoorbeeld met die bure, die LWV en die boerevereniging, het steeds nie naastenby soveel inligting soos jou plaaswerker op sy selfoon nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer