Werkgewers sleep regering hof toe
Werkgewers sleep regering hof toe

Werkgewers sleep regering hof toe

Die nuwe arbeidsregulasies is ’n doodskoot vir die ekonomie, meen ’n ontleder.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

’n Swaargewig regspan het opdrag om voor die einde van Mei die “drakoniese” Covid-19-arbeidsriglyne in die hof te betwis wat werkgewers verbied om mense af te lê of hul werkskontrakte te beëindig.

Dit is gistermiddag deur mnr. Daan Strauss, president van die Namibiese Werkgewersvereniging (NEF), bevestig.

Dit volg ná die publikasie laat Dinsdag van ’n proklamasie in die Staatskoerant waarin pres. Hage Geingob die bepalings van sekere wette en verordeninge, insluitend die arbeidswet, ingevolge die noodtoestand opgeskort het.

Dit beteken die arbeidsregulasies wat die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping vir publikasie in die Staatskoerant voorberei het en wat verlede week deur minister Utoni Nujoma aangekondig is, het van krag geword.

Benewens die feit dat werknemers nie as gevolg van die pandemie se verreikende impak op sakeondernemings afgedank of afgelê mag word nie, mag hulle ook nie gedwing word om onbetaalde verlof of hul jaarlikse verlof te neem nie.

Werkgewers mag ook nie hul werknemers se salarisse verminder sonder onderhandelinge met vakbonde of werknemerverteenwoordigers nie. In die afwesigheid van hierdie bemiddelaars, moet gesprekke met die werknemers self gevoer word.

As die werkgewers en die werknemers ’n ooreenkoms bereik het, moet die stawende dokumentasie by die arbeidskommissaris ingedien word.

Indien werkgewers vóór die inwerkingtreding van hierdie regulasies mense in hul diens afgelê het, moet hulle weer aangestel word.

Voorts bepaal die regulasies ook sou ’n werknemer ’n familielid hê wat coronavirussiekte opgedoen het nie na hom- of haarself kan omsien nie, moet siekverlof aan die werknemer toegestaan word. As die siekverlofdae uitgeput is, moet dit verleng word.

In die lig van die proklamasie is ’n virtuele vergadering wat op versoek van die werkgewersliggame Maandagoggend met die arbeidsministerie en vakbondleiers gevoer sou word en op versoek van die ministerie na gistermiddag uitgestel is, afgelas.

Mnr. Eben de Klerk, arbeidsontleder en eienaar van ISG Consult, sê met dié proklamasie het die regering die land se enigste hoop op ekonomiese oorlewing, naamlik die private ondernemings, ’n doodskoot toegedien.

“Hoe meer besighede vou, hoe meer mense gaan sonder werk sit,” sê hy.

Die NEF het gister in ’n verklaring gesê sy motief vir die vergadering is deur die afgekondigde proklamasie “nietig gemaak” en daarom het die raad besluit om dit te kanselleer.

Die NEF sowel as die Namibiese Werkgewersvereniging (NEA) het die feit dat hulle nie vooraf oor die voorgenome regulasies geraadpleeg is nie, skerp veroordeel. Dit was juis met die oog op behoorlike konsultasie dat hulle die virtuele vergadering met die ministerie en vakbondleiers versoek het.

Strauss het gister aan Republikein gesê ’n swaargewig regspan onder leiding van mnr. Frank Köpplinger en adv. Raymond Heathcote, SC, se onmiddellike taak is om soveel moontlike data oor die finansiële implikasies van die regulasies op die sakewêreld met die oog op die hofaansoek in te samel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!